Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.
Die skrywer Irwin Shaw is een van my gunstelinge. Een van sy bekendste boeke is as ‘n televisiereeks bekend: Rich man, Poor man. Die verhaal van twee broers, Rudi en Tom Jordache. Rudi was die uitblinker, die presteerder. Hy was voorbeeldig, van kindsbeen af bestem om suksesvol te wees. Sy pa, ‘n bakker, en sy ma het net vir hom geleef. Op universiteit was hy een van die leiers, en toe hy gegradueer het, het werksaanbiedings ingestroom. Hy is ‘n miljoenêr voordat hy dertig is. Uiteindelik word hy een van die jongste senators in Amerika.
Die ander broer, Tom, was die bakleier, die moeilikheidmaker. Sy pa het hom op sestien uit die huis uitgejaag. Eers word hy ‘n bokser, en nadat hy moeilikheid met die Mafia gekry het, ‘n matroos. Uiteindelik het hy vir homself ‘n boot in die suide van Frankryk gekoop, en sy hele lewe het verander. Dan die ironiese einde van die verhaal: Rudi is die een wat op veertig afgeleef en ontnugter is, sonder enige sin in sy lewe. Tom is die een vir wie almal lief is, wat oral gewild is.
Dan red hy sy miljoenêrbroer se besope vrou uit ‘n agterstraatse kroeg uit die hande van ‘n booswig, Falconetti, en word vermoor. Tom, die een wat uiteindelik iets van sy lewe gemaak het.
Die ironie van mense se lewens. Ironie is waar omstandighede totaal anders uitdraai as wat ‘n mens sou verwag het. Ons is oral daardeur omring: die man en vrou wat saam uitsien na aftrede, en net voordat dit gebeur, sterf een van die twee. Ouers wat soveel drome vir hulle kinders het, net om te sien hoe alles skeefloop. Of sterf voordat hulle hul eerste kleinkind gesien het.
‘n Paartjie wat met sterre in hulle oë vir ewig trou sweer aan mekaar, net om ‘n paar jaar later in ‘n bitter hofgeding gewikkel te wees oor wie wat kry tydens die egskeiding.
Koning Dawid se lewe was ook ironies. In Israel was hy die roemrykste koning. Wanneer mens lees oor sy lewe, dan leer jy ‘n uitnemende leier ken. ‘n Man wat respek afgedwing het met sy leierskapstyl, wat wyd en syd bekend was vir sy bestuursvermoë, en wat gevrees was deur sy vyande. Sy Psalms is aangrypend. Liedere, gedigte, gebede. Dawid was ‘n dapper man, ‘n krygsheld, ‘n letterkundige, ‘n digter, briljant, gesalf om koning te wees van Israel.
Gaan kyk jy egter na sy gesin, dan sien jy die ironie. Dawid was ‘n mislukking as pa. Dit maak nie saak wat sy eienskappe en talente was nie. Sy seun Amnon pleeg die afskuwelike daad om sy halfsuster Tamar met ‘n slinkse plan in sy kamer in te lok, en te verkrag. Nadat hy dit gedoen het, verwerp hy haar.
Dawid se ander seun, Absolom, haat sy broer Amnon met ‘n intense haat hieroor. Uiteindelik laat hy sy broer vermoor met ‘n fyn uitgewerkte plan. Absolom slaap ook saam met van sy pa se vroue. Dit dwing hom om te vlug na koning Talmai van Gesur. As hy uiteindelik terugkeer na Jerusalem, is hy en sy pa twee jaar in dieselfde stad sonder dat hulle ooit met mekaar praat.
Want uiteindelik het Dawid se seuns sy voorbeeld begin volg: Dawid het die vrou van Uria gevat wat nie aan hom behoort het nie. Amnon sien by sy pa dat jy maar kan vat wat jy wil hê, al kom dit jou nie toe nie. Daarom verkrag hy sy eie halfsuster. Absolom leer dieselfde beginsel by sy pa. En daarom rig Absolom sy oë op sy pa se ryk. Hy begin met ‘n oorlog teen sy eie pa om koning te word. Al is dit sy pa se ryk, het hy geleer uit sy pa se voorbeeld.
Dit het uiteindelik Dawid se oënskynlik suksesvolle lewe laat verbrokkel totdat daar min van oor was. Hy besef dit. Daarom skryf hy in diep pyn Psalm 13 (my parafrase): (lees die Engelse weergawe op Biblegateway HIER)
O Heer!
Dit raak nou te veel.
Dit voel so lank al dit of U my nie wil raaksien nie. Ek ervaar dit dat U U ore toedruk as ek huil en roep, en anderpad kyk as ek voor U staan. En ek begin glo dat dit vir altyd so sal aangaan.
Ek maak desperaat my eie planne, maar hulle werk nie een nie, en dit maak die stres daagliks net al hoe meer en meer.
Hoe lank gaan die lewe en mense my kwes en verniel? Luister tog nou, My Here. U is tog my Verlosser van altyd af! En praat net asseblief, sodat ek kan weet U hoor!!!
U weet wat ek wil hê: Gee my tog net nuwe lewenskrag. Ek wil nie nou al doodgaan nie, want dan sal my mislukkings en foute bly voortleef, en die enigste spore wees wat ek nalaat. En mense sal daaroor vir my lag. Ek hou nog al die tyd vas aan u liefde, soos ek dit leer ken het.
Lees ook: So is die Lewe: Hier is ek!
Ek weet dat U alreeds ‘n uitkoms het vir my probleme, en daaroor juig ek.
Ek wil steeds lofliedere sing oor my Here en my God, almal vertel van Hom, want eintlik was Hy nog net goed vir my.
Die ironieë van ons lewens. Hennie Aucamp het geskryf in sy verhaal “Die nag van die ooms”: “Moèt pa’s dan sterf om vir hulle seuns te lèèf?”
As mens versigtig, eerlik, objektief, na jouself kyk, as pa, as mens, kan jy, soos Dawid, jou Anker herontdek. En ware vrede kry oor ‘n ironiese lewe. Dalk kan jy selfs nog regmaak wat verkeerd geloop het.
Dis nooit te laat nie!