fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, September 24, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    “Ek wil teen twaalfuur die lêer, met jou aanbevelings daarop, op my lessenaar hê.” En dit op ‘n Maandagoggend, die eerste werksdag van die nuwe jaar. Januarie 2020 tref Piet van Heerden skielik met volle vaart. Hy strompel die groot kantoorblok se lang gang af, aktetas in die hand, en is vaagweg bewus van die baie kantoordeure weerskante van hom, wat vir hom voel soos blokkies in ‘n lang donker tonnel. Sy eie koninkryk is daar ver vorentoe iewers. Identiese houtdeure, genommerd, is die ingange tot vasgevangde mense se persoonlike professionele spasies, minimalisties eenders, waar berekeninge gedoen word, projekte bestuur word, begrotings opgestel word, personeelsake hanteer word, toekoms-scenarios uitgewerk word, nuwe probleme en onvoorsiene struikelblokke daagliks skynbaar meer en meer opstapel. Waar rekenaarskerms flits met statistieke en data en onopgeloste kwessies. Telefone wat oral lui, stemme wat gedemp en minder gedemp vraagstukke en oplossings beredeneer en soek. Die corpus van sy eksistensie, dink hy sinies. Sy vrou en kinders se foto op die lessenaar proklameer onteenseglik: Hierdie is Pieter se stukkie ruimte. Tydelik. Solank as wat hy ‘n produktiewe eenheid vir die maatskappy bly.
    Net hierdie naweek het hulle teruggekom van Hartenbos. Twee weke se son en see en karavaan voel of dit nooit gebeur het nie. Die euforie van massas mense wat ure lank op die spierwit strand lê, wat kersliedere sing in die donker terwyl hulle selfoonliggies op die maat daarvan beweeg, die reuk van houtvure waarop karootjops en wors gebraai word, die lag en gesels oral om die staanplekke, kinders wat ry op skaatsplanke en klein fietsies, tieners wat op die strand draf, ou mense wat twee-twee met wandelstokke al turend oor die see teen die branderlyn afslenter, die vele stalletjies op die sypaadjies waar hulle ure verwyl het en gekyk het na draadolifante, strooihoedens, goedkoop Chinese donkerbrille, nagemaakte Nike-klere, Crocs en T-hemde met Afrikamotiewe, laphoedens waarop geskryf staan: Hou jou bek, hier braai ek. Draairoomyse in soel somersmiddae. Monopoly laataand saam met die kinders. Rustige, tydsame daguitstappies na Knysna en Wildernis.
    “Watter lewe is die waarheid, en watter een die werklikheid?” wonder hy as hy die bekende kantoor met sy oorbekende reuke instap. Verlede jaar se dokumente wat nog steeds wag om verwerk te word, antwoorde wat steeds uitstaande is, sy lessenaarstel wat hy vir 25 jaar getroue diens by die maatskappy gekry het, presies eweredig afgemeet op die lessenaar gerangskik, met die rooi en swart pen op aandag soos twee parate soldate in die Staatspresidentswag.
    Daar is iewers iets nie meer pluis nie, besef hy as hy op sy lessenaarstoel gaan sit. Hy dink aan die lied van Andries Bezuidenhout wat hulle as gesin deur die karoo op die motorradio geluister het: Pasop vir die droom. Hy dink meteens anders oor die lied se woorde. “Pasop vir die droom, die loon van die droom is jou droom. My televisie kyk nou skeel, die radio verseg om te speel. Die stofsuier en die strykyster het elkeen ‘n greep om my keel.” Pasop vir die droom, dink hy. Die dinge waarom jou lewe draai, word uiteindelik maklik die dinge wat jou lewe totaal waardeloos maak. Jare lank het hy studeer, kursusse gedoen, oortyd gewerk, naweke by die huis deurgewerk, sodat hy hier, in hierdie spesifieke blokkie-koninkryk, kan opeindig. Hy het ‘n lessenaarstel met twee erekte penne om dit te wys. Met dank aan Pieter Stefanus van Heerden vir troue diens gelewer. “On behalf of the company. With gratitude for loyal service”. Hy trek die swart pen uit sy skede, maak sy handtekening op die 2020 lessenaaralmanak met die maatskappy se logo wat reinwit voor hom lê.
    “Together to the future,” is hulle leuse. Sy lewe in ‘n goue raam. “Gister hang soos ‘n landskap in ‘n goue raam. Jy is lewenslank in die bitter Transvaal. Hier is geen deurnagdiens vir ‘n man soos jy. En dan wonder jy wanneer kom die Oubaas jou haal, is jou huur betaal? Kan jy vir altyd hier bly?” dreun Piet Botha in sy kop.
    Hy trek die lêer nader, slaan dit oop. Hy het geen lus vandag vir geprojekteerde syfers van wins en verlies, van risikos vir die maatskappy, vir vatbaarheidstudies en moontlike omgewingsimpakte nie.
    Hy besef daar is ‘n reuse gat in sy lewe, sy gemoed is grotendeels geamputeer van sinvolle lewenservarings. Hy dink aan die lang stuk pad op die N1 tussen Beaufort-Wes en Colesberg waar hulle vir ‘n ruk langs die Bloutrein gery het. Hy onthou dat daar ook blokkies was, kajuitvensters. Maar dit was anders. Mense wat by tafeltjies sit en by die trein se vensters uitkyk, KWV Cabernet Sauvignon drink en die karoolandskap indrink. Die ylblou berge in die verte, die droë ongenaakbare veld, die oneindige ruimte en stilte.
    Weliswaar was hulle op vaste spore op pad, voortstomend na Pretoria of Johannesburg. Maar die eindbestemming was nie vir hulle belangrik nie. Die landskap, die rit, die omgewing, die samesyn is wat hulle gaan onthou van daardie rit. Die ervaring van leef. Ongeag wat hulle besigheid aan die ander kant gaan wees as hulle van die trein afklim.
    Skielik dink Piet van Heerden anders oor sy lewe. Oor diè lewe. Van vandag af leef jy aspris, besluit hy net daar en dan. Jy is nou wel op hierdie voortsnellende trein genaamd lewe. Jy moet steeds die spertye haal, maar jy is bekwaam en ervare genoeg om dit te doen. Maar jy gaan begin om by die venster uit te kyk. Sodat jy die lewenslandskap kan beleef, ruik, sien, ervaar.
    Daardie aand 21:00 steek hy ‘n vuur aan, en haal ‘n pakkie wors uit die vrieskas. “Wat op aarde doen jy nou?” vra sy vrou. Dis Maandagaand, more is dit werk! “Ons gaan nou lewe,” sê Piet.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die lewe