Wednesday, December 18, 2024

So is die Lewe: Skaakmat!

Bookmark
Bookmarked

Daar was op ‘n stadium ‘n aangrypende skildery in die Louvremuseum in Parys, genaamd Skaakmat. Dit is geskilder deur Friedrich Moritz August Retzsch.  Die skildery is nou in die versameling van ‘n privaatversamelaar, nadat dit deur Christie’s in 1999 opgeveil is.  Hierdie skildery wys twee skaakspelers in ‘n ernstige spel gewikkel.  

Die een is Satan, wat arrogant en vol selfvertroue is. Hy kyk triomfanklik af op sy opponent, wie se siel Satan eis as die teëstaander verloor.  Die ooreenkomste tussen hierdie toneel en Chris de Burgh se lied Spanish train, wat jarelank in Suid Afrika verbied is, is nogal merkwaardig. 

Die opponent in die skildery was ‘n jong man. Sy kop omlaag geboë, verslae en skaam omdat hy verloor het.  Sy gesig was vertrek met pyn, en hy is gekonfronteer deur ‘n honende Satan met sy oorwinningslag.  Daar het slegs ‘n paar skaakstukke op die bord oorgebly, en regoor die skildery was die woord “skaakmat” geverf.

‘n Ouerige man stap toe eendag deur die Louvre en stop by die sataniese skaakspel. Hy het doodstil gestaan en vir lank die skildery bekyk. Toe kry hy skielik lewe, en begin uitroep: “Dit is ‘n leuen, dit is ‘n leuen!” Ander mense in die galery het kom kyk wat aangaan. “Wat is die leuen?” vra hulle terwyl hy aangaan om dit uit te roep. 

Die kurator van die museum het ook opgedaag. “Meneer, is hier ‘n probleem, kan ek help?”, het hy gevra.  Die man kyk die kurator in die oë en sê: “Ek is die Franse skaakkampioen, ek sê vir jou dit is ‘n leuen!” Die kurator was nog steeds verward – wat is ‘n leuen? Die man wys na die skaakbord en sê: “Die skilder sal die skildery moet verander, of hy sal die titel moet verander. Kyk, die spel is nie oor nie. Dit is ‘n leuen, dit is nie skaakmat nie, die koning het nog ‘n skuif!  Dit sal die hele spel verander!”

Skaakmat.  Dit is die situasie wat baie mense verstaan.  Wanneer jou geld te min is en die rekeninge te veel.  Wanneer daar niks meer in jou huwelik oorgebly het om te sê nie.  Wanneer jou kinders moed opgee om werk te kry, en nie eens meer probeer nie.  Wanneer die dokter vir jou sê dat daar menslik gesproke niks meer is wat vir jou gedoen kan word nie. 

Wanneer die nuus en koerante vir jou sê dat die nasionale inperking nog verleng kan word, en verskeie mense alreeds sonder inkomste sit.  Wanneer die getalle geinfekteerdes met die coronavirus in ons land daagliks styg, en geen korttermynvoorspellings met sekerheid gemaak kan word nie. 

Wanneer die Suid Afrikaanse ekonomie afgegradeer word tot rommelstatus deur Moodies en Finch.  Wanneer die JSE groot verliese toon en jou pensioenfonds met rasse skrede krimp. Wanneer kerke en winkels gesluit is, begrafnisse baie ingeperk is, en huwelikseremonies nie kan plaasvind nie. 

Wanneer skole en universiteite gesluit is, en onderwysers en dosente in ‘n niemandsland sit oor wat nou en waarheen. Baie van ons verstaan daardie jong man in die skildery wat vooroor sit, kop omlaag. Want ons, ons ken ook van skaakmat. 

Maar, in hierdie week voor paasfees, lees ons van baie ander skaakmatsituasies.   ‘n Klein seuntjie met slegs 2 vissies en 5 brode, en duisende mense wat honger is en kos soek. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif, en hulle tel 12 mandjies kos na die tyd op.

 ‘n Man met die naam Daniël word gegooi in ‘n kuil vol honger leeus.  Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif oor!

Jesus kom by die graf van Lasarus. Hy’s al dae lank dood. Die graf ruik al.  Ook by die dogtertjie van Jairus wat gesterf het.  Die mense sê: “los maar, dis verby.”  Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif oor!

Die vrou by die put moet deur mans met klippe dood gegooi word. Presies só word dit deur die streng Joodse wette voorgeskryf. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif oor. “Gaan en moenie langer sondig nie!”

Twee misdadigers hang sterwend langs Jesus aan hulle kruise. Dit lyk soos skaakmat, hulle is alreeds besig om te sterf.  Maar dit is ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif oor. “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees”, hoor die een wat om vergifnis vra.

Op die Paasfees word die Lam geslag. Die mense skreeu veroordelend: “Kruisig Hom, kruisig Hom!”. Die Romeinse soldate spot Hom en slaan Hom. Hulle spoeg Hom en kap Hom met spykers vas aan ‘n kruis. Hulle steek ‘n spies in Sy ribbekas in.  

Jesus skreeu met ‘n hortende asemteug en gebarste lippe dit uit:  “Eloi, Eloi lama sabagtani – my God, my God waarom het U my verlaat”. Eenkant staan mense en sê: “Ja, ander kon Hy red, maar Homself kan Hy nie red nie”. Dit is verby, skaakmat, gaan maar huis toe. 

Satan leun smalend oor die skouer van die toeskouers by die kruis, dit lyk of alles verby is. Jesus blaas sy laaste asem uit. Dit lyk soos skaakmat. Maar dit is ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif oor! Drie dae later is dit Opstandingsondag.

Die Koning het die laaste skuif. Altyd. Vir jou en my en ons land.