fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, September 19, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Ons fokus dikwels wanneer ons swaarkry op die toekoms as die ontvlugtingsplek van die hede.

    Een van die wêreld se grootste evangeliste, dr. Billy Graham, het diep spore getrap as mentor en geestelike raadgewer in die lewe van verskeie Amerikaanse presidente. Om die waarheid te sê, miljoene mense oor die wêreld heen is deur hierdie man aangeraak. Maar, in sy laaste jare, het hy gesê: “My liggaam roep om rus. Ek is bereid om nou hemel toe te gaan.” Dr. William Martin, ‘n sosioloog van die Rice Universiteit in Texas, het dr. Graham baie goed geken. In ‘n biografie met die naam van A prophet with honour, skryf hy as volg oor dr. Graham: “Hy sien vir homself net ‘n rooskleurige toekoms in die hemel saam met God. In die hemel sal alles wat ongelukkigheid op aarde veroorsaak, weg wees.” Volgens dr. Billy Graham is die hemel ‘n plek sonder sonde, rusie, selfsug, rassisme, pyn en lyding. Dit is baie mooi, met die mooiste blomme, daar is die mooiste musiek wat weerklink, daar sal heuglike reünie plaasvind tussen familie en vriende, en niemand sal ooit alleen of eensaam wees nie.
    Ons fokus dikwels wanneer ons swaarkry op die toekoms as die ontvlugtingsplek van die hede. So asof jy jouself verplaas na ‘n ander dimensie van lewe, wat dan uiteindelik jou huidige vorm van bestaan moet verdoof, of laat ophou. In talle godsdienste is daar ‘n geloof in ‘n beter toekoms in een of ander vorm. Die bekende John Bunyan skryf ‘n boekie genaamd Visions of heaven and hell, waarin hy die hemel en die hel met beeldryke vertellings beskryf. So skryf hy onder andere dat hy die hel besoek het, en daar gesien het hoe ‘n geldgierige vrou gemartel word deur ‘n afskuwelike demoon wat gesmelte goud in haar keel afgegiet het. Een van die aspekte van die hemel wat dikwels troos, is die verwagting dat familie en vriende mekaar weer gaan sien. Die digter Wilhelm Jordaan skryf ‘n aangrypende gedig met die naam van Hei, Mister: “As ek eendag in die hemel kom / sal God die Vader / nie omgee nie / as ek my pa eerste groet / soos altyd / met ‘n Hei Mister / want God weet / ek het ook na hom verlang: Pa se boet.”
    Ek glo onwrikbaar in die bestaan van die hemel waarvan die Skrif ons leer. Die gevaar is egter dat ons so sterk fokus op ‘n ander lewe na híerdie een, dat die mooi van vandag by ons verbygaan, dat jy só oorhoops raak met al die rampe en ellende wat jou getref het, of dat die turbulensie in die politiek en die sakewêreld jou huidige rit deur die lewe so skud, dat jy in jou kop immigreer. Jy lewe dan maklik kop-in-die-wolke, en die alledaagse mooi, die glimpsies van hemel op aarde, gaan uiteindelik by jou verby. Dit tref jou dan nie dat eenvoudige dinge, soos om as gesin, met kinders en kleinkinders, saam om ‘n tafel te kan sit en kuier, ‘n voorsmakie is van die versugting in Wilhelm Jordaan se gedig oor die hemel nie. Om bevoorreg te wees om as afgetrede egpaar gesond genoeg, met voldoende fondse, na baie jare se getroude lewe, te gaan reis, is ook deel van die reeds beskikbare vrede wat eendag vir ons wag. Dit kan iets veel meer eenvoudig wees. Wanneer laas het jy gelag, só gelag dat die trane loop, dat jy nie kan praat nie? Mense wat so heerlik kan lag, bring ‘n stukkie hemel in ons somber dae in. ‘n Duitse spreuk lui: “Wir planen Wochen und Monate voraus, Dabei sind es Sekunden und Minuten, die unser Leben entscheiden.” Kortweg beteken dit dat ons so ver vooruit dink, dat die huidige oomblikke van hemel maklik by ons verbygaan.
    Hier op die weskus is ons bevoorreg om vanjaar iets van Billy Graham se beskrywing van hoe dit in die hemel lyk, te ervaar. Dit was versengend droog die afgelope paar jaar. Ons posseël-grootte tuintjie het gekwyn tot daar net wit sand oor was. Selfs die broodbome het boedel oorgegee. Die somer was vaal, stowwerig, en eenvoudig verskriklik lelik. Maar, soos die Vlaamse digter Guido Gezelle skryf, ervaar ons in die natuur vir God vanjaar. Dit het mildelik gereën hier, die damme is baie voller, en nou reeds, voordat die lente amptelik aanbreek, is die wêreld oortrek met blomme. Die groen strook langs my studeerkamer lê maagdelik wit soos ‘n bruid in haar trourok, flambojant oortrek met weskus madeliefies. Die bruid is verder versier met oranje, geel en blou blommetjies. As jy die heilige aarde betree, kan jy tot vyftien soorte blommetjies onderskei in enkele vierkante meter van die verdorde, vernielde grond van ‘n paar maande gelede. Dis asof die natuur jou aandag terugroep na die basiese beginsels van die skepping, na die feit dat jy nie bloot net uitgelewer is aan ‘n blinde noodlot nie, maar dat jy maar ‘n stoffie op ‘n skaal is voor Iemand wat veel, veel groter is as jy.
    So ervaar ek vanoggend die hemel, hier en nou. Iets van eendag. Ek staar deur die venster, tot dáár teen die kobaltblou see, en sien hoe die aarde uitgestrek pronk in haar Josefskleed. Ek sit my plaatopname van ‘n Griekwagebed kliphard aan op my outydse draaitafel, en my ietwat verweerde hart jubel die musiek uit, saam met die pronkende veld, tot agter die horison, verby Donkergat, Schapeneiland en Dasseneiland:
    “Jirre stier tog U se wolklikeit / En goi U se drippelse op onse koppe yt / Draai onse lewe wee ‘n bietjie reg. / Lattie hyl nie ons nie innie nagte matlik slattie. / Ennie trane nie oppie mirrag skierlik vattie.”

    So is die lewe