fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, October 1, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Honger

    Die Raad van ondersoek, met ‘n patologiese verslag, het bevind dat die troep wat verdrink het, bykans vier keer die normale hoeveelheid kos in sy maag gehad het as wat ‘n normale mens kan eet

    Die Gereformeerde Blues Band sing: “In die tronk / is dit ‘n gewone dag / in die tronk / net soos elke ander dag / in die tronk / hoor jy laat in die nag / die honde blaf / in die tronk / kettings aan die mure vas / in die tronk / kettings aan jou voorkop vas / in die tronk / kettings aan jou denke vas / en laat in die nag / hoor jy ver / die honde blaf.”

    Met die aanvanklike aankondiging van die landswye inperking was daar grootliks ‘n stilswyende instemming by die meeste Suid Afrikaners dat dit die beste manier is om die Coronavirus se verspreiding te bekamp. Die aanvanklike inligting was dat die inperking net drie weke sou duur.  Die uitdraai van die hele situasie lyk nou egter totaal anders as wat die meeste mense in hulle wildste voorspellings kon voorsien het. 

    Die uitwerking van die verlengde inperking, asook die sowat 500 regulasies wat daarmee saamgaan, het ‘n situasie geskep wat ‘n onbeplande uitkomste genoem kan word.  Inderdaad is mense gefrustreerd, verward en oningelig oor die presiese vertolking van wat en wat mag nie. 

    Gewone mense se lewens word so gereguleer, dat die verkoop van alkohol en nikotien verbied is. Terwyl die gebruik van dagga wettig is.  Daarmee saam word die regulasies se vertolking skynbaar oorgelaat aan individue in magsposisies wat dit totaal uiteenlopend vertolk.  Dit bring absurde situasies mee, soos dat ‘n kleuter wat op die strand ‘n draai hardloop, se ouers in hegtenis geneem word.  Elders word ‘n kleuter deur verkeersbeamptes in hegtenis geneem, terwyl sy pa skreeuend hom probeer terugkry.  Dit maak opslae in die media, en jaag die woede onder gewonde landsburgers tot op kookpunt. 

    Terselftertyd word 19000 gevangenes vroegtydig vrygelaat omdat “die staat ‘n verpligting het om hulle belange te beskerm”, aldus ‘n hooggeplaaste.  Mense wat gevonnis is vir diefstal, bedrog en ander misdade, is skielik buite die tronk. Terwyl wetsgehoorsame, belastingbetalende Suid Afrikaners wat nog nooit aan enige misdaad skuldig bevind is nie, gearresteer en toegesluit word en obsene boetes moet betaal vir “misdade” soos die uitdeel van kospakkies vir honger mense, en ry in hulle motors (totaal geisoleerd van enigiemand anders,) terwyl hulle nie maskers op het nie.

    Een persoon kry R10000 boete omdat hy in die tuin op sy sypaadjie werk, terwyl ‘n eskader mense wat uitgewys is by die Zondo-kommissie vir die verdwyning van miljoene rande en grootskaalse wanbestuur en korrupsie, niks oorkom nie.  In baie stedelike gebiede is hordes mense wat alle regulasies oortree, terwyl ‘n hele polisiemag ‘n branderplankryer in die Kaap arresteer wat op sy eie in die see was.

    Werkloosheid neem drasties toe, en met die skrywe van hierdie rubriek waarsku dr. Roelof Botha, bekende ekonoom, dat Suid Afrika binne twee weke bankrot kan wees as daar nie ’n verslapping van reëls is nie.  Aan die ander kant moet toegegee word dat die getalle van mense wat aangesteek word met die virus, asook sterftes, daagliks toeneem.  Wye konsultasie is nodig, en politiekery soos wat ook tans plaasvind, moet heeltemal geamputeer word.

    Voorwaar is ons almal in tronke, soos die GBB sing, terwyl ons denke in kettings gebind word. Ons hoor ook duidelik na agtuur in die aand die honde blaf, terwyl ons onder huisarres is.  Ver in die nag blaf hulle, omdat hulle dalk dinge vermoed wat vir ons nie duidelik is of sin maak nie.

    Die ergste, mees kommerwekkende ding van die huidige omstandighede, is mense wat nie kos het nie.  Wat doen ‘n pa as sy kinders huil, en daar geen geld of kos is nie?  Wanneer nie-regeringsorganisasies deur onsinnige regulasies verbied word om kospakkies uit te deel? Dit is interessant hoeveel oop harte en hande daar is om honger mense te help. Dit is net so skokkend hoeveel mense onder die broodlyn begin lewe. 

    Dit herinner aan die wêreldoorloë, waar tonele waar gewone mense in lang toue staan en wag vir ‘n skeppie sop, ‘n algemene gesig was.  Miskien is die honger van gewone mense tans een van die plofbaarste kwessies.  Die sielkundige implikasies van hongerly word nie altyd besef deur mense wat die vermoë het om drie keer per dag te eet nie. Noodwendig word verskeie kettings wat aan jou denke vas is, weer helder:

    Aan die begin van die negentigs van die vorige eeu het daar baie nuwe troepe begin inkom in die destydse SAW,  wat nie dienspligtig was nie. Hulle het die kerkkampe wat ons by Lugmaggimnasium gehou het tydens basiese opleiding, geesdriftig ondersteun. Een aand, na dagafsluiting, het al die manne gaan swem in die swembad. Ek, as kapelaan, was offisier in beheer, met min of meer die verantwoordelikheid van ‘n bevelvoerder van die kerkkamp.  Ek hoor laataand ‘n kabaal, en storm uit na die swembad toe.

    Daar was grootskaalse paniek. Een van die  troepe, ‘n seun van Mamelodi, het op die bodem gedryf. Hy was reeds dood toe die korporaals hom uithaal. Daar was ‘n Raad van ondersoek, wat vir my persoonlik groot stres veroorsaak het. Die uitslag was hartverskeurend: Op hierdie kerkkampe het die weermagkokke ‘n oorvloed van kos gemaak, met baie vleis, wat heelwat smaakliker as die gewone menasiekos was. Daar was ‘n groot verskeidenheid, en hulle kon soveel eet en soveel keer skep as wat hulle wou.  

    Die Raad van ondersoek, met ‘n patologiese verslag, het bevind dat die troep wat verdrink het, bykans vier keer die normale hoeveelheid kos in sy maag gehad het as wat ‘n normale mens kan eet. Hy het opgebring, verstik en toe verdrink. Die maatskaplike verslag het bevind dat hy in ‘n plakkershut grootgeword het, 8 mense in een sinkvertrek, waar hulle sommige dae net pap of brood geëet het, ander dae niks. Dit is wat ek onthou as ek tonele sien van mense wat storm vir kospakkies, of in kilometer-lange toue staan.  

    Hier, vandag, tussen ons. To ghastly to contemplate.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Honger