fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Tuesday, July 14, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: William Shakespeare

    William Shakespeare, een van die grootste skrywers van alle tye, was geen opgeleide en geregistreerde sielkundige nie. 

    Hy het egter die psige van die mens baie goed verstaan, in so ‘n mate dat sy drama’s oor die liefde en oor die lewe na al die eeue steeds so universeel geldig is, dat dit in baie Westerse lande nog verpligte studiemateriaal in skole en op universiteite is. Die geesteswetenskappe en letterkunde sou baie armer wees as Shakespeare nie deel was daarvan nie. 

    In matriek moes ek en my maters ook worstel, gelukkig gelei deur die bekwame hand van mnr. Tewie Bester, met Shakespeare se Hamlet. Ek onthou dat ons ter voorbereiding van die eindeksamen Hamlet se soliloog, die toneel waar hy sit met sy pa se skedel in sy hand, uit ons kop moes leer:  “To die, to sleep; / to sleep, perchance to dream—aye, there’s the rub: / For in that sleep of death what dreams may come.” 

    Ek het Engels in matriek deurgekom.  Deels omdat ek daardie soliloog “To be or not to be” so goed geken het, dat ek dit vandag, na 42 jaar, nog feitlik verbatim uit my kop kan opsê.  Dis veral handig om mense om ‘n braaivleisvuur te vermaak as die blonde-grappies opraak.  Jonger mense hang aan die ou oompie se lippe, oor oompie so baie weet.  Hoeveel ek egter daarvan verstaan het in matriek, is ‘n ander vraag.

    Die afgelope paar weke het Shakespeare vir my eers effens begin sin maak.  In hierdie opgelegte inperking het ook reise na binne begin, reise wat verder gaan as die bewuste van jou rasionele denke en geheue. Dit is waarneembaar in baie plasings op facebook; oënskynlik rotsvaste mense wat skielik in hulself allerande grys areas ontdek, ou vrese, woede, onsekerhede en bitterheid wat na vore kom. 

    Die toenemende behoefte na sekerheid en beheer ontbloot juis dít wat baie lank bedek was. Die woorde van die Indiese wysgeer Sadhiguru som dit mooi op: “You cannot suffer the past or future because they don’t exist. What you are suffering is your memory and your imagination.

    Dit kan op verskeie maniere verstaan word.  Freud en Jung was die akademici wat teorieë oor byvoorbeeld drome teoreties kon verwoord, maar gewone mense met gewone lewens kan ook ‘n sinvolle bydrae lewer oor hoe die bedekte ervarings van ‘n lewe geleef na vore kan kom in buitengewone omstandighede. Wie kan nie vertel van ontstellende drome, wat so werklik was dat klanke en selfs reuke deel daarvan was nie? 

    Die verlede, maar ook die toekoms word hierby ingesluit. Menige middeljarige mans droom oor die Angola-oorlog, van diensplig en basiese opleiding. Baie van hulle het nog nooit oor hulle belewenisse daarvan gepraat nie.  Selfs hulle vrouens, wat hulle intiem ken, is uitgesluit van hierdie gebeure. Dit is deel van ‘n private, verseëlde lewenservaring wat dalk net soms per droom betree word. 

    Dan word hulle natgesweet, soms skreeuend en selfs huilend wakker.  Ook ligsinnig “Bossies” genoem, of meer tegnies korrek Post Traumatiese Stres-sindroom.

    Wat die toekoms betref, is dit opvallend hoeveel mense op hol gaan oor fopnuus oor toekoms-scenarios van Suid Afrika, skynbaar beter bekend deesdae as Mzansi.  Dalk was dit ook al jou ervaring: die aand voor ‘n belangrike byeenkoms, soos ‘n moeilike vergadering of jou kind se troue, beleef jy in ‘n droom elke oomblik daarvan, en in daardie droom kom staan alles wat verkeerd kan gaan, soos drake voor jou en manifesteer hulleself as werklike gebeure.

    Dis met ‘n groot verligting dat mens wakker skrik, en uiteindelik besef dat dit maar net ‘n droom was.  Tye wat jou onderbewussyn nie so dig gesluit bly nie, en meer toeganklik word.

    Die drome kan dikwels, soos genoem, gesneller word deur tye van ekstreme druk, en ook deur sintuiglike waarneming. Met die kyk van die skrikwekkende rolprent Platoon het ek onlangs besef hoe waar hierdie ding van kriptiese ervarings is. Die karakters in daardie rolprent is grusaam wreed.  Dit was nie eerstens die Viëtnamoorlog nie, maar die spoke van hulle verlede wat hulle onder druk so laat optree het.

    Een spesifieke toneel in die fliek het my skielik laat onthou van een aand in die bos, ‘n insident waaraan ek vir dertig jaar nooit gedink het nie.  Ek onthou die donker, die onbekende van die boomryke omgewing, die reën, die Landrover, die onsekerheid en onbekendheid van die rit. Ekstreme angs. Daarmee saam name, en range.  Maar gesigte bly steeds ‘n vae grys kol.  Wat daardie aand gebeur het, is ook totaal begrawe. Met selfs die grootste bewuste inspanning kon ek dit nie onthou nie.

    Maar, soos ‘n domino-effek, het die een herinnering na die ander daarna gekom.  ‘n Nagrit met ‘n Super-Frelonhelikopter, laag oor die boomtoppe, terwyl die vure in die krale onder flikker soos vuurvliegies wat skyn en verdwyn. Ek het agter die net by die oop sydeur gesit. Wanneer, waarheen, waarom? Ek weet nie.  Ek kan nie onthou nie. Ek wil ook nie.

    Ek lees iewers dat die mens se onderbewussyn soos ‘n opgeblaasde ballon is. Elke ervaring, elke belewenis en negatiewe emosie word opgegaar, en die ballon swel en swel. Die onderbewussyn vergeet nooit.  Dit is waarom hipnoterapie deur sielkundiges met groot vrug ingespan kan word om daar in te gaan.  Die ballon word bedek deur water, niemand kan dit sien nie.  Net jou alledaagse eksistensie is vir andere sigbaar, soos die bekkie van die ballon wat bo die water uitsteek. 

    Maar soms, net soms, dan word daardie ballon wat onsigbaar is, onder druk geplaas.  Dan borrel ‘n groot klomp goed by die bek uit, goed wat vir lank opgegaar is, en wat nooit hanteer is nie.  Skielik word die bestendige, gelykmatige persoon iemand anders; woedeuitbarstings, impulsiewe optrede, kwetsende opmerkings, wat ook al.  Agterna beskryf hy sy optrede as “buite homself.” Of sy sê: “Ek het dit verloor.”

    Hierdie tydperk waarin ons wag dat alles na normaal terugkeer, is ‘n goeie tyd om jou skaarsbewuste ervarings neer te skryf.  Natuurlik net vir jou eie oë bedoel. En dan, as jy niks meer slegte dinge kan onthou nie, dan verbrand jy daardie bladsye een vir een.  ‘n Seremoniële einde van wat Sadhiguru “your memory and your imagination: noem. Ten minste sal dit een goeie ding wees wat Inperking in sy rugsakkie saam met hom gebring het.

    So is die Lewe: William Shakespeare