-

Columnist So is die Lewe: Jou laaste woorde

So is die Lewe: Jou laaste woorde
S

Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is “Jou laaste woorde”

Van Wyk Louw skryf oor afskeid: “Nog in my laaste woorde sal jy wees, / nog in die laaste skeemring van my dink / en weet, as ek alleen in die bitter vrees / van sterwe lê…/ mooi is die lewe en die dood is mooi.”

Soos wat mens ouer word, dink jy aan al die woorde wat eerder ongesê moes gebly het op jou trek deur Operasie Lewe. Woorde wat jy moes inhou, terugsluk of verkieslik nooit eens in jou kop moes geformuleer het nie.

Maar net so ontnugterend is die woorde wat jy nooit gehoor het by iemand nie, of self nooit gesê het nie. Die woorde wat veroorsaak dat “my jeug se oopgelate kring” (Louw) nie voltooi kan word nie. Daardie mense wat so skielik uit die periferie van jou bestaan geruk is. Daardie afskeidsgroet wat nooit gegroet is nie. Daardie “dankie” of “ek is lief vir jou” wat uitgestel is tot anderdag toe, die dag wanneer dit beter gepas sou wees, of met minder ongemaklikheid sou gepaardgaan.

Lees ook: So is die Lewe: Onthou sodat jy nie vergeet nie.

Daar is deesdae baie boeke verkrygbaar is wat oor hierdie tema handel, die articulo mortis, beroemde mense se doodswoorde. Dit wissel van aangrypend, snaaks, droefgeestig, filosofies, vreemd, ironies woedend en bitter, selfs uitdagend. So asof dit die stempel op die spreker daarvan se lewensuitkyk finaal bekragtig.

Voorbeelde hiervan is die komediant Grouco Marx: “This is not a way to live.” Die digter Emily Dickenson: “I must go in. The mist is coming up.” Nostradamus, die toekomsvoorspeller: “At sunrise tomorrow you won’t find me alive.” Die briljante Beethoven, met al die trauma en triomf van sy beroemde lewe en werk: “Plaudite amici comidia finite est” – applous, my vriende, die komedie is verby. Marie Antoinette: “Pardon me sir, I meant not to do it.” Bob Marley: ”Money can’t buy life.” En dan die droë humor van Sir Winston Churchill: “I’m bored with it all.” Die mees aangrypende waarskynlik die woorde van Jesus aan die kruis, na alles, die triomf, die lyding, die namelose pyn: “Vader, in U hande gee ek my gees oor.” En, “Dit is volbring.”

Vader, in U hande gee ek my gees oor.

Die mense by wie jy was tydens die afskeidneem van die lewe se laaste woorde bly mens ook by. My ouma wat so in die verte gestaar het daar in die Verre Oosrandse hospitaal, en toe met ‘n gesig wat ophelder gesê het: “Hier is ou Dienkies ook!” My neef wat drie maande van tevore gesterf het. Toe, skielik met vrede op haar gelaat, haar hand gelig het in ‘n wuifgebaar. En vertrek het.

Dit is die laaste woorde wat onthou word, selfs neergeskryf word, soos hierbo aangehaal. Maar dan is daar soveel laaste woorde wat nooit gehoor is nie, nooit opgeteken is nie. Daar waar die Donker Engel wat eintlik ‘n huisgenoot is in elke huis, tog skielik, onverwags inkom soos ‘n inbreker. Elke sodanige ervaring berei jou beter voor vir die fenomeen lewe, min wetend hoeveel daarvan later van toepassing sal wees op jou.

Soos die oom by wie ek gestaan het in die intensiewe eenheid in Universitas-hospitaal in Bloemfontein. Die masjiene het reeds aangedui dat daar geen brein-aktiwiteit meer is nie. Maar die EKG het sterk impulse geregistreer, totdat die mediese personeel besef het dat hy ‘n ingeplante defibrillator het. Nadat die suster ‘n magneet op die defibrillator gesit het, het die EKG skielik ‘n reguit streep getrek en aanhoudend geskreeu. Soos Groucho Marx gesê het: “This is no way to live.”

lewe
Groucho Marx – American comedian

Die somberste van hierdie situasies is die laaste woorde wat nooit gehoor is nie. Wanneer iemand oombliklik weggaan, soos na Elvis Presley se laaste konsert gesê is nadat hy hortend en swetend, uitgeput, die lied Can’t help falling in love with you vir oulaas voor sy dood gesing het: “Ladies and gentlemen, Elvis has left the building.” Daardie woorde wat nooit gesê is nie, vrae wat nooit gevra is nie. Staaltjies en stories wat nooit neergepen is nie, verdamp in die dun lug. Soos die ou spreekwoord lui: “When an old person dies, a library burns to the ground.”

Elvis, Can’t help falling in love with you

Baie mense worstel hiermee. Daar is deesdae ‘n televisiereeks oor ‘n sg. “siener” wat volgens hom die vermoë het om met dooies te kommunikeer. Dit is opvallend hoeveel mense, wat vir jare gewroeg het oor geliefdes wat onverwags vertrek het, hom gaan raadpleeg oor die afgestorwene se welstand. “Wat wou hy/sy nog vir ons sê?” is die vraag wat herhaaldelik gevra word.

Terwyl ek die storie bekyk, vra ek myself af wat ek die man sou vra indien ek hom sou ontmoet. Miskien oor my pa, wat eendag gaan hare sny het en nooit weer teruggekom het huis toe na ‘n motorongeluk nie? Daar is ongelukkig nie ‘n nommer in die telefoongids vir oproepe na die hiernamaals nie. Ook nie êrens op Google nie. Gaan soek maar. Die naaste wat die gordyn vir ons gelig word, is in Lukas 16:19vv oor die verhaal van Lasarus en die ryk man, en die vertellinge in Openbaring. Hiervolgens weet hulle wat reeds vertrek het van ons, alhoewel ons nie met hulle kan kontak maak nie, selfs nie deur derde persone wat hulle roem op die talent om dit te kan doen nie.

Dit is wat jy die meeste mis: daardie laaste woorde. Daardie kans om te groet. Springs-skakelkode met huisnommer 56-5029 was die laaste kans wat ek gehad het om met my pa te praat. Nog voor die dae van selfone. 56-5029 was die lewenslyn vir liefde, vir raad, vir goeie en slegte nuus. Dit was die kontaknommer om te sê: “Lief vir julle.” Dit was ook die lyn waarop jy kon sê: “Grootmenslewe is nie altyd maklik nie. Ek is bang.” Dit was nie ‘n ‘n geoutomatiseerde blikstem wat jou vanuit die vergetelheid aanspreek sonder enige belangstelling hoegenaamd in wie jy is of wat jou probleem is nie. Dit was jou ouerhuis in Kentsirkel, die wortels van jou menswees.

Eendag, nie lank gelede nie, het ek in oomblikke van verveeldheid, frustrasie, nostalgie, desperaatheid, wie weet, 56-5029 op my selfoon geskakel. Met die Springskode vooraf. Die nommer, soos meeste van my vriende en familie s’n, onthou ek vandag nog uit my kop uit. Die selfoon het wel gereageer op my oproep. ‘n Blikstem met ‘n gerekenariseerde damesintonasie het my emosieloos geantwoord: “The number you have dialled, does not exist.” Punt. Geen “sorry” of “unfortunately” nie. Dis uitgewis. Dit bestaan nie meer nie. Los die bellery, jy mors jou tyd en geld.

It does not exist. Soos daardie fase van jou lewe verby is, of die laaste woorde wat nooit gesê is nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here

So is die Lewe: Jou laaste woorde

- Advertisement -

Latest news

SA needs 365 days of activism to tackle gender-based violence

John Steenhuisen released the following statement on gender-based violence South Africa’s coronavirus pandemic...

A message from the Executive Mayor on the World AIDS Day

Message of the Executive Mayor on World AIDS Day Greetings to all citizens...

Kers Boeremark in Bethal

BETHAL- Coniforest Kwekery, Bethal, bied op Saterdag, 5 Desember ‘n Kers Boeremark aan.

Blood levels are very low at the onset of the Festive season.

The Blood levels are critically low at the moment. Blood stocks fluctuate throughout...

You might also likeRELATED
Recommended to you