fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, September 26, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Die uitgestrekte, dor aarde van die Karoo is vir baie reisigers tussen die noorde en die suide van die land bloot ‘n lastigheid van honderde kilometers teerpad wat so gou moontlik agter die rug moet kom.Die plekname gaan dikwels ongelees verby: Drie Susters, Leeu-Gamka, Matjiesfontein, Moordenaarskaroo. Wanneer mens egter afdraai van die N1, ontdek jy die versteekte juwele van ons land. Williston, Vosburg, Loxton. Die skrikwekkende Oubergpas. Dan, uiteindelik, Sutherland. Nie net die plek waar die Sterrewag geleë is vanweë die helder, ongerepte karoosterreprag nie, maar, vir my persoonlik, die hoogtepunt, die Louwhuis waarin NP van Wyk Louw en sy ewe bekende broer WEG Louw grootgeword het. Van Wyk Louw skryf dikwels oor hierdie dorp. Jy dink onwillekeurig aan sy gedig Nog eenmaal as jy langs die verdroogde dorpsdam van Sutherland staan: “Nog eenmaal wil ek/in die skemeraand weer op ons dorp/en by ons dorpsdam staan/weer met my rek op in die donker skiet/en luister/en al word ek seer en dof/hoe die klein klippie ver weg in die riet/uit donker in die donker water plof.” Ek wonder of Louw ooit weer nadat die gedig geskryf is, weer daar was? As wêreldbewoner en voorste akademikus en letterkundige was sy tyd uiteraard beperk. Dit sal nogal interessante navorsing wees. Indien hy weer daar was, wat sou hy gedink het? Soos enige iemand wat iewers as kind grootgeword het, verstom staan hoe jou persepsies van ‘n plek, eensklaps ontbloot word as jy jare later weer daar kom. Nog eenmaal sou ek, soos Louw skryf, graag weer laataand wou gaan stap in Kentsirkel in Springs. Uit muwwerige gange van onthou kom die beelde: Baie van die tuine was sonder heinings, die huise sonder diefwering, elke huis se inwoners was aan jou bekend. Mense wat jare lank reeds daar woon, hulle kinders jou maatjies wat saam met jou in die skool en Sondagskool is, saam met wie jy toktokkie speel en bal in die straat skop, hulle ouers vriende van jou pa en ma, mense wat in tye van siekte en dood oorkom met ‘n pot sop, of ‘n baksels skons. Mans wat gou-gou ‘n hamer kom leen, vrouens wat op ‘n Saterdagmiddag bel om te hoor of daar nie dalk ‘n bolletjie blou wol by julle is om aan te gaan met haar hekelwerk nie. Elkeen van Kentsirkel se motors het ‘n eiesoortige dreun gehad, en jy het goed geweet wanneer hulle ry. Oom Daan se Holden, oom Frikkie se Chev, oom Jan se Studebaker. Die buurman oor die straat se sjokoladebruin Ford Zephyr met sy “banana-branch” uitlaatpype om die masjien se ontbrandingsprosesse so ekstra resonansie te gee. Nog eenmaal wil ek in Strakoschsirkel gaan staan en kyk na die pragtige kerkgebou van Presidentsoord waarvan ek namens die kinderkrans ‘n sooi gespit het, waar ek vir die eerste keer gepreek het terwyl my laerskool- en hoërskoolonderwysers sit en luister, die pragtige groot staaldoringkroon en die PX bo-op wat my ambagsman-pa met sy eie hande gemaak het en stuk-stuk met ‘n kruiwa gestoot het na die kerkgebou toe, omdat hy nie ‘n bakkie gehad het nie. Ek wil stom staan en luister hoe die klokke beier oor die hele voorstad: kom-kom, kom-kom, kom-kom, die diens gaan netnou begin… Hoe die klokke die muwwerige onthou in my skedel oopbeier. Maar ek weet, ek weet. Munisipale regulasies het die klokke nou stilgemaak. Kentsirkel is nou anders. Ek het anderdag daar verbygery. Die meeste van die huise is verberg agter pallisades of hoë mure, kameras en elektriese heinings. Jy ry nie meer na donker daar nie, wat nog te sê van stap. In plaas van die voorstedelike geluide van Dallas, Haas Das en Riaan Cruywagen op televisiestelle, hoor jy nou met eentonige reëlmaat die geklap van AK 47-skote in die nag. Die meeste groot bome op die sypaadjies is afgesny. Groot honde staan wantrouig en knor as jy stop om uit te klim. Jy ken niemand meer nie. Weet nie waar enige een hulle bevind nie. Jy weet dat Peter, wat jare die kafee gehad het, summier terug is Korsika toe nadat sy Maria een aand doodgeskiet is net voor sluitingstyd. Peter wat soms vir jou ‘n ekstra stringetjie drop gratis gegee het omdat jy so lief was daarvoor. Op facebook praat jy soms met ‘n paar van jou gewese bure. Van die wat doodgaan, hoor jy wel die een of ander tyd. Maar jy het geen benul waar die meeste wat nog lewe, is nie. Die middedorp van Springs, waar julle as gesin soms Saterdagaande gaan “window-shopping” doen het, is nou ‘n vreemde, onbekende Afrikastad met straathandelaars op die sypaadjies. Wagners behoort nou aan ‘n Pakistani wat selfone verkoop, die teater waar jy en jou maters oopmond gekyk het na rolprente soos Kaptein Caprivi en Hoor my lied, is ‘n dooie, grynsende skedel met swart oë. Die OK, waar jy jou eerste plaat, Love is a beautiful song, gekoop het vir 25 sent, is nou Azania Cash Loans waar wanhopige mense in lang toue sit. Jy onthou dat jou pa jou nog gemaak het die plaat terugvat OK toe om jou geld te gaan terugvra, want “kindertjies van Jesus luister nie sulke gemors nie.” So is die plekke van gister dikwels net ‘n hersenskim, ‘n onthou waarvan jy bedroë afkom. Die ensiklopedie van jou bestaan waarvan baie blaaie uitgeruk is. Die stofpaaie waar jou spore lê, waai maklik toe in die loeiende storms van die lewe.

    So is die lewe