Tuesday, November 26, 2024

So is die Lewe: Gawe mense, die Jansens

Bookmark
Bookmarked

Ons word deesdae oorval met advertensies en SPAM-oproepe wat allerande nonsens aan ons wil afsmeer. As ‘n jongeling my bel en sê: “Marius! Hoe goed gaan dit vandag?”, druk ek summier die selfoon dood en veg teen die impuls om dit oor die muur of by die kar se venster uit te gooi. So ook is daar op televisie en radio baie advertensies wat jou gemoed bemors.  Ek is nie seker of daar dalk een of ander verskuilde prys is vir die mees irriterende advertensie nie.

Maar tog is daar advertensies wat vassteek na baie jare.   Soos die knorrige ou man wat  Cremora soek, en dan sy vrou snedig naboots op haar antwoord: “It’s not inside, it”s onnnn…top.”  Of die advertensie van die ou wat dringend motorolie soek daar by ‘n verlate garage in die Kalahari en Boet en Swaer wat daar op die stoep sit geen toet of blaas verstaan wat hy bedoel met can of the best nie.

Die een advertensie wat jare terug op die radio was waaraan ek nogal dikwels dink, is die van twee egpare wat een aand saam gekuier het. Die advertensie begin dan as hulle mekaar groet, en die gaste wegry. Dan kom die gesprek in die motor van die vertrekkende gaste: “Gawe mense, die Jansens” sê die vrou, “net jammer dat onaangename reuke hulle woning bederf!”  Dan sê die man” Daardie kombuis!” Die vrou reageer dan: “En die ander kamers!”

Hierdie advertensie laat mens onwillekeurig peins oor watter gedagtes jy nalaat in ander mense se koppe, hetsy na ‘n gesellige saam-eet, of by die werk, of skoolbyeenkoms, of selfs by die kerk. Wat sê hulle van jou as hulle so wegry van daar af? Vriendelike outjie, maar…  Hy praat te veel.  Sy praat net oor haarself.  Hy het geen sin vir humor nie.  Sy is koud en afsydig, of hoogmoedig. Et cetera. Of dalk nog ‘n hele klomp ander goed waaraan jy in jou wildste verbeelding nie eens sou dink nie.

Hoe wil jy hê moet mense jou beleef en onthou?

Ek lees die verhaal van ‘n Jood wat in 1927 gebore is in Munkach, Pole as Shlomo Zulman.  Hy is so klompie jare terug oorlede in Los Angeles, waar hy na die Tweede Wêreldoorlog gaan woon het en sy naam verander het na Saul Teichmann. Hier het hy bekend geword as ‘n baie suksesvolle sakeman, filantroop, maar veral iemand wat ‘n oop hand gehad het vir almal wat swaarkry of hulp nodig het. Hy het verskeie organisasies in sy naam gestig wat hulp verleen het aan alle noodlydendes.  Hy was bekend as “the man with the open hand, always giving, and you never left his house empty-handed.”

Iemand het hom op ‘n stadium gevra waar sy passie vir noodlydendes vandaan kom. Toe vertel hy dat hy in 1944 in ‘n beestrok saam met ‘n klomp ander Jode vervoer is na die Joodse konsentrasiekamp Auschwitz, en in ‘n lang tou gestaan het om te hoor wat nou met hulle gaan gebeur. Terwyl hy daar staan, het ‘n maer man met ‘n lang baard en ‘n gestreepte gevangene-oorpak na hom toe gekom.  Hy het hom van geen kant af geken nie.  Die man vra hom toe: “In watter jaar is jy gebore?” Teichmann het geantwoord: “In 1927.  Die onbekende man het gesê: “Nee, jy is gebore in 1925. Teichmann het gesê: My pa het gesê ek is gebore in 1927.  “Jou pa het ‘n fout gemaak,” het die ou man gesê. “Onthou, jy is gebore in 1925.”   “Trust me, you were born in 1925.”

Toe Teichmann voor in die tou kom, het die berugte Nazi-dokter, Josef Mengele, die sg. Engel van die dood, hom gevra: “Wanneer is jy gebore?” “In 1925”, het Teichmann gesê. Mengele het met sy vinger gewys dat hy na die regterkantste groep moes gaan.  Dis diè groep wat in die strafkampe moes gaan werk. Later het hy uitgevind dat almal wat in 1927 en later gebore is, reguit na die gaskamers gestuur is om te sterf.

Daarom het Teichmann later jare dikwels gesê: “My wens vir myself? Ek het ‘n engel gehad in Auschwitz wat my uit die dood in die lewe geplaas het.” Die Joodse woord wat hy gebruik het, is malach, engel.  “Daarom wil ek ‘n engel wees vir alle mense in hulle donker oomblikke.  Daarom gaan niemand by my weg sonder dat ek vir hulle iets gee nie.  Moed, liefde, hulp, hetsy finansieel, emosioneel of geestelik.  Niemand sal by my in sy donkerte gelos word nie. Dis my lewenstaak: Ek wil ‘n engel wees vir ander mense. Want ek het een gehad.”

Wat los jy agter?

Al wat saak maak: wees ‘n engel vir iemand in hulle donkerte.