fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Wednesday, October 28, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe: Kiem

    In die Andes het hy op ‘n harde manier die werklikheid van die lewe leer ken: dit loop nie altyd soos jy beplan nie

    Nou kruip ons almal nog langer weg in ons binnekamers sodat die Kiem ons nie betrek en ons hom vinnig aan mekaar laat aangee soos ‘n Springbokspan se agterlyn ‘n rugbybal tydens ‘n onstuitbare beweging nie.

    Natuurlik is daar baie reaksies op wat op die oomblik aan die gang is oor die hele situasie. Een daarvan is humor; op sosiale media is daar hordes grappe wat heen en weer vlieg tussen vriende oor mense se dade in hierdie tyd. Die nuutste op facebook is dat mense mekaar uitdaag om ‘n konkoksie gemeng met rou hoendereiers af te sluk, dis nou die ouens wat genoeg alkohol oorhet om dit te meng met rou eiers.

    Andere is meer desperaat; weens die verbod op alkoholverkope het die aantal trefslae op Google, soos oor hoe om jou eie bier te brou, met 500% vermeerder. Onteenseglik is daar onder die oppervlakte ook baie onsekerheid en angs. Verskeie kenners meen dat mense, veral entrepreneurs wie se inkomste van hulself afhang, groot angsvlakke het. Hulle beskryf die reaksie op die inperkingsmaatreëls as dieselfde as die fases van ‘n rouproses: ontkenning, woede, depressie, aanvaarding en heraanpassing.

    Die positiewe, as mens dit so kan noem, van die hele ervaring is dat ons ons eie grense kan toets en skuif. Tot hoeveel is jy werklik emosioneel en geestelik in staat? Dit is soos basiese opleiding in die weermag: jy leer waartoe jy in staat is deur swaarkry.

    Fernando “Nando” Parrado, gebore op 9 Desember 1949, is een van die sestien oorlewendes van die Uruguayse Lugmag se vlug 571 wat op 13 Oktober 1972 in die Andes gebergtes neergestort het. Hierdie vlug staan bekend as die Wonderwerk van die Andes (El Milagro de los Endes), wat ‘n beplande vlug was van 45 mense, insluitende ‘n rugbyklub se spelers, hulle vriende en familie en spanbeamptes.

    Meer as ‘n kwart van die passasiers het gesterf in die ongeluk, en ander het daarna vinnig omgekom as gevolg van die bittere koue en beserings. Van die 27 oorlewendes wat ‘n paar dae na die ongeluk nog geleef het, is agt dood as gevolg van ‘n sneeustorting wat oor die vliegtuigwrak wat hulle laaste skuiling was, gestoot het. Die laaste 16 oorlewendes is gered op 23 Desember 1972, meer as twee maande na die ongeluk.

    Die oorlewendes het bitter min kos gehad in die verskriklike toestande sowat 3600 meter bo seespieel. Gekonfronteer deur dood en radioberigte wat oor die vliegtuig se radio opgevang kon word, moes hulle hoor dat die soektog na hulle afgelas is.

    Hulle het oorleef vir ongeveer twee maande onder haglike omstandighede in die sneeu en gebrek aan lewensmiddele. Hierdie insident het wêreldwyd aandag getrek toe dit bekend geword het dat die oorlewendes van die vliegramp uiteindelik genoodsaak was om die medereisigers wat in die voorval gesterf het, se liggame wat in die ys bewaar is, te eet om te oorleef. Hulle hoop het minder en minder geword.

    Daar was naderhand een groot pessimistiese, bykanse fatalistiese aanvaarding dat hulle almal sou sterf. Die reddingspanne kon geen teken van hulle vind nie, geen verkenningsvlugte het eers naby hulle verbygegaan nie. Deurentyd het Parrado positief gebly, en sy medereisigers moed probeer inpraat. Uiteindelik moes hy homself dwing om nie self moed te verloor nie.

    Na sestig dae van stryd om aan die lewe te bly in die wanhopige isolasie en onmenslike toestande, het hy en Robert Canassa vir tien dae oor die toegesneeude Andesgebergte geklim, sonder enige beskermende kleredrag of voorraad, om hulp te gaan soek.

    In sy biografie skryf Parrado dat sy lewe redelik maklik was voor daardie gebeure. Sy pa was ‘n groot sakeman wat verskeie hardewarewinkels besit het, en hy kon maar net inval. Dit was nie eers nodig om bekommerd te wees of hy gaan deurkom in die Sakeskool waar hy gaan studeer het nie. Hy het die sekerheid van ‘n vaste werk gehad.

    Daarom het hy ‘n luilekker lewe gehad. Rugby speel, meisies uitneem, jaag met sy Renault op die paaie langs die see by Punta del Este, partytjies, lang sonskyndae. Hy het gelewe vir die oomblik, die gety gery soos dit kom.

    In die Andes het hy op ‘n harde manier die werklikheid van die lewe leer ken: dit loop nie altyd soos jy beplan nie. Die wind kan eensklaps, onverwags teen jou begin draai. Op vele wyses. Soos ons huidig hier in Suid Afrika ervaar. As iemand drie maande gelede gesê het dat hierdie scenario gaan uitspeel, sou hy of sy uitgelag gewees het.

    Daar het Parrado tot die gevolgtrekking gekom dat die ramp in die Alpe, hoe verskriklik dit ookal vir almal gewees het, uiteindelik baie positiewe gevolge vir hom gehad het.

    Op sosiale media is dit duidelik dat die werklikhede van Corona nou tot baie mense deurdring, noudat die tydperk van afsondering verleng is. Facebookvriend Bossie Bosman skryf namens baie van ons: “Die peuselhappies in die yskas raak nou op, die peuselhappies in die koskas raak ook nou op, my whiskey raak ook nou min, sigarette ook. TV raak nou straf.

    Die lieflike herfsdae raak al mooier, die begeerte om my Landy te vat en in die veld te gaan ry raak al groter. Die horlosie tik die ure al stadiger af, die dae raak al langer en die nagte al korter terwyl dit in werklikheid andersom is.

    Die WhatsAppgrappies raak al meer afgesaag en elke grapmaker wat ‘n rou eier wil sluk is ook nie meer snaaks nie. Ek hou my kop met moeite positief, maar ek het ook besluit dat ek my nie gaan laat intimideer deur die swart hond nie. Julle moet ‘n lekker dag hê. Droom van visvang en skydive, van boomklim en bike ry, van braaivleis en rugby. Moet net nie oorweeg om julle polse af te kou nie. Dis teenproduktief.”

    Moenie kyk na die slagoffers van die ramp om jou nie. Klim soos Parrado en Robert Canassa daardie toegesneeude duine wat voorlê. Al vat dit nog tien dae. Anderkant dit is redding, lewe. Hoop. Eendag sal ons ook al die lesse wat ons as Suid Afrikaners geleer het in hierdie tyd kan raaksien.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die lewe: Kiem