Tans is een gonswoord besig om paniek in ons land en oor planeet aarde te laat woed soos ‘n veldbrand in droë gras: Corona. Wat aanvanklik onbeduidend was, het oornag paniek gesaai in baie lande, in so mate dat drastiese reëlings in Suid Afrika aangekondig is om die verspreiding daarvan te bekamp, net soos in vele ander lande. Die voorkoms en simptome van die virus word wyd gepubliseer. 162000 mense wêreldwyd is huidig geinfekteer.
Wat baie insiggewend is, is die emosies rondom Corona. Sosiale media is ‘n kragtige medium om mense óf valslik gerus te stel dat die virus sommer maar ‘n nietigheid is, niks erger as ‘n ligte griep nie, óf die hele saak word totaal uit verband geruk. So het een Watsapp-boodskap die uitbreek van die virus geproklameer as die Derde Wêreldoorlog wat aangebreek het, en wat in ‘n fabriek in China gefabriseer is. Die ontvangers van die boodskap word ten sterkste aangeraai om hulle watervoorrade aan te vul, gasapparate gereed te kry, medisyne, ammunisie en kosvoorrade vir twaalf maande op te gaar.
Interessante gedagte, diè van kosvoorrade, as in ag geneem word dat die meeste gemiddelde huishoudings fyn moet begroot om die basiese kosvoorrade vir een maand aan te koop. Ook radioprogramme spandeer baie tyd aan inbelprogramme waar mense soms opinies lug wat grens aan die absurde oor die Coronavirus. ‘n Oom verklaar hard en duidelik op RSG dat God die virus in China laat begin het omdat hulle nie in die Bybel glo nie, en ons moet sien wie gaan sterf. Hyself gaan nie geinfekteer word nie, omdat hy ‘n Christen is, meen hy.
Die staatspresident se keuse was openlike inligting en kommunikasie. Kerke en mense vanoor die hele bevolkingspektrum in Suid Afrika moet duidelik hiervan kennis neem. Die mees weerloses in die samelewing moet geidentifiseer word, en deur ‘n kalm benadering moet die uitdagings, waarvan daar vele is, aangepak word. Dink maar aan die totale onmoontlikheid om geinfekteerde mense te isoleer wat in ‘n plakkergemeenskap woon waarin tot tien mense in ‘n sinkhuisie bly wat een meter van die omringende sinkhuisies af staan. Of die reeds oorlaaide klinieke en staatshospitale wat oorstroom word deur nuwe aanmeldings. Maar, om voortdurend klem te lê op die moontlike skrikwekkende scenarios, en allerande strooipoppe op te stel, gaan ‘n verwoestende uitwerking hê op die psige van Suid Afrikaners.
Negatiewe emosie is ‘n verwoestende fenomeen. Om vooraf gebeure te voorspel op grond van wat moontlik kan gebeur, kan alle rasionele denke, selfs geloof, by die venster laat ontsnap. Uiteindelik moet selfs die mees nugtere denke, selfs ook goeie teologie, swig voor die onblusbare vlam van emosie.
Ek het dit baie duidelik gesien by die sitting van die Algemene Sinode van die NG Kerk in 2004 in Hartenbos. Daardie hele week was spanning aan die opbou oor die een saak wat fel emosies wakker maak: die kerk se amptelike beleid teenoor persone met ‘n homoseksuele oriëntering. Die verwagtinge van die debat wat die Woensdagaand gevoer sou word, was buite perke. Tydens etes en teebreuke was dit die een onderwerp wat dikwels met kalmte, maar ook met driftigheid bespreek is.
Toe die debat uiteindelik vir deelnemers van die vloer af oopgestel is, was daar reeds ‘n lang ry van afgevaardigdes by die mikrofoon wat hulle standpunt wou stel. Die eerste spreker, toevallig ‘n ouderling van my gemeente in die Noord-Kaap, was sigbaar ontsteld en opgewerk toe hy aan die woord kom. Bybel in die een hand omhoog, met geswolle nekare en blitsende oë, het hy oor die klankstelsel in die Dolfynsaal gebulder: “Die Bybel sê!!!!” En daarmee elke vers wat oor die onderwerp handel, met vuur en drif aangehaal. Totaal buite konteks.
Na sy vurige tirade, en nadat die moderator hom ‘n paar keer tot orde moes roep, was daar ‘n geskokte stilte. Selfs die anti-gay groepering in die vergadering het gevoel dat dit totaal ongehoorde gedrag en woorde was. Veral vir die hoogste kerklike vergadering. Iewers het emosie geperforeerde grense oorgesteek. Die hele debat het ‘n ander wending begin neem daarna. Daar het ‘n onmiskenbare soeke na deernis en begrip in die vergadering gekom.
Die algemene sinode se afgevaardigdes, wat die kerk se beleid bepaal, het ‘n baie sagter besluit geneem oor die saak nadat die eerste spreker alle rasionaliteit verwoes het met sy emosies. Veral ook nadat die skriba van die vergadering aan die einde van die debat gevra het vir ‘n spreekbeurt, en met groot deernis en seer vertel het van sy vier seuns, en hoe hy na sy vrou se afsterwe moes worstel met die realiteit dat sy jongste seun gay is. “Ek het gehoor dat die een broer hom met klippe wil doodgooi, soos die teks uit die ou Testament wat hy aangehaal het, dit stel.
Ek sal my seun laat kom vanaand uit Pretoria, dan kan jy die eerste klippe gaan optel om te gooi. Maar eers sal jy my moet doodgooi, want ek gaan voor hom staan, en ek sal hom met my lewe beskerm, want hy is my kind en ek is lief vir hom.” Daar was nie een droë oog onder die 400 afgevaardigdes nie. Toe het die skriba afgesluit. “In hierdie saal is baie mense vanaand wat met dieselfde ding worstel. Ek nooi jou uit om netnou na my toe te kom, en styf teen my te kom staan, sodat ek en jy bietjie van ons seer op mekaar kan laai.” Hy was omring deur ’n klomp mense na die vergadering. Negatiewe emosie verwoes rede. Dit verwoes getuienis van jou geloof. Dit verwoes mense.
Laat jou hart nie ontsteld word nie, glo in God, sê die Skrif.