fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Sunday, September 20, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: HOëVELD DINK

    Alleen, maar tog ook nie. Jou Hoëveld-dink-vriende is by jou.

    HOëVELD DINK.  Daardie diep dink wat jou wegvoer na herrineringe, só helder, só intens dat jy die kosmos bykans kan sien, kan ruik. Die pienk en pers en wit blomme om jou sien lê soos ‘n tapyt.  In hierdie vreemde tye is dinktyd noodwendig meer. 

    Maar die huidige dinktyd is anders as die dinktyd waarvan Herman Charles Bosman skryf in sy storie Willem Prinsloo’s peach brandy. Hy vertel tong-in-die-kies van ‘n momentele dinktyd; die aand met ‘n groot dans op ‘n plaas in die Groot Marico. Toe hy by die voordeur van die plaashuis instap, verwys die gasheer hom na die kombuis waar die tuisgestookte mampoer is. 

    Hy kon duidelik die mampoerrumoer hoor agter in die huis. Maar, sê hy, wat hom die meeste getref het, was die aantal manne wat teen die lang muur geleun het in die gang, hulle arms teen die muur gesteun, hulle koppe rustend op hulle arms. Dit het hom laat besef dat mampoer mens slim maak, dat dit jou laat dink. Heelparty gaste het so teen die muur gestaan en dink op pad terug van die kombuis af.

    Hierdie tyd waarin ons onsself nou bevind, laat mens ook dink.  En onthou.  Maar dis anders as die dink op Willem Prinsloo se plaas, (of dalk nie!) Omdat alle alkoholverkope gestop is, is daar vele stokers uit nood gebore: bier uit pynappel, cider uit appel en jenewer uit aartappels. Party skynbaar met meer sukses as ander. Ek lees dat die hoeveelheid suiker wat bygevoeg word direk eweredig is aan die vreugde en wysheid uit een bottel. Diè wat weet sê as hulle te veel van die tuisgebroude konkosies absorbeer, dan laat dit jou met tydelike geheueverlies nadat jy diep gedink het.

    Hoëvelddink is anders. Dit gebeur wanneer jy laatmiddag sit en oorswelg word deur stilte van afwesige verkeer. Hoëveld dink hier op die weskus vat jou terug na ou, toegegroeide paaie, na Springs en Pretoria en Olifantsfontein en Trichardt. Hoëvelddink kom by jou op as iemand, iewers in die buurt, die Patetique-sonate op ‘n klavier speel, soos Koos Kombuis se Lisa in die laatnaguur as die hele wêreld stil word en luister na die naggeluide van Lisa se klavier. Hoëvelddink laat jou besef dat iewers iets nie pluis is nie, dat jy in jou lewensroete se beplanning baie afdraaipaaie nie eers naasteby kon voorsien nie.

    Beethoven: Sonata “Pathetique” Op. 13 – I. Grave. Allegro di molto e con brio

    Jou hoëvelddink-vriende se gesigte doem voor jou op.  Een-vir-een het hulle weggeraak. Van party hoor jy weer, kontak jy deur Whatsappgroepe en Facebook en deel grappies en Bybeltekste. Van ander hoor jy nooit weer nie.  Maar jy dra hulle saam waar jy ook al gaan. Jy diep hulle op in abnormale tye soos hierdie, en besoek saam met hulle die plekke en tye van jou diepdinkgedagtes.

    Lank ná jou skooldae en universiteitsdae vou jy die album van jou kopkiekies oop. Jy onthou soveel goed daar waar jy in stil hartkamers delf, soos Koos Doep, ook ‘n oud Springsman, sing.

    Jy onthou die stoomtrein wat laataand op Springsstasie vertrek, die klanke van sy blaas en steun wat dawer in die helder nag.

    Die koue winter in Springs toe julle sop en broodjies by Jan van Riebeecklaerskool gekry het, en julle gekla het dat net bandiete uit blikbekers drink.

    Die soel nagte in Petersfield toe julle dryfings met ‘n rugbybal in die straat gespeel het, of toktokkie gespeel het.

    Die melkman wat vroegoggend met sy elektriese karretjie gekom het, en julle melk op die sypaadjie afgelewer het.

    Die slagter se afleweringsfiets met julle vleis in bruinpapier toegedraai, en die handgeskrewe faktuur op die pakkie vasgespeld.

    Die begrafnis toe twee van julle laerskoolmaats, twee boeties, beide deur ‘n motor raakgery is, en jy as draer afgeneem is op die kerkstoep langs die wit kissie, met ‘n diep frons op jou voorkop omdat jy van die grootmenswêreld niks verstaan nie.

    Jy onthou die nagte in huis Mopanie, toe jy en jou gangmaats laatnag sit en filosofeer het, Koos Doep se liedjies op die kitaar gespeel het, gedroom het oor die toekoms.  Jy onthou die aand toe julle ‘n massahipnose-vertoning deur prof BP Geldenhuys in die Roossaal bygewoon het, en agterna met mindere of meerdere mate van sukses mekaar in die koshuiskamer probeer hipnotiseer het, en Christo stormdronk geword het op ‘n glas water as gevolg van ‘n post-hipnotiese suggestie wat ons in die lesing gesien het toe die sielkundeprofessor dit gedoen het, en ons dieselfde probeer het.  Julle het bulderend gelag.

    Jy onthou die heerlike en skrikwekkende tye van die warm Oktobernagte in Pretoria, toe die jakarandas pers in die strate geblom het en eksamen soos ‘n donker sif oor alles neergesak het. Toe jy en vriend Piet met julle twaalfsnaarkitare gaan sêrrie het by huis Jasmyn, en ‘n geirriteerde derdejaarstudent wat die volgende dag wiskunde sou skryf, amper vir Piet die ewigheid ingehelp het met ‘n groot potplant wat van die vierde verdieping af gegooi is, en hom teen die kop getref het. Die einde van jou amateurloopbaan as troebadoer.

    Wanneer jy oor die mistige strandmeer in Langebaan staar, word alle sluise wat jou laat onthou oopgetrek. Tot daar waar jy eens was, eens geleef het, gelag het.  Daar waar alles so seker gelyk het.  Daar waar jou teenwoordige gees ontneem word van al sy grys-skakerings, en alles vol helder kleure is. Daar, waar jou Hoëveldvriende en kennisse wat tans oor planeet aarde versprei is, almal nog knus lewe in ‘n hersenskim.  Daar waar jy jou siel bakhand aangee aan almal wat vêr en onsigbaar is.

    En jy, jy sit karmosyn in die sononder, soos Boerneef sal sê.  Alleen, maar tog ook nie. Jou Hoëveld-dink-vriende is by jou.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: HOëVELD DINK