-

Columnist So is die Lewe: Brief aan my kinders

So is die Lewe: Brief aan my kinders
S

Watter tragiese gebeurtenis vir twee mense wat altwee diep spore hier op planeet aarde getrap het. Hulle het net skielik verdwyn, asof hulle nooit bestaan het nie.

My liewe kinders

Vreemde tye.  Ek weet julle stem saam, want jong mense ervaar dit net so intens soos bejaardes in hierdie land en wêreld. Julle drie is ook persoonlik geraak hierdeur. ‘n Nuwe boerdery, waaraan lank en swaar beplan is met kostes, sweet en stres, met ‘n groot skeut hoop, is nou aan die genade oorgelewer. 

Soveel regulasies, soveel boere wat eindelose probleme het om aan te gaan met hulle normale aktiwiteite.  Geld wat bitter skaars geword het.  Universiteitstudies wat ontwrig is, met ‘n lentegradeplegtigheid wat nou onseker lyk.  Jare se harde voorgraadse en nagraadse werk, oorsese studies, het newelrig geword.  Geen vaste doelwitte bestaan in die akademiese program nie. 

Jy, my jongste vastrapkind, het steeds voortgaande werk in die landbouverwante bedryf, maar daaglikse kontak met vele hoë risikomense op wynplase en wingerde maak dit ook geen Sondagskoolpiekniek nie.  Jy is so ver in afstand, daar op jou eie. The times they are a’changing, soos Bob Dylan gesing het, inderdaad.

Maar weet julle wat is vir my baie sleg? Oom Cecil se afsterwe. Ook die afsterwe van neef Dieter se pa. So stomp is ‘n lewe afgesluit. Die troosdienste op Facebook en Skype was eintlik maar ‘n troostelose affêre. Die predikant alleen in sy sitkamer by sy eetkamertafel.  Ook die diens waar agt mense teenwoordig was, elkeen iewers in ‘n hoek. 

Watter tragiese gebeurtenis vir twee mense wat altwee diep spore hier op planeet aarde getrap het.  Hulle het net skielik verdwyn, asof hulle nooit bestaan het nie.  Asof die planeet waarop hulle spore getrap het, hulle eensklaps weggejaag het. Geen oop graf in geliefde tuisgrond om in te rus nie. In daardie laaste oomblikke; wie weet hoe alleen hulle dalk was?

Niemand is by hulle toegelaat nie. Wou hulle dalk nog iets gesê het? Was hulle bang, angstig, sonder hulle geliefdes? ‘n Lewe wat maar net weggeraak het sonder ‘n behoorlike afskeidsgroet?  ‘n Kers wat uitgedoof is, en net duisternis agtergelaat het?

Dit het my laat terugdink aan al die begrafnisdienste wat ek in my loopbaan gelei het. Te veel om te onthou.  Die militêre begrafnisse met die orkes vooraan wat Handel se Dodemars van Saul speel, die Samil wat die kanonwa sleep waarop die kis met gedrapeerde landsvlag is.  Ek as kapelaan met lanfer-rangkentekens agter die Samil, die draers, die slippedraers wat somber-plegtig met eerbetoon stadige-pas-mars agter my.  Seremoniële geweerskote. ‘n Finale saluut by die voetenent.  Daar is deeglik gegroet.  ‘n Lewenskringloop voltooi. Met waardigheid en eer.

Ook Plooysburg se begrafnisse.  Ons het na die diens in die kerkgebou in ‘n lang optog geloop na die begraafplaas aan die kant van die dorp.  Ek agter die lykswa met my swart toga. Familie en vriende ingehaak agter my. Hulle het mekaar ondersteun en vertroos. Dan die groot saamwees in die kerksaal met skaapboud, toebroodjies, hoenderboudjies, beestong, koeksisters, noem maar op. 

Waar afsluiting gekry is, vertroos is, en familiebande verder versterk is.  Ek onthou hoe bly julle altyd was as daar ‘n woefkardoes van die begrafnisete af saamgestuur is vir die kindertjies by die pastorie.

Natuurlik laat al hierdie dinge mens dink aan jouself. Ek was al ‘n paar keer op die punt waar mens eintlik sou groet.  Gelukkig was ek gespaar. Maar kom ons wees oopkop.  Kom ons dink daaroor sonder om ons koppe toe te gooi met ‘n kombers, en te sê dit sal nie gebeur nie. 

Ek wil hê julle moet die meeste maak van die slegte saak. Julle kan steeds ‘n lewe vier. Maak ‘n portefeulje van foto’s wat julle aan my laat dink.  By karre, motorfietse, in die wildtuin.  Saam met julle by die see, op kersfees en julle verjaarsdae, in my uniform, in die karavaan. By ‘n springbok of blouwildebees en .303 in die hand in die jagveld. Met ‘n groot karp wat in die Rietrivier gevang is, soos ons gewoonte was.  Dikwels aan die lag.  Soms bedonderd. Dikwels bewoë. Dikwels die hart van die partytjie.  Dikwels ook die een wat anderpad kyk, wat die donkerder deel van die toneel raaksien.  Foto’s van ‘n klein oopbekseuntjie, later ‘n skuifelende, kreunende ou man.

Dan sit julle musiek by.  Julle sal weet: Pink Floyd se Comfortably Numb, Dire Straits se Brothers in arms, Handel se Dodemars van Saul. Valiant Swart se Sonvanger, Coenie de Villiers se Laaste Maal, Piet Botha se Jakob Klipkop.  Mozart se Requiem, en oom Japie Laubscher se Ou Waenhuis. Ook Bacchus Nel en Leonard Cohen.  

Kom bymekaar, wanneer ookal, en kyk na hierdie filmpie.  Laat weet almal op Facebook, die wat van my gehou het en die wat my verpes het, om te kyk na die plasing hiervan op my facebook blad.  As julle dit kyk, lag, vertel stories oor my, onthou diè kere toe julle baie kwaad was vir my oor iets wat ek verkeerd gedoen het.

Die inperking is nie sterk genoeg om ‘n leeftyd te verwoes nie.  Moenie dat julle gees, julle emosies en julle herrineringe uitgevee word deur ‘n amorfe wese, (soos wat ‘n vorige minister van finansies verwys het na die finansiële markte,) julle reg om te lewe, te droom, en selfs te treur nie. Lees Jesaja 40 en Romeine 8 voor, en lees Van Wyk Louw hardop.

As alles weer na normaal terugkeer, gaan Plooysburg toe, hou ‘n familiefees, en begrawe my kissie as by die voorhekkie van ons huis, daar by die sleeper waarop die BRITZ-koperletters is.  Van daar af kan ek ‘n mooi uitsig op die rantjies hê, en die pad wat ek so baie geloop het vanaf die kerkgebou tot in die begraafplaas. En, sit ‘n versie daar op:

Oë,   bly mooi dinge sien van my

Ore,  bly gawe dinge hoor van my

Neus  bly lekker dinge ruik van my

Mond  bly soet dinge proe van my

Hande  bly sterk dinge voel van my

Verstand  bly goeie dinge glo van my

Geheue   bly mooi dinge onthou van my

Sodat jy  Hart  kan lief bly vir my.

Ek is nie weg nie.  Ek is net daar.

Pa.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here

So is die Lewe: Brief aan my kinders

Watter tragiese gebeurtenis vir twee mense wat altwee diep spore hier op planeet aarde getrap het. Hulle het net skielik verdwyn, asof hulle nooit bestaan het nie.

- Advertisement -

Latest news

Eagles win the Covid indoor cricket league.

The Eagles have done in again with their win in the Covid league, Mens A division.

Hair mask DIY with L&A

DIY Hair mask with L & A With the weather becoming increasingly warmer...

16 Days of Activism kickstarted by peaceful march

16 Days of Activism kickstarted by a peaceful march this morning from the Secunda Police station...

Bail granted to alleged fraudster

ALLEGED FRAUDSTER GRANTED FIFTY THOUSAND RAND BAIL FOR FRAUD MPUMALANGA – Osfael Vusimuzi...

You might also likeRELATED
Recommended to you