fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Monday, September 21, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Die weskus is bekend vir sy eksotiese plaaslike geregte. Snoek, kreef, mossels, en harders (waarvan bokkoms gemaak word, ‘n soutvisbiltong) is volop hier te kry. Tydens die vangseisoen verkoop die plaaslike manne sommer van die bote af hier teen die pad. Dan ook nog per geleentheid galjoen, stokvis, kabeljou en vele ander visse waarvan binnelanders nog nie eens gehoor het nie. Baie van hierdie vissoorte word eiesoortig gebraai; dis nie sommer net vir oppie brikette gooi soos ‘n stuk supermarkwors nie. Die eet daarvan is ook ‘n kuns. Ek het persoonlik gesien hoe ‘n Velddrif-veteraan ‘n gaar heel harder soos ‘n roomys eet; van die kop af na die stert, en dan die binnegoed, grate, skubbe en vinne met ‘n welhaaglike kreun uitspoeg. Dit bly volksvreemd vir ons inkommers op die weskus.
    In Paternoster is ‘n plaaslike restaurant, Wolfgat, in 2019 in Parys aangewys as die beste restaurant in die wêreld. Geen geringe prestasie nie, as in ag geneem word dat internasionale restaurante van Milaan, Amsterdam, London, Parys en New York gekompeteer het om diè gesogte toekenning te wen. Hierdie 20-sitplek restaurant is onopvallend; ‘n ou vissershuis sonder enige helder beligting of vertoon aan die buitekant. Die meubels is eenvoudig, dit lyk of dit op veilings aangekoop is. Maar die uniekheid van die plek is daarin geleë dat die voorraad elke dag vars geoes word uit die omgewing: vars mossels uit die see, wilde kruie en seegras uit plaaslike poele, seisoensveldkos, plaaslike skaap- en wildsvleis. Om daar te kan eet, moet jy lank voor die tyd bespreek.
    Die Kaap met sy streeksgeregte is egter veel wyer as die weskus. ‘n Weeklikse bylaag in die Burger handel juis oor die eksotiese geregte en wyne van plekke soos Stellenbosch, Franschoek, Riebeeck-Kasteel en die Nuy-vallei, en dan natuurlik die boheemse restaurante in Kaapstad en sy Waterfront. Die landgoedwyne hier het allerande neutmuskate en subtiele geure soos aarbeie en sjokolade, delikate aromas en Franse of Nederlandse name, eenvoudige geregte soos ganslewer word in status verhoog deur hoipolloi-Franse name soos Foie gras Eguisheim. So eet jy dan in die snikhete Franschoek met ‘n servet in jou boordjie ingesteek delikate, gekultiveerde happies van jou dis, en drink jou landgoedwyn uit ‘n kristalglas met jou pinkie in die lug, nadat jy dit eers besnuif en beloer het. Die twyfelagtige voorreg om die Kaapse cuisine te proe, kos ‘n snaps meer as jou huisverband. Vir een ete. Ek was bevoorreg om frittes in Brugge te eet, bitterballen in Amsterdam, beleë kaas in Switserland, swartwoudkoek in Duitsland. Ook sterk gespysde geregte in Turkye. Dit was min, maar dis in. Soos armykos.
    Maar. Daar is ander eetplekke op aarde wat my maar kan kry. Dis nie geleë tussen die toegesneeude Alpe of die mistige Himalayas nie. Ook nie op die vyftigste verdieping van die Trumptowers nie. Hulle kyk nie uit op die Teemsrivier of die blou Donau nie. Hulle is ook nie geleë teen die kobaltblou see by Tietiesbaai nie. Hulle het nou wel nie eksotiese en pretensieuse Franse name nie, nog minder eet jy uit fyn porselein en drink jy uit kristalglase. Maar, hier voel jy tuis. Hier eet jy boet, met of sonder mes en vurk. Die een is die Fireplace-padkafee in Secunda. Vriend Ernie het my lankal vertel dat jy die heerlikste Sondagmiddag gekookte etes daar kry, en dan is daar so baie kos dat ‘n groot eter nog ‘n woefkardoes kan saamvat huis toe. Al het hy nie ‘n woef nie.
    Dan die hartseer een. Die Casbah-padkafee in Brakpan. Die een wat daar was solank as wat ek kan onthou. Verlede week het die Brakpan Herald berig dat hy finaal sy deure gesluit het. Die bekende landmerk met sy groot sement-Cokebottels teen die pad wat hom van veraf sigbaar gemaak het. As enige iemand in my, as kulinêre connoisseur, se opinie sou belangstel, dan sou ek van mening wees dat die beste maalvleis en rys op aarde daar gemaak is. Ook die “mixed-grills”, die hamburgers wat netjies toegedraai is in waspapier, met ‘n agurkie bo-op as versiering, en dan natuurlik die beste slaptjips op planeet aarde. Afgespoel met aarbei-melkskommel. Maar dis meer as die kos. Daar is net iets aan die plek, iets boheems. Iets nostalgies. Daar is ware ambiance. Daar is nou wel nie Vivaldi gespeel oor die luidsprekers nie, en geen kersligte nie. Die kelners het ook voorskote gedra, en net sodra jy in een van die rylane parkeer het, al was dit heelagter in die ry, het een van hulle dadelik langs jou motor opgeduik met sy bestellingsboekie. Die spyskaart was groot teen ‘n stellasie, amper soos ‘n inry se rolprentskerm. Wanneer jy klaar jou bestelling geplaas het, is dit blitsvinnig ingedien by die kombuis waar die bestuurder na agter geroep het: “een burger en chips, een mince en rys!!!” Met ‘n onduidelike intonasie, amper soos die korporaal in die weermag wat die pas uitskreeu. Dan was daar nie eintlik vreeslike sigbare reaksie in die kombuis nie, wat jy uit jou motor kon dophou. Maar tien minute later was die kelner terug met sy skinkbord en jou kos. Jy het jou motorruit so halfpad afgedraai, en die skinkbord is ingehak op die ruit. Jy en liefie het dan gedank vir die kos, en per hand of met eetgerei, afhangende van die aard van die gereg, weggeval. As agtergrondmusiek het jy Neil Diamond se Hot August Night op jou motor se agttrekbaan-kassetspeler geluister. As julle klaar geëet het, het jy jou ligte tweekeer geflits, en jou skinkbord is kom haal. Foie gras Eguisheim? Nee wat.
    Nag, ou grote.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die lewe