fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Tuesday, July 14, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Huisarres

    Dag vier van die landswye huisarres.  Ek het alreeds verskeie projekte suksesvol afgehandel, soos om elke korreltjie rys  te tel in twee kettingswinkels se “no-name brands”, en vas te stel dat die een sak 5376 korrels bevat, en die ander een 5421 korrels.  Sodoende het ek empiries bewys dat dit ‘n beter koop is om by winkel A te koop as by winkel B. 

    Ek het ook die raaisel wat vriend Mervin per Watsapp gestuur het, probeer uitwerk.  Hy het diepe bepeinsing gedoen, en besef dat die woordsomme wat ons op skool gedoen het, wel waarde het, want hy moes belangrike berekeninge doen. Hy het 8 bottels wyn, en hy moet 20 dae uitkom daarmee. Elke bottel het 4 glase wyn in.  Hy mag net tussen 14:00 en 23:00 wyn drink, sê sy vrou.  Hy vra dat ek moet help uitwerk elke hoeveel uur hy ‘n glasie mag skink.  Ek kom agter hoekom ek nooit goed was met woordsomme nie.  Die som is te moeilik vir my. 

    ‘n Ander vriend deel per vonkboodskap sy groot nuus.  More kom die munisipaliteit sy vuilgoed haal, en hy moet die swart sakke op die sypaadjie gaan uitsit.  Hy kan net nie besluit wat om aan te trek nie!  So lees ek die een spitsvondige grappie na die ander op sosiale media.  As daar een ding is waarmee ons as Suid Afrikaners uitblink, is dit ons vermoë om krisisse te verwerk met humor.

    Toe kry ek die “please-call-me.”  Die nommer vertel my dadelik van wie dit is.  Van ons bestuurder, opsigter, versierder, nutsman, beheerpersoneellid, noem dit maar, en hy is dit, van ons huisie in die Bo-Karoo.  Op sy facebookprofiel het hy sy naam verkeerd gespel, Jahonnes in plaas van Johannes.  Maar dit pla hom nie.  Hy kan sy selfoon werk wat ons vir hom gegee het, en hy is trots op sy profiel. Daar word van hom geweet, foto en al, op sosiale media.  

    Ek bel hom.  “Ek het net tee”, sê hy.  “ Hoe lank al?” vra ek hom.  “Vrydag.”  Saaklik.  Ek reël met die plaaslike winkeltjie op die dorp dat hy daar kan gaan olie, meel, suiker, hoender en ander goedjies gaan koop.  Ek sal regmaak.  Hy is die sout van die aarde, eerlik, hardwerkend, en gebrei teen swaarkry.  Hy het nie ‘n vaste werk nie, soos die meeste van sy bure.  Sy voete is kliphard gebrei soos ou leer, omdat hy winter en somer kaalvoet loop.  Hy het een paar skoene, en hy weier om dit na enige ander plek as kerk toe te dra. 

    Sy groot trots is die fiets wat ons hom gegee het, wat hy met presiesheid en deeglikheid in stand hou.  Sy beker het oorgeloop toe ek anderdag vir hom ‘n stel fietsligte stuur, een vir voor en een vir agter.  Dis gevaarlik as ‘n man in die nag op die karoo se grondpaaie ry sonder ligte. Sy ander groot trots is sy John Deere pet, diè een wat my seun amper weggegooi het, maar oplaas vir hom gegee het.  Hy het dit silwerskoon gewas, en dra dit net dorp toe as hy gaan meel, olie en aanmaakkoeldrank koop. Die ou televisiestel wat ek wou weggooi omdat hy so flenters was dat selfs die wit olifanttafel by die kerkbasaar hom nie wou gehad het nie, het hy wonderbaarlik reggekry om weer te laat werk.  Die sepies en sokker kleur nou sy sielsdodende lewe in.

    Die inperking raak hom nie eintlik nie.  Hy is gewoond aan geisoleerd wees, gewoond aan nerens heen om te gaan nie, gewoond aan bitter min kos, gewoond aan krane deel, gewoond aan sy draaie in die karoobossies loop.  Dis net as die skroppies, die tydelike werk, opraak soos nou, dat die mismoedigheid by hom kom lê soos ‘n brandsiek hond. Gelukkig het hy nog een “life-line” oor: stuur ‘n vriend ‘n “please-call-me.”

    Skielik begin ek dink oor die landswye inperking.  Hier sit ek en ander bevoorregtes en tob oor ons rondrygewoontes ingeperk is, omdat ons nie kan koop wat ons wil nie, omdat ons ons planne moes afskaal of verander, oor ons kinders wat elders woon en nie kan rondbeweeg nie.  Maar hoe min weet ek nie van die impak daarvan nie? Wat maak jy as jy sewentig kilometer van die naaste dorp woon, en daar is geen beweging van bakkies of voertuie nie, en jy het niks om te eet nie?  Hoe uiters desperaat moet mens nie word nie? 

    Watter potensiële moeilikheid kan daar nie wees as mense in die informele werksektor, wat tans geen inkomste verdien nie, karwagte, trollieherwinnaars, selfoonlaaierverkopers by robotte, mense wat plastieksakkies met appels en lemoene verkoop op die sypaadjie, begin honger word? Hoe ver kan desperaatheid selfs ‘n eerlike, hardwerkende mens dryf? 

    Wat doen jy as julle tien mense is bestaande uit drie geslagte wat in ‘n tweevertrek sinkhuisie woon, en ver is van een gemeenskaplike kraan, of tien opslaantoilette wat deur ‘n swetterjoel mense gedeel word?  Soos ‘n vorige eerste minister gesê het: die moontlikhede is “too ghastly to contemplate.” 

    Dit is verstommend hoeveel mense nie eens waaroor die inperking gaan nie, wat nog te sê waak daarteen.  Die straatslapers, die wat geen toegang het tot televisie en radios en koerante en internet nie.

    Miskien kan ons, en die res van die gesofistikeerde westerse wêreld, soos Italië, Spanje, Brittanje en Amerika, iets sinvols gaan leer by ‘n eenvoudige kaalvoetman wat in die karoo woon: Leer ons om te leef, Jahonnes.  Leer ons om te oorleef.  Leer ons dat lewe ‘n genade is, nie ‘n gegewe nie.  Leer ons.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Huisarres