fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Monday, July 13, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Nationale Gesondheidsversekering

    Nasionale gesondheidsversekering is een van die vele gonswoorde in Suid Afrika tans. Die een politikus na die ander skets vir ons ‘n idilliese prentjie; hoe alle mense in Suid Afrika toegang gaan kry tot die beste mediese dienste, topfasiliteite en vinnige aandag in noodgevalle. Dit sal, volgens die welluidende oratore en imbongi’s, gelykstaande wees aan die huidige privaat mediese dienste wat betref standaard en kwaliteit. “Wonderlik!”, dink jy. Veral as jy een van die gepeupel is sonder ‘n mediese fonds.

    ‘n Tousitter een keer per maand wat in die dorpskliniek opvang met jou medegepeupel, die randfigure van die ekonomiese hartklop van die Reënboognasie, vir ure lank ‘n wagter op die mure, smagtend dors na jou plestiek vol pille, as die Bybel in die ou vertaling verketter mag word. Julle ken mekaar al so goed, jy en jou medereisigers op die breë staatsweg van mediese versorging, dat jy alles weet van Patriescha se aambeie, Jennifer-Louise se kind se koliek, Nebukadneser se spastiese kolon, Precious se ingroeitoonnael en haar swak blaas.

    Een keer per maand dateer julle mekaar op met die nuutste brokkies inligting, soos wat dit stadig maar seker beskikbaar raak. Hulle weet op hulle beurt alles van jou hart en ondersteunende lewensapparate se stellings en kwellings, al het jou klinieklêer weggeraak waarin al jou mediese verslae en uitslae van die afgelope kwarteeu se duur toetse was.

    Jy ken egter die goeie lewe, die versuikerde pad van die mediesefondspelgrim, jy het ‘n objektiewe maatstaf: jy was al in hospitale in Trichardt, Kimberley en Pretoria wat uiters effektief was, hospitale waar jy van ‘n spyskaart af geregte bestel, en selfs wyn saam met aandete kan geniet, waar die beste dokters met jou gesprek voer oor jou diagnose en alles moontlik doen om die probleem op te los.

    Dan gebeur dit. Die inleiding tot Dickens se Tale of two cities word die narratief van jou mediese belewenis. Jy beland met ‘n noodgeval in die staatshospitaal. It was the best of times, it was the worst of times, skryf Dickens. Onverwags, ongevraagd. As jy laatnag daar ingesleep word, staar ‘n peleton deurwagte jou agterdogtig aan. “He is drunk.” Die ontvangsklerk kyk gesteurd op van haar Whatsappboodskappe, en mompel iets onhoorbaars. Jy mompel terug: “Code Red”. Dis die towerwoorde tot summiere aandag. Jy word beduie om na ongevalle te gaan, maar jou huismense mag jou nie neem nie.

    Die wêreld is vol bose skurke, en hulle mag lidmate wees daarvan. Daar is ook nie ‘n portier beskikbaar nie. Wie werk nou daardie tyd van die nag? Jy loop soos ‘n slaapwandelaar, sleepvoet, leunend teen die mure, en drapeer jouself oor die toonbank van die ongevalleafdeling. Soos ‘n stuk nat babadoek hang jy daar. Natgesweet, oud en der dagen zat soos oorle Job. Maar niemand steur hulle aan jou nie. As jy later op ‘n stoel neersak, kom ‘n persoon nader wat vra: “kan ek help, meneer?” Jy beduie, hygend en natgesweet, na jou bors. “Kom lê maar hier”, beduie sy na ‘n nou, ongemaklike bed met ‘n klipharde matras wat maklik drie sentimeter dik is. “We will be with you soon.” Jy kyk rondom jou, en besef met ‘n hart vol dankbaarheid dat dit doodstil is vanaand, (no pun intended), geen ander pasiënte nie.

    Alhoewel die helder neonligte bokant jou kop uiters steurend is, wag jy soos Kruisie die blymoedige Christen dat iemand jou sal kom red uit die verlammende pyn wat jou verwurg, jou bors vasklamp. Maar meer as ‘n uur verloop, en jy begin vrees dat jy in The hollow man verander het, en niemand jou sien nie. Maar na bykans ‘n uur word jou grootste verwagtings oortref, en iemand kom vra wat jou probleem is. Jou bloeddruk word geneem, jou bloedsuiker word getoets, en wonderlik!, jy kry suurstof. Dan wag jy weer. En jy wag.

    Uiteindelik kom die dokter, maar sy Engels is net so swak soos joune, en al wat jy uitkry op sy vraag: “you ill?”, is “uhù”. Hy luister na jou longe, kyk diep in jou oë, klop op jou maag, en verdwyn. En jy, jy wag. Lank na middernag begin iemand Amazing Grace neurie. Vers een sing jy in jou kop saam. “U sien ver, oneindig ver.” Tot hier in ongevalle, is jou ongeformuleerde gebed. As sy die derde keer dit neurie, hou jy op saamsing.

    Teen die tiende keer begin jy dink aan die toneel uit Amadeus waar Antonio Salieri sanglesse aan ‘n sopraan gee. Jy dinksing luidrugtig in jou kop die arpeggios divergerend saam: “a ha ha ha ha ha haaaa.” Noot vir noot. Die oomblik as jy ophou arpeggionaal dink, spring Amazing Grace terug in jou kop. Jy is dors, want jy is sopnat. Maar niemand is sigbaar of hoorbaar vir wie jy kan roep nie. Jy dink aan Genis in Kooperasiestories wat gedehidreerd terugkom van die wynproe af, en flou smeek: “Water, water”.

    Die toneel is nie meer vir jou snaaks nie. Diep in die nanag herverskyn die dokter. Hy wys ‘n papier met jou bloeduitslae. “Big problem,” sê hy. “You stay. But no bed in ward. You sleep here.” Dit tref jou dat die woord “sleep” vreemd op die oor val. Jy vrek van pyn, maar die Panado-kas is gesluit, en die outoriteit om dit oop te sluit, is gedelegeer aan ‘n onbekende persoon. Jy gaan deur al die fases van die rouproses. Jy sien jou oorlede pa langs die bed staan, in meer helder oomblikke probeer jy jou aandag aflei deur te dink aan die katarsiswending in die latere letterkunde van Van Wyk Louw.

    Gesondheidsversekering? “Die hemel help ons”, het Koos Prinsloo geskryf.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Nationale Gesondheidsversekering