fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, April 9, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Toe tref ‘n groen golf Saterdag hierdie landjie wat Dana Snyman Rondomskrik noem, van Plooysburg tot Pretoria, van Mbombela tot Langebaan. Om die waarheid te sê, sommer die hele Suid Afrika word groen oorstroom. Regoor planeet aarde met sy brandpunt in Japan, raak die groenes raserig. Ons bêre ons gewere en ons messe en assegaaie en ondersoekkommissies vir eers, ons vergeet tydelik van rooi oorpakke en blou golwe wat gebreek het, van Moesies en Zillenators en generators, van Eksdom en van foutiewe vliegtuie wat gegrond word. Ons braai en eet biltong en kyk bankvas op ons televisies na die Derde Oorlog tussen die Engelse en Suid Afrika, na president Ramaphosa en Francois Pienaar en John Smit, na Harry en na Haar Majesteit se Bleekbene. Ons skreeu “Siya!”, “Cheslin” en “Eben!” Ons deel kwistig raad uit aan die Bokke, en raak al hoe luidrugtiger hoe verder die Bokke wen. Toe die eindfluitjie blaas, skreeu die mense in Langebaan so hard dat hulle tot in Clanwilliam gehoor kan word. Die land is skielik weer só 1995, so vol hoop en entoesiasme. Ons huil en ons lag en ons gee mekaar “high-fives.” Momenteel is ons weer terug in ons ou bekende land. Weg van die vreemde plek wat Suid Afrika geword het. Die personeel van SPAR in Tulbach en Langebaan dans in die gange, met die kliënte agterna. Motors en taxi’s ry toeterend deur die strate, en ons word nie eers kwaad nie, wildvreemde mense gryp mekaar om die nek. By ‘n plaaslike restaurant begin al die gaste en kelners spontaan saam die volkslied sing. Al die verse daarvan. In die skare in Japan sing wit en swart Suid Afrikaners kliphard en langarmdans en toi-toi. “Hier kom die bokke”, en “Shosoloza”. Die vrolike liedere van ons land.
    Eensklaps besef ek watter soort liedere deesdae andersins in ons land gesing word. “By the rivers of Babilon, where we sat down, there we wept, when we remembered Zion,” sing Boney-M oor die lot van Afrikane wat as vreemdelinge elders in die wêreld woon. Soos in Psalm 137 waar die Israeliete sê hou op sing, ons kan nie in ‘n vreemde land sing nie, sing net treurliedere oor ‘n land wat nie meer bestaan nie! Ons kan sekerlik ook in ‘n oënskynlik vreemde land hier aan die suidpunt van Afrika ‘n lied in dieselfde trant kan skryf. Dit sou dalk so kon klink: Aan die suidpunt van Afrika, daar sit ons en ween, as duisende mense vermoor word, die meeste in enige land in die wereld, en ons vreemdelinge sonder enige mag is in die land waarin ons gebore is. Ons trane vloei as mense wreed op plase doodgemaak word, as jy nie eens meer in jou eie huis veilig is nie, as jou besittings van jou gesteel word, as jy doodgemaak word vir ‘n selfoon en ‘n tienrandnoot. Ons ween as ons kinders nie meer ‘n toekoms sien nie, en oral oor die wêreld heen immigreer om te kan werk, en te kan leef. Ons trane vloei as ouer mense wat dit nie kan belostig om te immigreer nie, wat dit nie eens kan bekostig om te gaan kuier nie, in eensaamheid verlang na kinders en kleinkinders oor al die uithoeke van die aarde versprei. Ons ween as alles rondom ons ineenstort, en die hemelhoë belastings wat betaal word, deur gulsige en korrupte hande gesteel word. Ons ween as onskuldiges blameer word vir alles wat foutgaan in hierdie land, terwyl onbevoegdheid, massiewe korrupsie en nepotisme daartoe lei dat baie dinge agteruitgaan. Ons ween as duisende mense brandarm sterf aan siektes soos vigs en tering, as bedelaars by die straathoeke staan vir kos. Ons trane vloei as ‘n gesin niks het om te eet nie, as kinders uitgeteer is van die honger, terwyl andere deur selfverryking banale skatte opbou en miljoene rande net verdwyn, sonder dat enigiemand daaroor vervolg word.
    Maar ons is anders as die Israeliete in die Babiloniese ballingskap, waaroor Boney-M sing. Ons is nie weg van Sion nie. Ons is hier, saam met miljoene ander mense dwarsoor Suid Afrika, en ons almal is ewe lief vir die land. Al is dit waar dat skrikwekkend baie mense hulle liere opgehang het. Nie meer lofliedere oor Suid Afrika wil sing nie. Dat ‘n laat, rustige ontbyt op ‘n Sondagoggend, peperduur sekuriteitsdienste en hoë veiligheidshekke vir hulle die enigste manier word om geestelik, fisies en emosioneel te probeer oorleef. Hulle persoonlike immigrasie na vryheid.
    Saterdag se eindstryd het ons baie meer geleer as hoe goeie rugby gespeel word, en die teëstaanders gefnuik moet word. Dit het ons geleer om aan te hou sing. Nie treurmaeres nie, maar prysliedere. Hoe durf ons ons liere ophang? Al voel dit vir jou soos ‘n vreemde land. Al het jy ook al deurgeloop onder misdaad. Al woon jou kinders en kleinkinders in ‘n ver land. Jy moet ‘n verskil gaan maak in hierdie wye, droewe land waarin die aasvoëls lank reeds die gedoemde waarheid dra, soos wat NP van Wyk Louw skryf. En daardie lied van jou, van ons, se stem sal so hard word dat dit ‘n ontstuitbare golf sal word om hoop te bring. Soos Coenie de Villiers sing: “Thula Thu thula baba thula sana / Thulu babuzo ficka ekuseni / Al lyk hul soms verskillend / Bly elke ma oneindig trou / En sy sing haar lied van liefde / Vir alle kinders, ook vir jou.”

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die lewe