fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Sunday, September 20, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: ‘n Distopiese Roman

    Hy stap die herfsmiddag, soos wat hy dikwels doen, eers biblioteek toe, voordat hy SPAR toe gaan.  Ingedagte pluk hy aan die toe staalhek voor die biblioteek, verbaas omdat die deur altyd oop is.  Hy sien die kennisgewing teen die deur, en moet eers twee keer lees voordat dit by hom insink: “Gesluit vir onbepaalde tyd.” 

    Kopskuddend loop hy SPAR toe, en vind dit vreemd dat dit so besig is halfdrie op ‘n Maandagmiddag. Dit tref hom hoeveel mense se trollies gelaai is met veral grootmaat toiletpapier, en houers vol handeseep.  Die kassiere het almal rooi maskers aan wat hulle monde en neuse bedek. Teen al die rakke is daar kennisgewings wat aandui dat alle items beperk word tot twee per klant. 

    Daar is geen hoender of maalvleis in die yskaste nie, en die bevrore groente en blikkieskosrakke is ook yl besaai met voorraad. Nadat elke klant se kruideniersware betaal is, word die toonbank eers deeglik ontsmet met alkohol-skoonmaakmiddel en ‘n lap voordat die volgende een gehelp word.  Terwyl hy wag, speel Hasie, hoekom is jou stert so kort? van Al Debbo oor die luidsprekers.  Hy verkneukel hom daarin. Dis so tipies platteland.

    Tydens die rit huistoe, luister hy na die nuus op RSG. “Nog 38 Suid Afrikaanse burgers gestrand op skip onder kwarantyn in Italië”, sê Mariëtta Kruger oor die nuus. Die getal geinfekteerdes in Suid Afrika styg met 47% in een dag.  Later sê sy dat die staatspresident teen verwagting om sewe-uur vanaand verdere maatreëls gaan aankondig wat ‘n reuse impak op mense se lewens en beweging kan hê.

    Skole is alreeds gesluit tot na die paasnaweek, baie mense werk van die huis af, terwyl baie ander vrees dat hulle hul werk gaan verloor.  Die restaurante in Langebaan wat gewoonlik saans wemel van vakansiegangers, is almal toe.  Geen drank mag na sesuur verkoop of gebruik word nie. 

    Baie internasionale vlugte is gestaak, en almal hou asem op of daar nie dalk ‘n totale verbod gaan kom op beweging van mense buite hulle huise, soos in China, Italië en baie ander lande nie.  Dalk is dit nie net ‘n slegte ding nie, terwyl hy dink aan dominee Beukes en sy vrou wat erg vermink en vermoor is in Bethal.  Dieselfde gebeur daagliks op plase regoor die land.

    Die hele saak prikkel sy denke. Dit voel of al hierdie dinge nie gebeur nie, al is dit oral in die sosiale media en in die pers.  Waar het hy al van hierdie goed gehoor? Dis nuut, maar tog terselftertyd so bekend.  Die dametjie op sakenuus rammel die verlies op die JSE op die radio af.  Ook dit wil-wil bekend klink.  

    Hy gaan staan voor sy boekrak, en skandeer deur die titels van sy versameling.  Skielik besef hy: daardie tyd toe diè boeke verskyn het, was dit distopiese romans wat afspeel in ‘n post-apokaliptiese tyd, ‘n wetenskapsfiksie wat daarop gerig was om lesers se denke op ‘n fantasievlug te vat na ‘n wêreld wat totaal fiktief, en so blyk dit, ook onmoontlik was. Hy trek die eerste boek uit die rak, Na die geliefde land, geskryf in 1972 deur Karel Schoeman. 

    Die boek vertel van ‘n onvolkte platteland, van angsbevange mense wat hulle saans toesluit in hulle plaashuise, en nêrens heen gaan nie. Die meeste van hulle kinders en kleinkinders het oorsee gaan woon.  Baie van hulle het nog nooit eens hulle kleinkinders gesien nie.  Hulle leef in vrees vir misdadige bendes wat snags van plaas tot plaas swerf om te plunder, steel en moor.

    Die hoofkarakter het ‘n familieplaas ge-erf, en hy is nie eens seker waar die plaas is nie.  Hy kom van oorsee af om die dokumentasie te kom afhandel, en is selfs bereid om die plaas net so te los.  Daar is nie kopers nie, want die meeste plase is eenvoudig onteien, en lê verlate en onbewerk.

    Skielik word die distopiese verhale meer aktueel.  Hy trek die boek van Koos A Kombuis uit die rak: Hotel Atlantis. Die boek is in 2002 geskryf, en speel af, vir daardie tyd, in die verre toekoms, 2012.  Die land is ‘n donker, gevaarlike plek.  Die stede het leegeloop. In al die plekke op die weskus is daar vrees vir die virus wat duisende mense laat sterf het.  Mense leef primitief, soos roofdiere wat mekaar verslind.  Koeberg-kragsentrale het ontplof na ‘n operateursfout, en die hele land is in donkerte gehul. 

    Skielik is die gedagte nie meer so absurd nie.  Hy trek ook Deon Meyer se Koors uit die rak, geskryf in 2016.  Die verhaal oor ‘n virus wat in ‘n laborotorium ontwikkel is, en duisende slagoffers regoor die wêreld laat sterf het.  Die verhaal van mense wat by die huis moet bly in afsondering, en gewetenlose en roekelose rondtrekkende bendes wat plunder en moor, van wetteloosheid en vrees wat heers in die land, van simptome van ‘n geheimsinnige mense skielik laat siek word en sterf, van die sosiale media wat totaal onbetroubaar word, en deurtrek is met fopnuus en vals gerugte.  

    Die boek vertel van ‘n ekonomie wat totaal ineengestort het as gevolg van die geheimsinnige virus, van kosskaarstes en boere wat nie meer kan produseer nie.  Dit vertel van kerkdienste wat opgeskort is, en dapper mense wat nog probeer op Sondae om ‘n paar gelowiges bymekaar te kry en die Woord te verkondig.

    Skielik is hy onseker.  Is die boeke lank terug geskryf, of dink hy nou aan vandag se koerant?  Hy moet weer kyk na die datums van publikasie net om seker te maak dat dit lank terug geskryf is. 

    Eensklaps voel dit vir hom of hy ‘n karakter in ‘n distopiese roman geword het.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: ‘n Distopiese Roman