fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Monday, September 21, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Dis asof die naggeluide die ewigheid en die ritmiese verloop van die heelal bevestig, maar dit is ook dreigend, onbekend.

    Nog een slaaplose nag. Die heer Klaasvakie het sekerlik my adres vergeet vanaand. Die weskusnag brand deur die studeerkamer se dakvenster in miljoene sterre. Amper soos gate in ‘n tentdoek waardeur die lig skyn, soos die ou Jode geglo het oor die uitspansel. Onder in die vallei flikker duisende liggies as ‘n vae herinnering dat ek nie heeltemal alleen is nie, dat andere ook hierdie donkerte bewoon. Mense wat vandag geleef het, gelag het, dalk gehuil het. Mense wat gelukkig is, en mense wat hartstogtelik droef is. Fiks mense wat gaan fietsry het, en mense wat huil van pyn. Mense wat diep slaap, maar ook mense wat slapeloos rondrol. Die lente het volgens die kalender stiptelik om twaalfuur aangebreek. Nou is die bome nie meer so kaal nie, die gras nie meer so yl nie. Augustus se winde het troosteloos gemaal, en die lente gaan soek. Die lug vermoed reeds lankal dat iets besig is om te gebeur. ‘n Malsheid, oordadige spel van amberrooi lig oor die see vroegoggend, en die lanferpers van die son wat sak agter Postberg word die uitroeptekens van die winter se sterwe. Jy beleef die donker nag as ‘n geboorteproses, die einde van ‘n oningekleurde bladsy, en die omblaai na ‘n helder ontploffing van kleure. Iewers skreeu ‘n kiewiet ontsteld, waarskynlik gesteur deur ‘n rondloperkat. ‘n Tarentaal antwoord vererg, en vêr weg, in die nasionale park, skreeu ‘n jakkals. Die seerste is die eensklapse geroep van ‘n hadida in die donker. Vervaard, ontredderd, ‘n blakerende angs. Jy vou jou arms om jouself te beskerm teen die onbekende, soos dit in die simfonie van die nag gespeel word. Dis asof die naggeluide die ewigheid en die ritmiese verloop van die heelal bevestig, maar dit is ook dreigend, onbekend.
    More, iewers in Kaapstad en Johannesburg en Londen en Istanbul gaan mense in hysbakke op en af ry, gaan besigheidstransaksies beklink word. Iewers gaan babas gebore word, iewers gaan iemand hulle laaste asem uitblaas. Hoe dieper jy die nánag inploeter, hoe meer word die vrae, en hoe minder die antwoorde. Jou oú, onopgelosde kwessies kom meld hulself een-een aan. Die keuses wat jy met jou lewe gemaak het, die afdraaipaadjies wat jou loopbaan geloop het, die vrees wat jy ervaar het in ander donker nagte op patrollie as soldaat, die skramse aanraking van die dood, wat ‘n paar keer langs jou bed kom staan het. Die dooies en verminktes langs die pad waarmee jy gekonfronteer is. Jy onthou ander winters en ander lentes. Die gesigte wat weggeraak het uit jou fotoalbum, lank voor die tyd van selfone. Die knus lentes in Springs en Pretoria en Trichardt, jakarandas wat baldadig uitbars in ‘n oordrewe pers. Die diepte van die nag maak jou bewoë oor hoeveel koue winters en reënerige lentes jy al beleef het. Jou kwesbaarheid word intens. Die tempo waarteen dae en nagte mekaar nou opvolg, voel vir jou soos ‘n mallemeule wat buite beheer raak. As die lug begin verkleur om die nuwe seisoen aan te kondig, kom die diepste van jou denke uit. Die woorde “ek het jou lief” begin ander betekenis kry. Jy dink oor God. Jy wonder oor God. Die natuur raak eensklaps stil. Véraf grom die branders, amper soos Sasol in die nánag. Die veld, bosse, die eilande in die see buite jou venster, word stom en woordeloos. Later hou jou dink op. Jy kan nie meer dink nie. Jy wil nie meer dink nie. Jy staan voor jou boekrak, haal die Spaanse skrywer Miguel de Servantes se bekende verhaal oor ‘n vaal mannetjie met die naam van Alfonsus Quichano uit. Hy het hom min aan die wêreld rondom hom gesteur, en net heeldag dik boeke gelees oor ridders wat drake en reuse oorwin. Dag en nag het hy homself hiermee besig gehou, totdat hy naderhand verward begin raak het. Op ‘n dag het hy homself tot ridder geroep en homself Don Quichot de la Mancha genoem. Hy het een maer perd met die naam Rosinante gehad wat hy opgesaal het, asook ‘n geroeste swaard wat hy iewers opgespoor het. Toe het hy besluit om heldedade te gaan verrig, om reuse en drake te gaan beveg. Ook het hy ‘n sukkelende kleinboer, Sancho Panchez, omgepraat om op ‘n donkie saam met hom te gaan en sy agterryer te wees. Een nag vertrek hulle toe. Quichot ry voor op sy knol soos ‘n generaal wat ‘n groot weermag lei. En die dik Sanchez kom agterna op sy lui donkie. So in die ry sien hulle in die donker ‘n reusagtige figuur voor hulle. Onmiddelik storm Quichot met sy knolperd op die ding af wat hy vir ‘n reus aansien. En daar is ‘n groot slag en ‘n aaklige gekreun. Quichot kry ‘n paar verskriklike klappe van hierdie reus. Die perd, Rosinante, lê plat op die grond, bo-op Quichot. Toe die son opkom, sien hulle: Dit was toe nooit ‘n reus nie, maar ‘n groot windmeul wat hy gesien het.
    Dit raak onbeskryflik stil net voor die son opkom. Jy dink daaraan dat jy in hierdie donker nag drake baklei het. Drake wat teen sonsopkoms maar slegs windmeulens was. Drake wat groot en skrikwekkend is in die nag, so aan die einde van die winter. Dit raak so onbeskryflik stil, dat jy die son kan hoor opkom. Jy dink aan Emmylou Harris: “…spinning unheard in the dark of the sky, and this is our glory if this is goodbye..” Dit is die nuwe seisoen. Jy dog in die donker nag het jy die winter uit jou uit geskryf. Maar teen dagbreek het dit nog dobberend voor jou gedryf.

    So is die lewe