Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.
Jy kom laataand by die groot, donker huis aan. Van ver af al het jy die bekende kolos in die halwe maan sien lê, soos ‘n draak wat wag om jou te verslind. Maar iets, of alles, is anders vanaand. As jy by die bek van die draak ingaan, lê die lang gang met die stil, leë kamers weerskante soos ‘n grynsende skedel met starende oogholtes. Die hond is nie meer daar om jou blaffend te verwelkom nie.
Die kamers is meestal gestroop van persoonlike items, en net die opgemaakte, ongeslaapte beddens wys dat daar eens op ‘n tyd iemand in geleef het. Die beddens is ‘n vae teken van ‘n hoop dat daar weer gou weer iemand sal wees wat daarin gaan kom slaap. Die afwagting van ‘n kuier van jou gesin is jou greep op hoe dinge was, die ontkenning dat jou lewe drasties verander het. Die klank van opgewonde kinderstemme en laggies is stil, die fiets spore voor die huis is deur die wind verwaai, die klank van kinderprogramme op die televisie is af. Die dooie oog van die televisiestel volg jou deur die huis.
Dit bulder van stilte.
Jy praat hardop met jouself om dit te verbreek, sit Pink Floyd kliphard aan, sing luidrugtig saam. Jy maak ‘n blikkie boontjies in tamatiesous oop vir aandete. Waarom sou jy iets anders wou voorberei?
Baie mense ervaar dit; hierdie flerts van alleenbestaan wat ook deel van my lewe was toe ek op die platteland moes agterbly omdat die skool toegemaak is, en my vrou haar werk as onderwyseres verloor het. Hulle moes noodgedwonge stad toe trek, omdat ‘n tweede inkomste vir ‘n plattelandse predikantspaar onontbeerlik is.
Alleenheid is ‘n werkwoord. Dis die gevolg van mense wat wegraak van jou af deur omstandighede soos dood, aftrede, egskeiding, ouderdom, noem maar op.
Enige verlies kan veroorsaak dat jy jouself van mense onttrek. Alleenheid is ‘n fisiese ding. Maar die gevaar lê daarin dat alleenheid baie maklik kan oorgaan in eensaamheid. Daardie vernietigende gevoel van isolasie. Niemand weet van my nie. Niemand stel belang in my nie. Ek is alleen. Soos in Psalm 22, wat Jesus ook aan die kruis aangehaal het: “Eli Eli lema sabagtani.”
Eensaamheid is ‘n emosionele ding. Dit kan uiters destruktief wees. Die mens is ‘n sosiale wese, maar kan maklik geisoleerd raak. Jy kan eensaam wees tussen baie mense. By die werk, die braai saam met kennisse, die kerk, jou familie, selfs jou huwelik. Mense raak soms uit eie keuse eensaam, onttrek van ander mense, om redes soos depressie.
Dit is ‘n verskriklike siekte wat jou selfvertroue, jou lewensvreugde en die sin van jou lewe van jou steel. Dit kan ‘n langdurige ding wees. Baie ervaar al van kleins af Sondagblues, dit is ‘n integrale deel van hulle totale belewenis van menswees. Hulle beleef: om alleen te wees, om mense te vermy, is om nie seer te kry nie. Wie jy is, speel ook ‘n rol.
Ons leef in ‘n geweldige vyandige en kompeterende, onsimpatieke wêreld. Sommige mense floreer in so omgewing. Dit bring die beste en sterkste in hulle na vore. Andere weer, glad nie. Jy kan maar net om jou kyk om dit raak te sien, as dit nie met jou persoonlik gebeur nie. Mense raak huiwerig om mekaar te vertrou. En, sosiale media maak dit maklik om te vereensaam. Jy kan skryf wat jy wil, sonder dat daar enige iemand naby jou is. En ongeag wat jy skryf, die kans is goed dat daar reaksie gaan wees. Soos PG du Plessis sê in Siener in die suburbs; “mens wil van geweet wees”.
Lees ook: So is die lewe: Tyd vir stilte in hart van stormwind
Gaan lees maar baie facebookinskrywings, as jy ingeteken is daarop. Hier sien jy hoe verwronge eensaamheid kommunikasieprosesse kan maak. Iemand skryf vir ‘n onbekende ontvanger hierdie boodskap: “Ek wil nt vir jou se: God slaap nie. Jou daggie sal kom en jy gn bitaal vi als wat jy an my gedoen het. Jy dink jy is te gut vi my, ma ons sal sien wie laste lag.” Hierdie plasing op facebook word tien keer “gelike”, en vier kommentare volg: twee “amens”, “dis rerag so, die dywel is verslaan halleluja”, en “dki dat jy dit met ons gedeel het.”
Kan dit wees dat almal wat gereageer het, ook slagoffers van eensaamheid is? Waarom anders sou jy op ‘n wildvreemde se hartsontboesemings met iets soos “Amen” wou antwoord?
Sosiale media het ‘n substituut geword vir gesonde, persoonlike kommunikasie tussen mense waar inligting geruil word, gevoelens gedeel word en misverstande uit die weg geruim word. Soms is sosiale media die bewys dat ons in ‘n ontsaglike eensame wêreld leef. As iemand iets verrukliks mooi beleef, en daar is niemand om dit te vertel of die foto mee te deel nie, is die logiese gevolg vir hulle om dit op facebook te plaas. Net ter wille van die reaksie: Ek sien jou, ek hoor wat jy sê, ek waardeer jou mening. Jy ís vir my iemand. Jou opinie is vir my belangrik.
Facebook is soos Jan Rabie se verhaal oor ingenieur Jacobs wat vir hom ‘n robot gebou het na sy vrou se dood. Die eensaamheid het hom totaal ondergekry. Hy het die robot aangetrek met sy vrou se trourok. Elke keer as Jacobs die robot, wat hy Andries genoem het, vra: “wat is liefde,” antwoord die robot met ‘n afgemete stem: “Liefde is aanhou beweeg en geluide maak. Ek is Andries, die verdomde robot.”
So het facebook vele eensame mense se Andries geword. Daar is altyd iemand wat reageer as jy huil. Iemand om voor nag te sê.
Iemand wat sê: “Ek is lief vir jou.”