fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, October 29, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Versorgingsoord

    Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is Versorgingsoord

    Dit was Jesus self wat die verhaal vertel het van die verskoningmakers wat Hy gevra het om Hom te volg.  Die een ou het gesê: “laat my eers toe om my ouers te begrawe.”  Jesus het geantwoord: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar volg jy my.”  Jesus se woorde klink hard, maar eintlik het die man gesê: “ek het ‘n groot verantwoordelikheid wat ek moet nakom, wat omtrent al my tyd en energie vat.  Ek pas my bejaarde ouers op.  Ek het nie nou tyd vir enigiets anders nie.

    As jy ‘n bejaarde en verswakte ouer versorg, groei jou simpatie met hierdie verskoningmaker. Want dit is ‘n groot werk, en nog groter verantwoordelikheid.  Die tekens is daar dat jy nie lank meer die taak sal kan nakom nie, al is jy hoe toegewyd en al is jou liefde vir jou ouer onbegrensd groot.

    Jy sien die tekens  een vir een.  Die skouers wat hang.  Die hande wat lomp raak en kort-kort ‘n koppie of glas laat val.  Die gedagtes wat kort raak.  Die oë wat amper deurskynend raak en dikwels betraand is oor onthoudinge.  Die skuifelstappie met die loopring.  Die bord kos wat ongeëet weggestoot word. 

    Die vergeet van hoeveel pille gedrink is, en kort-kort weer verkeerdelik gedrink word.  Sodat jy moet ingryp. Pille uitdeel. Besigheid doen namens hom of haar, inkopies gaan doen, sorg dat daar brood en melk en toiletpapier is.  En magteloos toekyk hoe die een trotse mens, altyd onberispelik versorg, verskrompel tot ‘n hopie bene wat op die bed lê en die vertes instaar.

    Dan, die BESLUIT.  Die een wat jy uitstel en uitstel.  ‘n Vrou kan nog haar ma versorg tot die uiterste, maar ‘n man kan nie sy ma so versorg nie. 

    Skielik bevind jy jouself voor die deur van die versorgingsoord.  Deur jou Covidmasker ruik jy die ontsmettingsmiddels en ander reuke.  Jy sien die tannietjies en oompies wat vier-vier in ‘n kamer lê en na die deur staar. Iewers hoes iemand ‘n roggelhoesie.  Iemand skuifel in die gang by jou verby.  Iemand lui aanhoudend ‘n klokkie.

    Jy ruik Vicks en Lennons. Almal kyk vol afwagting na jou, asof jy die teken is waarvoor hulle gewag het. Asof jy spesiaal gekom het om een van hulle te kom verlos uit hulle eensaamheid.  Jy maak jou oë toe, sluk aan die knop in jou keel en gaan haal die aansoekvorms namens jou ma by die kantoor.  Jy maak ‘n punt daarvan om nie links of regs te kyk nie. Reguit voordeur toe, weg, weg, van die naakte realiteit wat jou hier trompop konfronteer.

    Maar iemand roep jou voordat uitloop.  In die ingangsportaal sit ‘n tannie, netjies aangetrek, handsak op die skoot.  “Ek wag vir my seun,” sy, “hy kom my haal om by hulle te gaan kuier.  Hy is so oulike man.  Hy is geleerd, hy het grade en ‘n belangrike werk.  Hy ry so mooi kar, en woon in ‘n groot dubbelverdiepinghuis.  Hy dien op baie rade en direksies, en maak verskriklik baie geld.  Sy kinders studeer almal.  My seun gaan my netnou kom haal.  Dan gaan ek so paar dae by hulle kuier.  Ek is so geseënd om sulke wonderlike en suksesvolle kinders te hê!” 

    Sy verstaan nie hoe inperkingsmaatreëls werk nie. Ook nie waarom almal maskers dra nie.  Jy glimlag saam met haar, deel haar kortstondige vreugde.  Sy word die fokus van jou hoop.  My ma gaan net so positief soos hierdie tannie wees, oortuig jy jouself.  Sy gaan hier gelukkig wees.  Almal gaan vir haar goed wees.

    As jy jou motor aanskakel, is dit, toevallig, Jacques Brel se Old Folks wat op die radio speel.  “The old folks don’t talk much, and they’re talking slowly when they do. They are rich, they are poor, their illusions are gone, they have lived to long.”

    Old Folks by Jacques Brel

    Op ‘n manier word die besluit tog vir jou makliker.  Moenie dink aan die negatiewe nie.  Die mense word met liefde en deernis daar versorg.  Die personeel is toegewyd en bekwaam.  Hulle verstaan die uitdagings van bejaardeversorging baie beter as jy.  Hulle het ‘n passie vir hulle werk.  Hulle is 24 uur aan diens.

    Jy besef hoe moeg jy fisies, geestelik en emosioneel is. Jy begin om jou ma voor te berei op die moontlikheid dat sy beter versorging nodig het as wat jy kan bied. Jy vertel jouself dat dit vir al die betrokke partye, jou huwelik en gesin, en jou ma inkluis, die beste opsie is.

    LEES OOK: So is die Lewe: Skiet Afrika

    Jy vul die dik bundel dokumente in. Verslae van die dokter.  Mediese geskiedenis.  Medikasie gebruik.  Finansies. Begrafnispolis. Naasbestaandes. Die woord naasbestaande maak jou bewerig.  Jy dink aan ander kontekste waarin dit gebruik word.  Na so twee weke is die aansoek gereed om ingedien te word, en jy dapper genoeg om dit in te dien.

    Jy stop weer voor die versorgingsoord, hierdie keer meer oortuig van die meriete van jou besluit.  Maar, wanneer jy by die voordeur instap, is dieselfde tannietjie van twee weke terug weer daar op haar pos.  Dieselfde netjiese blommetjiesrok, selfgebreide truitjie aan, ten spyte van die hitte, en dieselfde afgeleefde handsakkie op die skoot. 

    Sy kyk stip na die straat voor die gebou, maar herken jou skielik as jy inkom. “More tannie!” Jy groet so hartlik en vrolik as wat jy kan.  “Het tannie toe lekker by tannie se seun gekuier?” Vra jy, al weet jy by voorbaat.  “Ag jong, hulle is so besig, hulle kon toe nie by my uitkom nie.  Jy weet, al die verantwoordelikhede en vergaderings.  Maar hy is vandag hier naby vir ‘n belangrike vergadering, en sal kyk of hy na die tyd my kan kom haal.

    En sy kyk weer na die karre wat in die straat verbyry.  Jy weet hy gaan nie opdaag nie.  Hy mag ook nie tans nie.  Ek staan met ‘n groot pak ingevulde vorms in my hand.  “Kan ek u help, meneer?”, vra ‘n vriendelike verpleegster my as sy verbyloop.  “Nee dankie,” sê ek. 

    Ek het net kom kyk hoe dit hier lyk.”  Mompel ek agter my masker.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Versorgingsoord