fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Monday, September 21, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Afwagting. Almal ken dit, kan een of ander storie onthou oor wag. Daai keer in jou lewe toe jy knyp-benoud gewag het op iets. Dit kon iets lekker gewees het, soos toe jy as kind die aand voor kersfees jou persent onder die boom opgelig het, geskud het om te voel hoe swaar dit is, en byna die nag nie kon slaap van opgewondenheid nie. Dit kan ook ‘n minder aangename ervaring van afwagting gewees het. Soos toe jy op laerskool laatmiddag met jou fiets deur die skoolterrein jaag, en vreeslike Tarzan-skreeugeluide maak vir die duiwe om pad te gee. Ongelukkig vir jou het die kwaai juffrou Swiegers in haar klas gesit en merk, en haarself in ‘n ander DNA-mutasie ingeskrik toe sy hierdie bloedstollende krete voor haar klas hoor. Toe sy opspring en jou roep, het jy net oor jou skouer gekyk en weggejaag. Jy het dadelik geweet: die Bybelse beginsels van sola gratia en vergifnis is nie in hierdie spesifieke situasie relevant nie. Die volgende dag het sy van klas tot klas geloop, ry vir ry deurgekyk, en uiteindelik jou gevind. (Net terloops: dit is waarom die lied Toe vind ek jou van Karin Zoid en Francois van Coke vir my so bittersoet is.) Jou vonnis was kort en kragtig. “Kom hier.” Nie noodwendig ‘n uitnodiging nie. Die res is, soos ‘n vorige eerste minister gesê het: “Too ghastly to contemplate.” Ander voorvalle van afwagting bly ook vassteek vanweë die eiesoortige aard daarvan. Soos toe jy voor die professor se kantoor gesit en wag het vir ‘n mondelinge eksamen, tot die dood toe benoud. Sy manier van eksaminering was soos die gekletter van ‘n kerkgeskiedenisgeweer. “Tertullianus.” “Wanneer het hy geleef?” “Wat het hy oor die genade geskryf?” “Cyprianus.” “Wanneer het hy geleef?” “Wat het hy oor die Triniteit geskryf?” Dieselfde oor Justianus en Origianus. Jou blye afwagting van ‘n slaagpunt sink soos die Titanic. Jy sweet, jou palms is klam. Al wat jy beteuterd uitkry, is: ”Prof, daar is soveel anusse in daardie boek. Ek kan nie een onthou nie.” Toe trek hy eers die snelvuur oop. Jy sit verbysterd jou kop en skud op elke vraag. Uiteindelik word jy gevra: “Meneer Britz, kan jy dan nie een vraag antwoord nie?” Jy, synde maar altyd die hofnar, begin die liedjie van FR David sing. “Words don’t come easy to me.” Gelukkig het prof. Carl ‘n uitstekende sin vir humor gehad. En jy jou 50%.
    Dit is nou, Desember, ‘n afwagtingstyd van ‘n ander soort oor die wêreld heen. Ons sien dit oral. Tot vervelens toe word dit beklemtoon in winkels deur blikkerige nasale stemmetjies wat teem en kwetter oor rooineus-rendiere, klokkies en sneeu. (Terwyl dit oor die naweek 52,3 grade op sommige plekke in ons land was.) Gekleurde balletjies en liggies maak die afwagting groter. Die 12de-eeuse mistikus en heilige Bernardus van Clairvaux verwys daarna as “adventus” in Latyn. Adventstyd, die tyd waarin Christus se koms herdenk word. Die Trappiste-monnik Thomas Merton verwys in sy boek Seasons of Celebration (1965) hierna. Die afwagtingsaspek van kersfees.
    Die eerste koms, soos Merton verwys, was die geboorte van die Kind van Bethlehem. Afgewag deur skaapwagters en wyse manne en selfs Herodes self. Dan is daar die derde koms, waarvan Openbaring vertel, wanneer die Ridder op die wit perd kom om ‘n nuwe hemel en aarde te bring.
    Wat adventstyd so hartseer maak, is dat ons in die terminologie van Merton, die tweede koms van Christus misloop. Ons koop ons troos met geskenke, televisies, juweliersware, selfs motors, meubels. Ons laat ons kinders en kleinkinders afneem by ‘n beboepensde oubaas met ‘n wattebaard wat op ‘n groot stoel sit. Fisieke dinge waaraan ons kan raak, wat ons kan sien, wat daardie Vraagteken in ons moet beantwoord. Koos du Plessis skryf in sy gedig Oukersaand (vir ‘n kind): “Oukersaand vir ‘n kind – / vir jou, my meisie / is ‘n grafie en ‘n besempie / in kleurpapier gebind / met stukkies reënbooglint, / ‘n blokkie sjokolade / en ‘n wêreld sonder wind / waarin kersies vroom en vier / brand teen kaartjies teen ‘n muur / en liggies aan ‘n boompie blom / solank die donker duur. / Maar Oukersaand is óú kerse / in die aand en in die wind / ou, flikkerende kerse en, my kind / Kersboompies wat nie blom nie / ‘n Kersfeesvader wat nie kom nie.”
    Hierdie jaar, in adventstyd, die tyd van afwagting, gaan ek die Seun van Bethlehem soek oral om my. Ook in my. Ek gaan Hom soek in tye van verlatenheid, wanneer ek soms voel dat die gatvolfaktor net te veel raak. Ek gaan Hom soek in hoe ek teenoor ander mense optree, selfs al verskil ek van hulle. Ek gaan Hom soek in ware vreugde, nie die oppervlakkigheid van watsapp- en facebookgrappies nie. Want Hy het nie net na Betlehem gekom nie. Hy kom ook nie net eendag weer as alles hier ophou nie. Op ‘n geheimsinnige manier kan Hy vanjaar na ons toe kom. Bernardus van Clairvaux skryf: “O humankind. You need not sail across the seas or cross the Alps! No grand way is being shown to you. Run to your own self to meet your God! The Word is near you, on your lips and in your heart.”
    Dit bring die advent tot by jou, die vreugde van afwagting spiraal in jou, hoog bo jou en om jou uit, dit raak mense en die wêreld waarin jy leef, aan. ‘n Ou Chinese spreuk lui: Dis beter om ‘n enkele kers aan te steek as om die donkerte te vervloek.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die lewe