Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is “Karretjiemense”
Hierdie is pure verbeelding. Of, dalk is dit ‘n storie, ‘n kykie deur die sleutelgat op die fenomeen wat lewe genoem word. Maar, dalk is dit die werklikheid, en, nog meer skrikwekkend, die waarheid.
Op die uitgestrekte N12 deur die karoo het jy hulle dikwels gekry, die karretjiemense: vanaf Hopetown, Strydenburg verby regdeur tot in die Moordenaarskaroo. Donkiekarretjies gelaai met alles en nog wat. ‘n Vrou op die bankie voor, ‘n gryserige man langs haar, blas en seningrig, met ‘n verslete hoedjie op sy kop. Hulle keer die fel son af met serpe om hulle nek gebind, en die pet laag afgetrek.
Hy hits die maer, moedelose en uitgeputte donkies aan met ‘n selfgevlegte swepie, hulle kinders agterop wat grootoog na die omgewing loer. Die vrou het ‘n toegeknoopte Shopriteplastieksak met droë brood in wat eergister op Britstown gekoop is. As die kinders te veel kerm omdat hulle honger is, kry elkeen ‘n homp brood en ‘n paar slukke uit die plastiekkan met water wat in die son staan op die karretjie.
Agter die donkiekarretjie draf ‘n hygende hond met ‘n tong wat uithang in die versengende hitte van die karoo. Die waentjie kreun onder ‘n volledige trek, tafels, beddens, stoele, die raam van ‘n outydse BSA-dikwielfiets sonder wiele kartondose, blikke, sinkplate, ‘n sifdraadhok swaaiend onder die wa met ‘n paar kaalnekhoenders wat kloekend protesteer teen die hitte en dors en ongemaklike hokkie. Die karretjiemense van die karoo wat van plek tot plek swerf; hier vir ‘n paar oulap drade reggemaak, daar weer skaapskeer of krale bou.
Maar altyd maar weer aan die beweeg, rusteloos op soek na ‘n meer permanente staning waar die lewe rustiger sou wees. Dalk ‘n goewermentshophuis, of, indien dit nie moontlik is nie, ‘n selfaanmekaargeflansde pandok met sink en houtpale, dalk ‘n paar groot kalkklippe op die dak om te keer dat die spulletjie wegwaai in een van die karoo se stofstorms. Hunkerend na permanensie vir hulle oudag: ‘n wasgoeddraad waaraan die deurgewaste klere smors vroeg kon hang, ‘n houthok vir die hees hond wat sou waarsku as daar ongewenste besoekers in die nag aankom.
En, wie weet, miskien. Net miskien, selfs ‘n televisieskottel teen die muur vasgemaak om te wys dat die bewoners van hierdie woning nie sommer enige hierjy mense is nie. ‘n Outydse, tweedehandse swaar televisiestel wat op huurkoop lay-buy afbetaal is by die pandjieswinkel, toegegooi met ‘n oranje handdoek om dit te beskerm teen stof. Ook ‘n goedkoop cd-spelertjie op ‘n houtkissie in die vertrek met ‘n rytjie cd’s wat gekoop is by Cash Crusaders teen R2-00 stuk. Greatest Gospel Hits en Country Hits of All Times. Meestal ingeskakel op RSG in die dag, waar Amorè Bekker en Ian Wessels en al die ander omroepers hulle huisgenote geword het. ‘n Kleinnood in die huis.
Tekens van ‘n bestaan, ‘n lewe. Tekens dat hulle darem nie heeltemal agtergebly het by die moderne lewe nie. Die leefvertrek is afgerond met die linoleum wat die plaasvrou van drie stanings gelede uitgegooi het toe haar man die kombuis laat teël het, die kaggelhorlosie met die vermiste wysers wat een of ander familielid vir 25 jaar getroue diens iewers by een of ander maatskappy gekry het, die afdruk van Jesus met ‘n stralekrans om sy kop teen die muur, en dan ook die horde fototjie’s teen die muur aangebring van die karretjiemense se kinders, familie en werkgewers wat vir hulle goed was en baie ou klere en stukkende potte vir hulle gegee het.
‘n Panoramiese blik op ‘n deel van Suid Afrika.
Ek het aan karretjiemense gedink toe ek Saterdag met ‘n sleepwa my studentedogter se trek in Stellenbosch gaan haal het. Die laaste Saterdag van November, en meeste studentekontrakte vir verblyf het verstryk. Oral deur die boomryke strate van Stellenbosch sien jy hulle; die ander Afrika-karretjiemense met dubbelkajuitbakkies, SUV’s, Mercedesse en BMW’s met Ventersleepwaentjies agteraan gehaak wat by luukse landgoede in- en uitry. Meubels agterop wat eintlik nog min gebruik is omdat die meeste van die woonstelle die grootste deel van 2020 leeg gestaan het as gevolg van Covid19.
Lees ook: So is die Lewe: Onreg is soos ‘n Brullende Motorfiets
Duur dubbeldeuryskaste met kouewaterkrane vir Stellenbosch se hitte, draagbare lugversorgers, wasmasjiene wat 9 kilogram wasgoed op een slag kan was, egte leerbanke, mikrogolfoonde, seilplanke, vierwielmotorfietse. Die groot plasmatelevisiestelle, die Blueray-spelers en die gesofistikeerde rekenaars, tablette en skootrekenaars is binne-in die voertuie gelaai. Op verskeie van die waentjies is wynrakke versigtig gelaai, die landgoedwyne wat sorgvuldig geproe en gekoop is verpak in kartonhouers.
Die tuisgimnasium se trapmeule en die R50 000-00 bergfiets is vasgeketting aan die Ventertjie. Die meeste van die woonstelle se inhoud wat nie op die Ventertjie pas nie, word vir bykans niks verkoop aan pandjieswinkels, of bloot afgelaai by Hospice of die DBV se winkels om ontslae te raak daarvan. Beddens, lessenaars, waaiers, lampe, rekenaars, hoëtroustelle, houers vol duur voorgeskrewe boeke wat tot R1000-00 stuk gekos het, kombuistoerusting. Die Venterkarretjies het nie plek daarvoor nie.
Voordat die uittog aangepak word na die dubbelverdiepinghuis by die see, of die groot plaas in die wyndistrik of die mansjoen in die Boland of elders, word daar eers geëet in Andringa- of Kerkstraat by ‘n straatkafee onder die akkerbome. Die gesinnetjie stap in nadat die 4×4 en Ventertjie geparkeer is en die student sy of haar jaaroue afslaandak Golfie GTI of Hyundaitjie langsaan getrek het (oulike studentemotortjie). Al lyk hy soms verspot daar in die parkeerarea van De Goede Verwachting-meenthuiskompleks waar die ander studente se Toyota Prado’s en C-klas Mercedesse, Audi A4’s en 3-reeks BMW’s geparkeer is.
Ons is almal maar karretjiemense.
Met hulle gemaklike ontwerperslenterdrag en hulle Rae-Bans op hulle kroontjies lyk hulle cool, en sou mens nie sê dat die historiese Stellenbosch bak in ‘n 35-grade somersdag nie. Hulle bestel die aanloklikste cocktails with crushed ice, in waatlemoengeur en helderblou bessiegeur, net vir die dors en lekker, voordat die landgoedwynlys gevra word.
Dis ‘n bargain, sê hulle: die gesogte landgoedwyn wat soveel toekennings gewen het, is slegs R495 per bottel. Hulle bestel sommer twee, net om moeite en tyd te spaar. Die geregte op die spyskaart is amazing: 300-gram verouderde biefstuk met Belgiese fritte en gesmelte bokmelk-en-fetakaas met Griekse slaai vir slegs R350! Truly a bargain! Ook die nagereg is divine! Swartwoudkoek vir slegs R75-00 per porsie! Hulle bestel al die goed van die spyskaart af sonder om eers na die kelner te kyk.
Besoek Stellenbosch se webwerf HIER
Na ete vertrek die Venterkonvooi-karretjiemense na hulle bestemmings, wonings afbetaal en verkoel met lugreëlaars en swembaddens, met jacuzzi’s en saunas. ‘n Panoramiese blik op ‘n ander deel van Suid Afrika.
Ons is almal maar karretjiemense. Dis net genade wat bepaal hoe jou karretjie lyk.