Sunday, October 6, 2024

Kom ons praat Maatskaplike werk!

Bookmark
Bookmarked

Maatskaplike werk, wie is verantwoordelik en waar?

Die rubriek het sy debuut gemaak bykans 2 weke gelede, die hoop is dat dit darem julle nuuskierigheid oor die beroep van maatskaplike werkers so ‘n bietjie geprikkel het. Daar is in die eerste artikel slegs aan die punt van die ysberg geraak met die inleiding oor maatskaplike werkers en kinderbeskerming. Vandag se artikel is meer gefokus op Maatskaplike Werk in Secunda.  

Elke kinderbeskermingsorganisasie het hulle eie diensarea. Dit beteken die kind se adres, die plek waar hy of sy woon, bepaal by watter organisasie ‘n mens jou bekommernis oor ‘n spesifieke kind aanmeld. Tutela Family Care Secunda is verantwoordelik vir Secunda, Kinross, Adullam, Charl Cilliers, plase tussen die N17-watertorings en Bethal-tolhek en die plase Syferfontein en Holfontein. Rata Social Services Secunda is verantwoordelik vir Trichardt, Secunda uitbreiding 22 en 23, en Lebohang uitbreiding 1 tot 7. Die ander areas word onderskeidelik deur SAVF Secunda en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gedek.

Voordat jy ‘n aanmelding kan maak, moet jy die volgende inligting bekom:

  • Die kind (of kinders) se naam en van
  • Die adres waar die kind woon
  • Die kontakbesonderhede van die kind se ouers (indien beskikbaar)
  • Die naam van die skool wat die kind bywoon

Jy moet ook kan verduidelik waarom jy oor die kind of kinders bekommerd is.

Hoe meer inligting jy het, hoe makliker kan die statutêre maatskaplike werker die saak ondersoek.

Wie moet aanmeldings maak?

Ingevolge die Kinderwet 38 van 2005 hoofstuk 7, artikel 110 (a) is alle persone wat met kinders werk wetlik verplig om vermeende kindermishandeling aan te meld:

Enige persoon (korrektiewe beampte, tandarts, homopaat, immigrasiebeampte, arbeidsinspekteur, regspraktisyn, mediese praktisyn, vroedvrou, predikant, verpleegster, arbeidsterapeut, fisioterapeut, sielkundige, geestelike leier, persoon in ‘n maatskaplikewerkberoep, maatskaplike werker, spraakterapeut, onderwyser, tradisionele gesondheidspraktisyn, tradisionele leier of personeellid of vrywillige werker by ‘n sorgfasiliteit of fasiliteit waar kinders gedeeltelike sorg ontvang, inloopsentrum of kinder- en jeug sorgsentrum) wat vermoed (op redelike gronde tot die gevolgtrekking kom) dat ‘n kind fisies beseer, seksueel misbruik of doelbewus verwaarloos is of word, moet daardie vermoede/gevolgtrekking op die voorgeskrewe vorm by die aangewese kinderbeskermingsorganisasie, die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling of ‘n polisiebeampte aanmeld. [Aanhaling is aangepas ter wille van duidelikheid.]

Artikel 110 (2) van die Kinderwet maak dit duidelik dat ENIGE persoon wat kindermishandeling vermoed wetlik verplig is om dit by die relevante organisasie aan te meld:

Enige persoon wat op redelike gronde glo dat ‘n kind sorg en beskerming benodig MOET daardie oortuiging by die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, ‘n aangewese kinderbeskermingsorganisasie of ‘n polisiebeampte aanmeld.

As jy vermoed ‘n kind word verwaarloos, aangerand of misbruik en jy meld nie jou vermoede by ‘n kinderbeskermingsorganisasie aan nie, dan oortree jy die Kinderwet.

So wat presies moet jy doen as jy vermoed dat ‘n kind in gevaar is, verwaarloos, aangerand of misbruik word? Artikel 110 (3) van die Kinderwet gee die antwoord op dié vraag:

Enige persoon na wie in subartikel (1) en (2) hier bo verwys is, moet daardie gevolgtrekking of oortuiging aan die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, ‘n aangewese kinderbeskermingsorganisasie of polisiebeampte bewys. Iemand wat so ‘n vermoede in goeie trou aanmeld, sal nie blootgestel word aan siviele eise op grond van die aanmelding nie.

Artikel 110(3)(b) van die Kinderwysigingswet (No.41 van 2007) maak dit baie duidelik dat jy nié in die moeilikheid sal beland (siviel aanspreeklik gehou word) as jy in goeie trou aanmeld dat ‘n kind beskerming benodig en dit later blyk dat jou vermoede verkeerd was nie. Jy kan wel in die moeilikheid beland as jy weet of vermoed dat ‘n kind beskerming benodig en dit nie by ‘n kinderbeskermingsorganisasie aanmeld nie.

Statutêre maatskaplike werkers probeer te alle tye om die gesinsisteem in plek te hou, daarom sal hulle nie ‘n kind uit sy of haar gesin verwyder as die kind nie in onmiddellike gevaar is nie. Alle maatskaplike werkers is ingevolge die Kinderwet (No.38 van 2005) verplig om eers alles wat moontlik is te doen om die huishouding te stabiliseer voordat hulle dit oorweeg om ‘n kind uit die huisgesin te verwyder. Die proses kan soms tydsaam en oneffektief voel, maar dit is belangrik om deernis te hê en geduldig te wees. Soos in die vorige artikel genoem, is die maatskaplike werkers net so gefrustreerd met die stelsel as lede van die gemeenskap wat verwag dat iets vinnig gedoen moet word om ‘n kind te help.

Lees ook: Community talk with Solidariteit Helpende Hand

Wanneer ‘n kind verwyder moet word, moet daar natuurlik ‘n veilige plek wees waar die kind kan gaan bly. Dit is soms amper onmoontlik om so ‘n veilige plek te vind omdat die kinderhuise en plekke van veiligheid vol is en nie plek het vir nuwe innames nie.

In die volgende artikel word daar in meer diepte verduidelik hoe jy ‘n bydrae kan lewer om die druk op die stelsel te verminder sodat kinders vinniger gehelp kan word.

Kontakbesonderhede van kinderbeskermingsorganisasies in Secunda

Tutela Family Services Secunda: 079 310 2599

Rata Social Services Secunda: 081 216 8976 / 064 830 5055

SAVF Secunda: 074 212 5336

Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DSD) Secunda: 084 444 0805

Indien jy steeds onseker is waar jy vermeende kindermishandeling of -verwaarlosing moet aanmeld in die streek van Mpumalanga- & KZN Noord, kontak gerus vir Solidariteit Helpende Hand Maatskaplike werker – Marla Louw by 066 120 4406 of marla@helpendehand.co.za.

Maatskaplike
Indien jy steeds onseker is waar jy vermeende kindermishandeling of -verwaarlosing moet aanmeld in die streek van Mpumalanga- & KZN Noord, kontak gerus vir Solidariteit Helpende Hand Maatskaplike werker – Marla Louw by 066 120 4406 of marla@helpendehand.co.za.