Monday, January 20, 2025

Oom Treintjie se trein is nou stil

Bookmark
Bookmarked

Oom Treintjie is nie meer met ons nie maar sy nalatenskap sal ons almal bybly.

Frans Pretorius oftewel “Oom Treintjie” was ‘n bekende in Secunda. Veral by diegene wat so nou en dan by die Eendjie dam gaan stap of piekniek gehou het.

Elke nou en dan was daar ‘n groot gewoel by die treinstasie en kinders het hulle daarheen gehaas. Dit was egter nie net die kinders wat graag die treintjie gery het nie. Groot mense het dit net so geniet.

Oom Treintjie
Frans met sy geliefde treintjie

Frans het gewys dat as die trein gogga jou eers gebyt het dan hou hy jou.

Gebore te Benoni op 18 Februarie 1948 maar groot geword in Orhigstad en Lydenburg.

Oom Treintjie se liefde vir treine het al vroeg begin. Op 16 jarige ouderdom het hy begin werk by die destydse Spoorweg en het na Dullstroom verhuis.

Frans se verbintenis met Secunda het in 1972 begin toe hy na Secunda verhuis het en hom hier gevestig het.

Hy het een van die eerste treine by Sasol ingery en hulle het hom amper dadelik ‘n pos aangebied.

Sasol het Frans se nuwe werks tuiste geword. Blink Frans, dis nou soos sy kollegas hom genoem het, het vir 40 jaar by Tenkplaas en Versending gewerk (Sasol Spoorbeheer).

Oom Treintjie

Sy bynaam was nie verniet Blink Frans nie. Dit het hy gekry omdat alles altyd skoon en netjies moes wees. Hy was werklik trots op sy werk. Frans was ook baie geliefd onder sy kollegas.

Hy was nie net lief vir treine nie, hy was ook lief vir die natuur, visvang, tuinmaak en sy medemens.

Sien Frans met sy treintjie hier

Hy het ongeveer 25 jaar gelede saam paar ander stoomtrein entoesiaste die Eendedam treintjie begin. Hy is een van die oorspronklike stigters gewees saam nog ‘n paar bekendes en was vir baie jare die Voorsitter tot en met sy afsterwe op 12 Maart 2021.

Die 14de September 2020 het ‘n groot skok vir Frans en sy familie ingehou. Hulle lewens is onherroeplik verander toe hulle die slegte nuus gekry het dat Frans fase 4 longkanker het, ‘n gesonde man wat nog nooit siek was nie.

Frans was ‘n Godvresende man met ‘n sterk geloof waarby ander net kon leer.

Dit was egter nog steeds ‘n baie moeilike pad vir hom en 12de Maart 2021 verloor hy die stryd teen kanker waar hy in die hospitaal in Trichardt gelê het.

Also read: Easter soccer tournament at Kgotso Hall

Hy sal gemis word in die gemeenskap waar kinders hom as “Oom Treintjie” geken het, sy kennis van stoom treine en sy absolute passie daarvoor was uniek en enig in sy soort. Sy liefde vir sy dorp en veral die Eendedam sal gemis word waar hy altyd sy hand oor die tuine gehou het. Alles moes net reg wees voordat die publiek op ‘n Saterdag en Sondag trein sou kom ry. Hy het altyd tyd gehad vir ‘n vinnige geselsie en het graag sy kennis gedeel.

Vir amper 50 jaar was hy ‘n gerespekteerde en geliefde persoon in ons gemeenskap.

Sy grappies, liefde vir boeremusiek, liefde vir die natuur sal vir altyd onthou word deur die wat hom geken het asook sy soettand vir kondensmelk (sy dogter het ‘n blik op sy kis gesit), Malva poeding, heuning, koeksisters en patats.

Hy word nagelaat deur sy vrou, kinders en kleinkinders waarvoor hy so lief was.

Sy roudiens was die 18de Maart vanuit die Kruik Gemeente.

Oom Treine het sy laaste stasie bereik, een waar hy nou nie weer af gaan vertrek nie.

As ons dan opkyk na die Hemel en ons sien dalk ‘n ou wolkie, dink dan aan Oom Treine, miskien is dit ‘n stoompie wat hy vir jou gelos het om te sê: ek hou julle dop!