
Soms kom daar mense oor jou pad wie se storie jou siel aanraak — mense wat hoop bring waar daar wanhoop is, en wat getuig van ’n geloof wat nie wankel nie. Idalet Maritz is so ’n vrou.
Op net 28-jarige ouderdom is Idalet, ’n jong ma van ’n pasgebore baba en ’n peuter, met limfklierkanker gediagnoseer. Dit was in Oktober 2019 — ’n oomblik wat haar wêreld tot stilstand geruk het. Maar wat vir baie ’n einde sou beteken het, was vir haar die begin van ’n pad van geloof en volharding.

“Ek het vrede gekry toe ek die diagnose ontvang,” vertel sy aan The Bulletin. “Jesus het my gemoed gevul met rus.” Idalet het geweet dat sy nie alleen gaan veg nie — soos Moses wat se arms deur Aaron ondersteun is, sou sy ook vasgehou word.
In die begin het sy en haar man Johan besluit om die pad van natuurlike genesing te stap. Hulle het verskeie dokters besoek wat holisties na haar gesondheid sou kyk — met groentesappe, sonlig, oefening en natuurlike protokolle. Maar haar toestand het agteruit gegaan. Die knoppe het gegroei, haar asemhaling het verswak.
“Toé het ek verstaan dat dit my ‘woestynpad’ was. En ek eer vandag vir God vir daardie tyd, want dit was in die woestyn waar ek die God van die vuurkolom en die wolk leer ken het.”
Augustus 2020 het God haar een oggend 4am wakker gemaak met ‘n massiewe rooi woord: CHEMO. Daar het sy vir die eerste keer vrede gehad en besef dat God wel ook IN die chemo is. Op 8 September het sy haar eerste chemoterapie ontvang. Die getal 8 simboliseer nuwe begin — en dit was presies wat dit vir haar gebring het. Ná drie maande se behandeling, het sy op 3 November ’n skoon uitslag gekry. Die getal 3 simboliseer heelheid, herstel en voltooiing.
Maar die pad was nie verby nie. ’n Jaar later het die kanker teruggekeer. “Ek was in ontkenning. Ek was kwaad,” vertel sy eerlik, “nooit vir God nie, maar omdat ek wèer om dieselfde berg moes stap. In September 2024 het haar gesondheid drasties versleg. Die simptome van Hodgkins Limfoma het vir die eerste keer werklik gewys — koors, nagswete, gewigsverlies, en ‘n infeksietelling wat gevaarlik hoog gestyg het.








In Januarie 2025 het sy vasgehou aan Psalm 92. Sy het geweet dit sou ’n jaar van stryd wees, maar ook van oorwinning. Op 27 Januarie is sy weer opgeneem in die hospitaal, waar sy ernstig siek geword het. Maar in Maart het God weer die onmoontlike gedoen, ná drie sessies van chemoterapie en immuneterapie, het sy weer skoon getoets. Soos 1 van die 10 melaatses, kies Idalet om terug te draai en vir Jesus DANKIE te sê.
Met ’n lig in haar oë vertel sy haar storie aan The Bulletin. Haar stem is sag, maar haar woorde dra krag. “Jesus is my rots,” sê sy sonder huiwering. “Sonder my geloof sou ek dit nie gemaak het nie. Ek het Hom nodig gehad vir elke tree, elke asem.”

Idalet se verhaal is nie net een van fisiese genesing nie, maar van geestelike verdieping. Sy het ’n God ontmoet wat getrou is — in die woestyn, in die siekbed, in die stilte.
Wat die toekoms inhou, weet sy nie. Maar een ding is seker: haar geloof is vandag sterker as ooit. En sy hoop dat haar verhaal ander sal inspireer om aan te hou glo — al is die pad hoe donker.
“Met God wat jou dra, kan jy enigiets oorwin.”
God is nogsteeds vandag die God van Abraham, Isak en Jakob, Jehovah Rapa, THE GOD WHO HEALS.
Wow Idalet! Wat ‘n ongelooflike getuienis! Dankie dat jy dit met die wereld deel!
Dankie vir die Hoop wat jy bring!
Jy is so ongelooflike mooi vrou van God! Dis ongelooflik om te Sien hoe Hy deur jou werk! Ek sien uit om te sien wat Hy nog deur jou gaan doen! ❤️🙌🙌🙌 Ons God is Groot!!!