Op 25 Februarie het Laerskool Secunda hande gevat met plaaslike terapeute en ‘n inligtingsaand aangebied om op praktiese maniere hul leerlinge slim-gereed te kry.
Tydens hierdie geleentheid, is van die nuutste navorsingstatistieke deurgegee oor die invloed van skermtyd op kinders en gesinne.
Danile Neethling (spraakterapeut en oudioloog) het die langtermyn impak van teveel skermtyd bespreek en het die belangrikheid van kommunikasie, storietyd en oogkontak tussen ouers en kinders beklemtoom.
Ilidia Lambrechts (geregistreerde dieetkundige) het idees oor gesonde, lae G.I maaltye bespreek, asook die redes daarvoor. Voorbeelde van gesonde kosblikke, wat kinders self kan pak, is gegee. Hiermee saam, is die hoeveelhede suiker en die risiko’s daarvan in daaglikse drankies op ‘n praktiese wyse beklemtoon.
Die biokinetikus, Minette Schneider het klem gelê oor die feit dat ons kinders meer moet beweeg om ‘n gebalanseerde leefstyl te handhaaf. Praktiese voorbeelde is uitgelug vir in en om die huis asook in die klaskamer.
Igna Beukes, opvoedkundige sielkundige, het die aand afgesluit met realistiese riglyne vir ouerskap. Sy het benadruk dat dit ouers se verantwoordelikheid is om hulle kinders te leer om “capable” te wees vir die lewe daar buite en om ‘n wenner te wees binne die vermoë van elke kind.
Vir al vier terapeute was dit eens, dat daar teveel skermtyd en te min gesinstyd en oefentyd is. Dit het ‘n negatiewe impak op gesondheid, fisies en geestelik, wat kinders se akademiese prestasie kniehalter.
Hierdie geleentheid was ‘n eerste, maar beslis nie ‘n laaste nie!