fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, September 24, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Elke straat, elke gebou word eensklaps ‘n storie, ingekleur deur name en gesigte.

    Die vlug in die beknopte sitruimte van die Kulula-vlug vanaf die Kaap het die man moeg gemaak. Om, hoewel lyfseer, van die vliegtuig af te klim, is ‘n groot opgewondenheid. Tafelberg is nou op ‘n ander planeet. Die sintuiglike waarneming van die Hoëveld op die trappe van die vliegtuig is eensklaps soos koue water wat op hom gegooi word. Dit word ‘n poort na ‘n ou geleefde wêreld. Bekende reuke en gesigseinders is bykans oorweldigend. Die soel lentelug en die deinserigheid van die Magaliesberge in die verte, maak diè wêreld ‘n heimat, ‘n roering van lank vergete gevoelens. Dis steeds net onder die oppervlak, al is dit lank reeds deel van gister. Asof sy sintuie hulle aanslag op sy gemoed wil versterk, begin Neil Diamond in sy kop dreun: “Well I’m New York born and raised/but nowadays I’m lost between two shores/LA’s fine but it ain’t home/New York is mine but it ain’t home no more/I am I said/ to no one there.”
    Wanneer hy die bekende dorp waarheen hy op pad was binnery, is hy verstom om te sien hoe groot, maar hoe vervalle dit geword het. Daar waar mielielande was, is nou die een meenthuiskompleks na die ander. Die bekende het onbekend geword. Maar die onbekende is steeds bekend. Elke straat, elke gebou word eensklaps ‘n storie, ingekleur deur name en gesigte. Stories wat herhalend onthou en herleef word. Een gedagte begin loskom in sy kop: wat maak ek met die stories van gister en eergister? Want baie van sy stories is geweef rondom die huise, strate en mense van hierdie dorp. Ook die klanke, die treine wat rangeer in die nanag, die trokke se hake wat slag-teen-slag gekoppel word, die eentonige druising van SASOL dwarsdeur die nag wat hom herinner aan die see by Langebaan. Mooi storie, dink hy. Soet, nostalgiese stories. Soms hartseer, soms bitter, meestal mooi. Maar is dit nodig om dit oor en oor te lees? Baie van die kiekies in daardie stories is in elk geval reeds weg. Hulle het aanbeweeg. Hulle pronk nou in ander plakboeke, hang teen ander hartsmure, word in ander geselskappe aangehaal en geniet. ‘n Nuwe gedagte begin by hom posvat: Lees mens nie die ou, bekende stories van jou lewe so herhalend, dat jy die kans verbeur om nuwe stories te skryf nie? Is jy nie verantwoordelik daarvoor dat die narratiewe van jou lewe steeds na gister en eergister bly terugdwaal nie?
    Die wêreld waarin jy leef, bestaan uit baie stories, besef hy nou, asof vir die eerste keer. Vele daarvan ongeskryf. Gister se verhale is goed, dit is mooi. Maar as jy aanhou dit vertel, verloor jy dalk baie stories wat net so mooi kan wees, indien nie beter nie. Dit is jou keuse of jy die ou hoofstukke wil lees, tot vervelens toe, en of jy nuwe hoofstukke wil begin skryf, met onontdekte ervarings, nuwe horisonne wat getrap moet word. Hy dink aan die Duitse volksverhale oor Tyl Uilspieël wat elke dag van sy lewe sy ervarings sorgvuldig met sy vulpen in ‘n groot boek met ‘n deftige leeromslag geskryf het. Op die leer was in goue letters gedruk: My Lewe. Hy het die boek oral waar hy gegaan het, saam met hom gedra. Op ‘n dag is hy in stormweer met ‘n wankelrige hangbrug oor die Rynrivier. Die brug het so geswaai dat hy sy balans verloor het en in die rivier geval het. ‘n Visserman met ‘n boot het sy benoude geskreeu gehoor, en hom uit die malende, kolkende water gaan red. Sy eerste vraag was: “waar is my boek?” Na ‘n gesoek het hulle die uitgespoelde boek gekry. Die swierige leeromslag was steeds daar, met die goue woorde:”My Lewe” Maar binnekant was daar niks. Elke letter, elke woord en sin was weggewas deur die water van die Rynrivier. Tyl Uilspieël moes op lyn een van bladsy een begin om ‘n nuwe verhaal van sy lewe te skryf. Die man dink daaraan dat dit nie beteken het dat Uilspieël die ou verhale vergeet het nie, maar dat hy met die nuwe verhale wat hy opskryf, kan seker maak dat hy nie die ou stories se slegte dele weer sal opskryf nie. Mense wat hom seergemaak het, hoef nie weer genoem en opgeskryf te word nie. Die foute wat hy gemaak het, kan nou vermy word. Dis klaar vertel. Dit hoef nie weer te gebeur nie. Gesigte, drome en name is in sy geheue ingegraveer. Dit hoef nie langer in sy boek te wees nie. Daar is nou baie plek vir die opskryf van nuwe name, nuwe stories. Stories oor lag en liefde en vriendskap. Nuwe onthou-oomblikke kan nou gekoester en opgeskryf word.
    Op die vliegtuig terug draal dit deur sy kop. Hy is inderdaad “nowadays…lost between two shores”, soos Neil Diamond sing. Nog hier, nog daar. Hy sit weereens in die beknopte ruimte van die vliegtuig, en begin inventaris neem van die stories in sy boek “My Lewe.” Die beskrywings van slegte ervarings, die mismoediges, die teleurstellendes, die onvoltooides skeur hy een-vir-een uit. Frommel die blaaie op. As tipe van ‘n soort binnepret verbeel hy hom nog ‘n storie. Hoe hy vroegoggend met sy sleepwaentjie gelaai met uitgeskeurde, opgefrommelde bladsye vol muwwe stories na Langebaan se munisipale ashoop ry, so vroeg en gretig dat hy moet sit en wag dat hulle die hekke oopsluit. Hoe die wag by die hek nuuskierig in die waentjie sal loer en vra: “Wat het meneer hier?” Hoe hy met ‘n groot glimlag sal sê: “’n Lewe.” Toe kom die son op in sy verdonkerde oë.

    So is die lewe