fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, September 26, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Daar is baie legendes oor die beroemde koning Tsjaka van die Zoeloes. Hy was ‘n briljante militêre strateeg wat met groot welslae ‘n nuwe krygstegniek ontwikkel het: in plaas van die lang spiese waarmee die vyand op ‘n afstand gegooi word, het hy ‘n kort steekassegaai ontwerp. Die vyand word dan ook heeltemal anders benader. Tsjaka het die bulformasie ontwerp. Die vyand word bestorm met ‘ n middelste kernpeleton van soldate wat direk op die vyand afstorm, en twee flanke van die kerngroep wat wegbreek en die vyand weerskante omsingel, terwyl hulle die linie rondom toemaak soos die horings van ‘n bees. So was die lang gooi-assegaai uiters oneffektief gemaak, en die kort steekassegeaai is met groot welslae gebruik. Tsjaka en sy impi’s het met hierdie tegniek groot welslae op die slagveld behaal, en hy kon sy ryk wyd uitbrei. ‘n Ander legende lui dat een van sy offisiere op ‘n dag die mite wou uitwys dat Tsjaka alwetend was. Hy het in ’n groot vergadering voor die koning kom staan met ‘n klein voëltjie in sy hand, en gevra: “Koning, u is die alwetende. Lewe die voëltjie in my hand, of is hy dood?” Die uitgeslape koning het geweet dat as hy sou sê die voëltjie leef, kon die soldaat met een druk van sy hand die voëltjie doodmaak, en as hy sou sê die voëltjie is dood, kon die impi bloot sy hand oopmaak en die voëltjie laat wegvlieg. Toe antwoord Tsjaka met die wyse woorde: “Die antwoord is in jou hand.” Van die grootste lewenslesse wat ek geleer het, was ook by ‘n klein voëltjie, ‘n blou budjie genaamd Ounooi. Die voëltjie het heeldag in haar hokkie in ons kombuis gesit, en alles belangstellend dopgehou. Sy kon vir ure na haar spieëltjie kyk en na haar eie beeld hap. Soms het sy aan die agterkant van die spiëeltjie geloer om te sien wie daar sit, maar het dan maar weer steeds alleen gesit en fluit. Op ‘n dag het ons die telefoon hoor lui. Iemand het gehardloop om te antwoord, maar toe die telefoon opgetel is, was die gelui steeds daar. Dit was Ounooi. Op ander dag het die huishulp na my ma gegaan, en gesê: “Ja. Mevrou? Mevrou het geroep?” My ma het gesê: “Nee, ek het nie.” Toe hoor ons dit. Ounooi roep met presies dieselfde stem as my ma die huishulp se naam: “Baby! Babyyy!” Met so verhoging in stemtoon. Ons was in ons noppies. Ons het gemeen Ounooi was dolgelukkig. Sy het meer en meer huisgeluide begin namaak, en haar koppie so skeefgedraai as ons sê ”Koppiekrap.” In daardie tyd het ek egter begin sien dat Ounooi ongedurig is. Sy het op en af teen die tralies van haar hokkie geloop, en uitkomplek gesoek. Dit het my toenemend gepla. Dit was asof ek haar frustrasies, haar verlies aan vryheid, haar smagting na iets ver buite die horison aangevoel het. Tot een blou Sondagmiddag toe ek die hokkie se deur oopgemaak het, en weggestap het. Ek was van mening sy sou net in die huis rondvlieg. Maar sy het reguit koersgekies venster toe, en op, op, op in die winterslug verdwyn. Ek het histeries agterna gehardloop van boom tot boom, óp in Kentsirkel, links in MacPhailstraat, regs in Ronkettisirkel. Die hele tyd het ek geroep, meer gesmèèk: “Ounooi, kom terug!” En as ‘n plan B het ek geskreeu: “Koppie krap! Koppie krap!” Maar Ounooi het net verdwyn in die takke van die groot bome op die sypaadjie. Daardie aand was dit, om dit sagkens te stel, ‘n hartseer aand in die Britz-huishouding. Ons vreugde, ons klokkie, was weg. Die oop hokdeurtjie het meewarig gegryns elke keer as ek daarna gekyk het. Ons telefoon het nie meer gelui nie. Baby is nie meer geroep nie. Daar was geen gesiggie in die spieëltjie nie. Haar kossies en water was onaangeraak. Dit was ‘n lang, slapelose nag vol verwyt en rou. Die volgende oggend, egter, was dit ‘n vrolike en luidrugtige Ounooi wat op die stoep gesit het, en geroep het “Baby!” En ook net daarna: “Trieng-trieng!” Ons het die deur oopgemaak, en sy het doelgerig en kordaat na haar hokkie gestap en bo-op gaan sit. Vir die huidige wou sy nie ingaan nie. Dit was eers later wat sy gaan eet en water drink het. Maar ons het die deurtjie oopgelos. “Dis beter so”, het Pa gesê. Van daardie dag af was Ounooi ons budjie. Werklik ons s’n. Die hartklop van die huishouding wat vrye toegang tot haar hokkie gehad het. Ek het meer geleer uit daardie gebeure as ooit op kweekskool oor verhoudings. Persoonlike verhoudings, Werksverhoudings. Huwelike. Ouer-kind verhoudings. Snaaks genoeg, ook mense se verhouding met God. Nie omdat jy moet nie, maar omdat jy wil. Nie deur kerkordes en konvensies en wat-ook-al gedrewe nie, maar deur ‘n volledige aanvaarding van die ander se menswees, en veral deur onvoorwaardelike liefde. Ounooi het geweet waar haar hokkie was. Sy wou net nie daarin toegesluit wees nie. Jou menswees kan in verbondenheid blom as jy net jouself kan wees. Die hokkies van die lewe, verhoudings, strukture, kerk, werksomgewing, kan versmorend raak as jy ingeperk word. Maar jy kan groei, lèèf, tot jou volle potensiaal kom, as jy die kans en die vertroue het om juis dit te wees, om jou eie menswees te verwesenlik. Ook as jy nie versmorend deur jou medereisigers op die lewe voortdurend in ‘n hok toegesluit word nie, maar self kan kies om te bly. Die antwoord is in jou hand.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die lewe