fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Monday, September 28, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Langpad ry is vir baie mense lekker. Vroeër jare, toe die lewe baie stadiger was, het dit groot beplanning geverg. Dit was ‘n avontuur wat gepaard gegaan het met ‘n padkaart en deeglike logistieke voorbereiding. My pa het die hele kar deurgegaan voordat ons enige langpad aangedurf het. Die Volkswagen Variant Stasiewa se olie is nagegaan, die wiele se skroewe is vasgedraai, die ligte en flikkers is getoets, die toeter is gedruk. Die gordyne binne-in die kar is afgehaal en gewas. Alles moes foutloos wees. Nie omdat die pad so ver was nie, maar omdat die kar so oud was. Dan het Pa met groot konsentrasie sy gereedskaptrommeltjie gepak vir ingeval: skroewedraaiers, tange, ‘n hamer, verskeie moersleutels, spaarsekerings, isoleerband, ‘n sleeptou en flits. Diè trommel is heel eerste gelaai. Ma se bydrae tot die logistieke operasie was net so belangrik: die padkos. Frikkadelle, ham-en- eier toebroodjies, hoenderboudjies, vrugte in seisoen, grondbone (wat soms nie ‘n goeie keuse was vir die beknopte ruimte van die Volkswagen nie,) en dan natuurlike die onmisbare fles koffie. By die eerste stilhouplek buite Springs is dan met groot ritueel en prosedurele stiptheid gestop, tafel gedek, en ‘n feesmaal so groot en betekenisvol soos Babette’s feast gehou. Pa sou dan op ‘n stadium seremonieel oor sy maag vryf, amptelik verklaar dat hy trommeldik is, en afdek om die groot tog verder na die see of familie of wildtuin of waar ookal aan te durf. Dit alles teen 80 kilometer per uur, mits dit op ‘n afdraand was met ‘n redelike wind van agter. Die ou Blaupunkt-radio wat nog met “valves” gewerk het, moes eers warm word voordat hy gespeel het. Dit kon net mediumgolf en kortgolf opvang, en kort-kort het die sein weggeraak. Dan het pa vererg sy tong geklap en die radio met die vuis gestamp-stamp, want dit was net voor Blomerus Niewoudt oor die nuus sou sê wat die eerste minister gesê het.
    Deesdae is dit ‘n heel ander storie. Verskeie vakansiegangers vlieg by jou verby in hulle dubbelkajuite of nutsvoertuie op die N1 in die karoo, en lê die afstand tussen Gauteng en die Kaap af in rekordtye. Dis in elk geval lewensgevaarlik om enige plek langs die hoofpaaie af te trek, wat nog te sê van agterpaaie. Die kragtige en lugversorgde rygoed met hulle uitstekende klanksisteme en selfs DVD-spelers vir die kinders, maak stilhou onnodig. Padkos is ook nie eintlik meer nodig nie; dit is waarom daar MacDonalds of Kentucky deurry-winkels bestaan op groot dorpe.
    Maar langpad ry bly steeds uiteindelik daardie gedeelte van jou lewe waarin jy sekere dinge rustig kan deurdink, of ou kwelpunte kan afskryf en weggooi, en opnuut sekere perspektiewe verkry. Vir my persoonlik is dit my sabbatstyd, my tyd om te bid, te mymer, te onthou, te lag, te ween, en soms om kwaad te word. Maar veral om te onthou.
    Snaaks hoe klein, onbenullige goedjies na jou toe terugkom, en nuwe betekenis kry so op jou eie op die langpad. Jy onthou daardie afvlerk-kindertjies saam met jou op skool, veral diè waar jy aandadig was aan die boeliery. Jy onthou Lester, die Engelse seun wat oorkant julle gebly het, wat vir jou jou eerste boek persent gegee het vir jou sesde verjaarsdag. Al was jy skaam voor jou Afrikaanse maatjies dat jy ook ‘n Engelse vriend gehad het. Langpad is ook die tyd om die Triniteitsleer met jouself te debatteer. Drie wesens in Een? Hoe bring ek Bybelse tekste hierby uit? Alhoewel jy onwrikbaar glo in die Drie-eenheid. Jy begin te mymer oor die mens en sy bestaan. Oor Heidegger en Jaspers en die eksistensiefilosofie. Oor die ewige lewe en genade. Maar jy word soms ook kwaad op jou bedevaartstogte op die lang pad. Jy dink aan dinge waarvan jy liefs wou vergeet. Die branders van die lewe wat jou omgeslaan het, maar elke keer weer geleer het hoe om op te staan. Hoe jy jou nefie sy baaikostuum moes leen vir julle eerste Durbanvakansie, omdat Pa en Ma se vakansiebegroting tot op die naaste sent nie voorsiening gemaak het vir jou vir ‘n baaikostuum nie. Jy dink aan die kwaai juffrou in standerd drie, wat jou eendag voor die bord laat staan het voor die hele klas, en jou met haar rottang geslaan het totdat jy jou broek natgemaak het, omdat jy, wat jou tafels baie goed kon opsê, uit vrees nie ‘n woord kon uitkry nie. 36 harde, afgemete houe op elke syfer van 1×3=3 tot 12×3=36.
    Anderkant Strydenburg dink jy aan die keer toe jy in ‘n laai iets gesoek het, en op ‘n ronde metaalstukkie afgekom het, wat lyk soos ‘n R2-00 muntstuk. Maar dit was nie. Jy onthou dat jou jongste op laerskool al sy sakgeld, wat maar skraps was, synde ‘n pastoriekind, gespaar het vir ‘n skooluitstappie na een of ander pretpark toe. Maar hy was so versigtig met sy geldjies, dat hy grotendeels gekyk het hoe sy pelle baljaar op al die goeters in die pretpark. Uiteindelik koop hy tokens met al sy geldjies. Vyf minute later sê die onderwyser: klim op die bus, ons ry nou. En hy sit met ‘n hand vol tokens. Al sy geld, maande lank gespaar. As jy dit onthou, ruk jou borskas en jy kry hoendervleis, maar jy besluit dat jy nie gaan f@k sê nie. Jou langpadgedagtes maak jou bly, dit maak jou hartseer en kwaad. Jou langpadonthou kaats jou werklike bestaan terug. Daar in jou motor op die oop pad is jy alleen, gestroop van alle maskers. Miskien is dit weer tyd dat ek my Volkswagen se wielmoere nagaan en my gereedskapskis pak.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die lewe