fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, September 19, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Stilweg word ons wys en ouer, het Koos Doep gesing. Bekruip ouderdom jou soos ‘n dief in die nag.

    Anderdag vra ek die pompjoggie hier in Langebaan hoe dit met sy vrou gaan. Ek het geweet sy is al maande lank in die Groote Schuur-hospitaal, waar ek ook ‘n pasiënt is. Die belangstelling in sy persoonlike omstandighede maak ons eensklaps boesemvriende. Maar tergelykertyd word dit vir my ‘n steen des aanstoots, want elke keer as my vrou daar stop om brandstof in te gooi, vra hy: “Waar is oupa?” Haar aanvanklike antwoord was dat ek nie haar pa is nie, maar haar man. Sy reaksie: “Ja, dis hy. Oupa.” As sy dit met oënskynlike genot vir my vertel, onttrek ek my na die afsondering van die badkamer, en beskou myself krities in die spieel. Oupa? Dit kan nie wees nie. Kan dit die spierwitgrys baard wees wat ek gekweek het die afgelope maande?
    Stilweg word ons wys en ouer, het Koos Doep gesing. Bekruip ouderdom jou soos ‘n dief in die nag. Jy is gewoonlik die laaste een om te weet dat jy oud is. Want vir jou is jy nog daardie seuntjie wat in die stofpad paadjies met die hand gestoot het om karretjies te speel. Wat met houtblokkies huisies en veekrale gebou het. Sekere dinge val net in plek as jy die hele storie herken, en die vermoë ontwikkel om vandag en gister aan mekaar te las. Die kopkiekies van gister en vandag sif soos water deur ‘n tregter om die legkaart van jou bestaan te voltooi. Jou speelgrondonthou lyk anders deur vandag se lense. Edmund, die skoolboelie wat jou afgeknou het, is waarskynlik vandag ‘n verskrompelde ou man. Carl, die seun wat vir Sappi, die arm seuntjie, so pak slae gegee het op laerskool, is op die grens dood. Sappi het homself gehang op sy agttiende verjaarsdag. Ester, die meisie met die mooi kuiltjies op wie jy so vrek verlief was dat jy in die aande die badkraan se handstuk gebruik het as mikrofoon en kliphard vir haar “Daar is niks soos ware liefde” gesing het, is nog steeds in jou kop die meisie met die lang vlegsels. Een-een meld die gesigte van jou jeug aan om onthou te word in jou soektog na Oupa. Almal wat in jou kop voor jou kom staan, is steeds op laerskool. Hier en daar het jy weer van hulle raakgeloop op reünies, en net diegene wat jy gesien het, het vir jou ouer geword. Andere loop jy raak op facebook, en sien baie duidelik die trekke tussen hulle profielfoto’s en die swart-en-wit klasfoto’s van die sestigs en sewentigs. Die meeste van hulle spog met kleinkinders. Kan dit wees dat daardie dogtertjie met wie jy tiekiegedraai het in Jan van Riebeeck-laerskool se saal, ‘n ouma van vyf kleinkinders is? Of dat daardie seuntjie teen wie jou ma jou gewaarsku het omdat hy jou sou leer rook, vandag ‘n gesiene pastoor is? Jy begin effens anders te kyk na die oupa-storie, al is nog nie een van jou kinders getroud nie. Marx, die worshond, vul darem effens daardie gaping.
    Hoe verder jy grawe in gister om vandag te vind, hoe meer gesigte en plekke meld op jou kopvoorstoep aan. Peter se kafee waar jy eendag ‘n groot pak slae voor almal gekry het omdat jou pa vroeg van die werk af gekom het, en jou gevang het pinball speel toe hy wou sigarette koop. Jou pa het gesê net ducktails en hippies speel pinball. Hy moenie jou dit vang doen nie. Jy onthou die fourty-days in matriek, hoe jy en jou maters in matriek die meisieskool binnegevaar het en die een juffrou se Volksie in by die trappe opgedra het. Groot grap. Maar toe ons terugkeer seunskool toe, wag al die onderwysers ons in met rottangs en planke. Onder andere Skip Henderson, adjunkhoof en gewese Oos-Transvaalslot wat op die PAM Brink-stadion in ‘n wedstryd die legendariese All-Black Colin Meads se arm gebreek het. Jy en jou bende wat in ‘n ry staan, en die teleurgestelde skoolhoof wat elkeen in die oë kyk terwyl hy in detail beskryf oor watter deugdes daardie seun beskik, wat sy wandade op daardie bepaalde oomblik soveel meer pynlik maak. “Jan, my hoofseun.” “Piet. My eerstespankaptein.” “Paul, Oos-Transvaal bokser.” “Marius Britz.” Hy kyk my in die oë, en dink diep na. Hy soek na woorde, die skoolhoof. En dan kom dit uiteindelik: “Ek en jou pa is saam op die kerkraad!”
    So glip jou lewe verby. Alles en almal gaan skynbaar aan, raak rustig en word ryp soos die jaar in goue akkerblare, soos Van Wyk Louw skryf. Dis net jy wat gedog het jy is nog jonk. Miskien is dit ‘n ontkenningsfase, ‘n kop-in-die-sand-steek-tegniek wat sommige mense volg om die harde werklikheid van oudword mis te kyk. Is dit daarom dat ou mans baarde en lang hare groei as hulle aftree, groot motorfietse koop en kliphard na Pink Floyd en Dire Straits luister in hulle besadigde aftree Kia’s? Om weg te kruip vir Vader Tyd? Dylan Thomas se woorde word die eggo’s van ‘n lewe: “Do not go gentle into that good night, / old age should burn and rave at close of day; / rage, rage against the dying of the light. / Though wise men at their end know dark is right, / because their words had forked no lightning / they do not go gentle into that good night. / Good men, the last wave by, crying how bright / their frail deeds might have danced in a green bay, / rage, rage against the dying of the light.” Steeds, in die “dying light”, bly jy vir jouself dieselfde persoon as lank gelede. Oupa.

    So is die lewe