Tuesday, November 26, 2024

So is die Lewe: ‘n Pastorie is nie vir sissies nie

Bookmark
Bookmarked

Feitlik alle dorpe in Suid Afrika, (natuurlik ook die stede), het imposante kerkgeboue. Dikwels is die kerk die eerste ding wat jy sien wanneer jy die dorp inry. Op die Kimberley-Griekwastad pad kyk jy nog na die kaal veld, dan doem daar skielik hierdie reuse kerktoring voor jou op, en skielik ontvou ‘n hele gemeenskap voor jou: die pragtige kerkgebou, die dorp, die enkele hoofstraat. Jy moet net nie te veel rondkyk nie, dan is jy weer uit die dorp uit.

So kan jy maar in enige dorp in Suid Afrika gaan kyk.  Die kerkgeboue is treffend, soms byna oordadig, en baie van hulle gebou in moeilike tye, soos die Anglo-Boereoorlog en tydens die depressie.  Die gemeentelidmate het hard gewerk, en ruim bygedra. Plooysburg se kerkgebou, wat in 1895 opgerig is, is gebou op ‘n plaas van 1700 hektaar wat ‘n mnr. Moller aan die gemeente geskenk het.  Met ‘n paar bepalings in sy skenking: die plaas mag nie onderverdeel word nie, daar mag nie ‘n drankwinkel wees nie, en slegs lidmate word toegelaat om daar nagmaalhuisies te besit.  Die grond behoort steeds aan die kerkraad.

Ook Nuwerusgemeente het baie grond wat uit ‘n erflating kom. Behalwe vir die massiewe terrein waarop die kerkkompleks en pastorie gebou is, is hier ook drie begraafplase, ‘n sportveld, en ongeveer 20 hektaar boerderygrond teenaan die groot begraafplaas.  Hulle oornagkamers vir nagmaalgangers is intussen verkoop, en is tans die enigste gastehuis op die dorp. Dan besit die gemeente ook geboue wat as kerke gebruik word in buitedienste, soos in Bitterfontein. 

‘n Interessante verskynsel is dat daar op vele kerktorings ‘n hoenderhaan pryk. Skynbaar is die betekenis daarvan dat dit die gemeente deurentyd vermaan om nie vir Jesus voor die wêreld te verloën, soos wat Petrus gedoen het nie. Ek het eendag vir ‘n groot vriend van my wat op Buffeljagsrivier predikant was, se klein dogtertjie gevra wat soek die hoenderhaan op die toring?  En ewe kontant antwoord sy my vinnig: “Hy is daar om die Here te loof en prys.” Geen wonder sy het vandag ‘n LLB-graad nie.

Die pastories is net so indrukwekkend. In baie dorpe op die platteland is dit die grootste huis in die hele dorp. Die ou dominees het skynbaar of nie huisbesoek gedoen nie, of te perd dae lank weg gewees van die pastorie af om lidmate te besoek.  Daarom het die meeste pastories baie kamers, want daar was baie kindertjies.  Baie besoekers ry verby so plattelandse kerk en pastorie, en “oe” en “aa”, en neem fotos. Veral in Griekwastad het dit dikwels gebeur, gesien teen die verlede se gebeure.

Maar ‘n plattelandse pastorie kan ‘n lewensgevaarlike plek wees. My eerste aand in die pastorie hier in Nuwerus, so op my eie, sien ek hierdie mater met twee groot skêre in sy hande, en ‘n gekrulde stert wat na my toe wys.  Natuurlik het ek geweet dis nie ‘n haarkapper nie, maar ‘n skerpioen. En ek, synde ‘n liefhebber van die natuur, besluit om hom eerder met handdoekpapier te vang en buite vry te laat. Ek was nie bedag daarop dat hy my wou steek nie. Gedog dis maar net verwelkomingsbesoek. Natuurlik is hy baie vinniger as oudominees van die ou pastorie, en steek my op my middelvinger toe ek hom wou vang.  Ek het nie eers die vinger vir hom gewys nie. Ek het aan die eiendomskommissie verduidelik dat hulle skerpioen ongelukkig gesneuwel het in ‘n kontak met ‘n (baie) oud-soldaat, maar dat ek hom sou vervang. 

Skaars ‘n paar aande daarna gaan my twee worshonde te kere om 23:30 in die aand.  Aanvanklik het ek vermoed dis skelms, maar toe is dit sowaar die eerste kryger se opvolger.  Ook hy het toe ongelukkig verhuis na weivelde met groter klippe om onder weg te kruip. Nou maak die name in die omgewing vir my meer sin.  Knersvlakte. Bitterfontein, Moedverloor. Hardeveld. Ook in ‘n ander plattelandse pastorie moes ek een nag 03:00 70 kilometer ver hospitaal toe jaag met my oudste seun, wat toe nog maar ‘n kleuter was. Een van die giftige skerpioene het hom gesteek. Die liggaamlike oorskot van die skerpioen is toe ook saam in ‘n leë bottel ter identifikasie, en om die regte behandeling toe te pas.

In ‘n ander plattelandse pastorie op ‘n plaas, was ons ook dikwels getraumatiseer deur indringers. Nou wel nie indringerspesies nie, maar nie-pastoriebewoners. So het een van die kinders gegil omdat daar ‘n “groot akkedis” in die toilet was.  Wat toe, tydens blitsige navorsing deur my gedoen, geblyk het ‘n likkewaan te wees. Dit was ‘n gesukkel om hom uit te kry, amper soos Tolla van der Merwe se storie oor die seekat wat in die bad vasgesuig het. 

So was daar menige groot plat spinnekoppe, ook vlermuise. My kinders kon meesterlik ‘n vlermuis in volle vlug met ‘n raket verwyder.  Hulle sou Springbok-kleure in pluimbal kon kry.

Dan die mees traumatiese van ‘n plattelandse pastorie. Slange. Veral pofadders en Kaapse kapelle, ook genoem geelslange.  Ons eerste kennismaking met ‘n slang was toe so maaaeer ou slangetjie die budjiehok ingekom het waarin oorlede oupa en ouma se lieflingsbudjies so pas nog koppie-krap geskreeu het. Hulle het soos twee uitstulpings in die slang se lyf gelê nadat hy hulle gulsig ingesluk het. Tydens ‘n besoek van familie van Pretoria lê daar toe ‘n geelslang onder die die bank in die sitkamer. Konsternasie en naakte vrees! Daarna het hulle elke jaar op ons uitnodiging gesê: “Dit sou heerlik wees om kersfees by julle te kom kuier, maar ons het reeds ander planne gemaak.” 

Daar is een slangepisode waarin ek my vandag nog verkneukel.  My kinders, wat eintlik op ‘n plaas groot geword het in die plattelandse gemeentes, was vinnig om my te kom roep as daar ‘n slang naby die huis was.  So kom die benoude stemmetjies: “Pappa, daar is twèè slange hier op die stoep. Twee pofadders! Hulle lê so langs mekaar!”  Ek het toe met my pompaksie-haelgeweer, wat die effektiefste verdedigingswapen was, twee skote geskiet om die slange se koppe te vermorsel voordat hulle my of my gesin in die hakskeen byt. Bybelse opdrag, gaan lees maar in Genesis.

Toe die skote klap, swerm die hele dorp pastorie toe om te kom kyk wat gebeur het.  Die koshuiskinders, die polisiemanne, die tannie by die winkel, die werkers wat skoffel, mense met looprame en kieries, almal. Dit lyk soos nagmaal op Sannieshof. My buurman, afgetrede skoolhoof, was ook daar.  ‘n Ware heer vir wie ek oneindige respek het. Korrek in sy optrede, besadig, praat suiwer Afrikaans sonder enige kru woorde, waardige ouderling en gerespekteerd.  Almal spekuleer waarom die twee pofadders so teen mekaar gelê het. Toe sê een oom, afgetrede boer wat die natuur en veld baie goed ken, dit is paarseisoen vir slange. Hulle was besig om ‘n ander opdrag in Genesis op hulle manier te gehoorsaam:  “wees vrugbaar, vermeerder en vul die aarde.”

Sê my waardige buurman: “Ai dominee, kon jy nie maar bietjie gewag het voordat jy hulle geskiet het nie?”