Sunday, March 9, 2025

Umuzi Lees- en kosfees oortref alle verwagtinge

Bookmark
Bookmarked

Die eerste Umuzi Lees- en kosfees wat teen die einde van Februarie in Secunda gehou is, is baie goed ondersteun, aldus die Feesorganiseerder, Alma Swart.

Benewens die amptelike program met skrywers en besoekers, het skrywers hierdie geleentheid gebruik om saam met ou vriende te kuier en nuwes te maak.

Sommige van die jeugskrywers wat aan die program deelgeneem het, het Donderdag douvoordag al van Potchefstroom, Klerksdorp en Pretoria gery om skole in Secunda te besoek. Skrywers het hul passie vir Afrikaans en die skryf van stories met die leerlinge gedeel en die hoop uitgespreek dat die skoleprojek leerders sal inspireer om met erns te begin lees.

Skrywers Dibi Breytenbach en Hannes Barnard het ook tydens die fees ʼn fiksie-skryfwerkswinkel aangebied met nege aspirant en entoesiastiese skrywers.

Vrydagaand se vyfgang-maaltyd in die Glaskas by Boesies was ʼn kos-en-wynpas met Boplaas wyne en komplimenterende spyskaart deur Charlotte en Cobus van Dyk. Ilse Salzwedel het tydens hierdie suksesvolle geleentheid ʼn genotvolle gesprek op die verhoog gelei met Susan Coetzer en Dana Snyman waarna Tian Nienaber vir die musikale vermaak gesorg het.

Saterdagoggend 1 Maart het afgeskop met ʼn interaktiewe gesprek deur die jeugskrywers, onder aanvoering van Phyllis Green van Sarie tydskrif. Die onderwerp was oor hoe om die jeug-lesersmark te bereik vir interessantheid en volhoubaarheid.

Daarna was die skrywer Susan Coetzer aan die beurt met Haas en Harriet, haar onlangse boek wat handel oor die verhouding tussen ma en dogter en die hartseer en verwydering wat volg terwyl elkeen sy eie lewe leef maar hoe hulle tog weer in mekaar se lewenskringetjie beland. Die gaste is trakteer op vonkelwyn en tuisgemaakte sjokolade terwyl Ilse Salzwedel die gesprek met Susan gelei het. Almal was dit eens dat hierdie boek aanbeveel word vir beide ma’s en dogters.

Die daaropvolgende gesprek met drie van ons land se gerespekteerde skrywers het die lig laat val op die onderwerp, misdaad: fiksie vs.realiteit. Jeremy Veary, Julio Agrella en Dibi Breytenbach het al vele boeke oor misdaad die lig laat sien, en het gedeel oor hulle ervarings van wanneer om die werklikheid te gebruik om die storie te vertel sonder om die leser te veel te ontstel. Die belangrikheid van navorsing en gebruik van die korrekte feite in hul boeke is beklemtoon. Jeremy Veary se Rooisand speel af in Namibië en alhoewel die verwysings na die Bondelswart en ook ander gebeurtenisse feitlik korrek is, is die storie wat afspeel, fiksie. Dibi Breytenbach is bekend vir haar deeglike navorsing en het ʼn vertel hoe sy van haar feite bekom. Julio Agrella is ʼn boorling van Springs met ʼn agtergrond wat self herinner aan ʼn fiksieverhaal. Sy boekspeurder, Zeus van Wyngaard is ʼn geliefde karakter wat die leser maklik betrek by die storie.

Dana Snyman het die middaggesels afgesluit deur met Phyllis Green te gesels oor sy memoir, Seun. Die vraag is gevra, “hoe maak jy ʼn man van ʼn seun?” Dana het openhartig vertel van sy stryd as jongman in die weermag en hoe daardie tyd se letsels die res van sy volwasse lewe aan hom bly klou het.

Die digterswandel wat ‘n eie innisiatief is en parallel gereël en bestuur is deur Christell Brooks van Letter Liefde, was ook ‘n eerste vir Secunda, en heelwat mense het positiewe terugvoer gegee.

Na die fees het die oorblywende skrywers Saterdagaand saamgekuier met pizza en Boplaas se vlagskip uitvoerwyne terwyl Platoppiaarde die agtergrondmusiek verskaf het.

Swart bedank graag Boesies Restaurant, die bemarkingspan van Lake Umuzi, Charlotte en Cobus van Dyk en al die skrywers wat deel was van hierdie eerste Umuzi Lees- en kosfees.