fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Monday, September 28, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    As die Uber-huurmotor wegtrek voor die ou bekende huis in Aandblomstraat, maak hy sy oë toe.

    Hy loop vir oulaas deur die leë huis, en skielik draai ‘n liedjie van ABBA deur sy kop, ‘n frase wat weergalm deur sy brein, amper soos ‘n musiekkonsert in die Kangogrotte: “Walking through an empty house / tears in my eyes / this is where the story ends / this is goodbye.” Die gangmatte is plek-plek deurgeloop, die mure van die huis vol spykers wat die getuies is dat lewens daar geleef is, spykers waaraan foto’s van voorgeslagte, kinders en geleenthede soos verjaarsdae gehang het, skilderye van bosveldtonele en hoëveldkosmos, spykers wat nou skreiende uitroeptekens van ‘n einde geword het, hulle eie, persoonlike Golgota, die kruisiging van ‘n lewe.
    Hy draai die badkamerkraan oop, hoor die bekende gorrel van water in die pype. Staan en kyk hoe die water linksom uitsyfer. Daar waar hulle nou heen trek, sal die water andersom wegsyfer uit die bad, het hy al in die Hoërskool Hugenote geleer. Sy alma-mater waar die bekende standbeeld van die Franse meisie wat hoopvol na ‘n nuwe land kyk, lankal reeds voor die ingang verwyder is. In 1995 al.
    As hy die voordeur toetrek en sluit, gooi hy die bos sleutels in die posbus, waar die eiendomsagent dit later sal kom afhaal. As iemand anders dit dalk eerste kom uithaal, is dit nie meer sy probleem nie. Aan die een kant is dit bevrydend om só daaraan te dink, aan die ander kant voel hy die turbulensie van ’n diep hartseer wat in sy borskas brand. Die Merck-skeepsvraghouer met alles wat hulle besit, is ‘n week terug weg Kaapstadhawe toe. Sy vrou en kinders nog voor dit. Hulle moes gaan inskryf by nuwe, vreemde skole. Gaan soek na nuwe slaghuise, haarkappers, dokters en tandartse. Die huurhuis in die vreemde land, wat heelwat kleiner is as die huis wat hy van sy ouers geërf het, gereedkry vir wanneer die somtotaal van hulle aardse besittings daar afgelaai word. Hy moes klomp dinge afhandel: leêrs afsluit, hoofstukke toemaak, soos blomme op sy ouers se grafte gaan plaas, die kokketiel by sy nuwe eienaar gaan aflaai, die munisipale deposito gaan terugeis. Sy Mercedes, wat deel was van sy voordele as senior bestuurder, is reeds verkoop. Hy sal ‘n heelwat goedkoper, tweedehandse motor in Kanada moet koop. Dis al wat hulle sal kan bekostig.
    As die Uber-huurmotor wegtrek voor die ou bekende huis in Aandblomstraat, maak hy sy oë toe. Hy wil nie sien nie. Hy wèèt tannie Susan van langsaan staan op haar stoep en waai met haar kantsakdoekie. Oom Piet, met sy pyp in sy mond, langs haar. Hulle was nog sy ouers se oorspronklike bure gewees, destyds toe hulle as jongmense saam laat bou het en ingetrek in die voorstedelike Belville. ‘n Geslag mense wat hard gewerk het om ‘n rustige, gemaklike bestaan vir hulle oudag te verseker. Hulle wag al lank vir ‘n plekkie in ‘n aftreeoord, want dit het heeltemal te gevaarlik geword vir hulle twee oues om so alleen te bly. Maar dis die laaste ding wat hy nou wil sien. Hy maak sy oë vir die eerste keer oop as die huurmotor op die N2 draai. Regs van hom lê Tafelberg soos ‘n massiewe uitroepteken van Afrika se verruklike mooiheid. Van Donck het sy pyp gestop, die wolke hang in slierte bo-oor die berg. Miniskuul ry die kabelkarretjies op en af met oorsese toeriste wat hulle vergaap aan die asemrowende tonele van die uitgestrekte Kaapstad, met sy hawe en die weskus in die verte. Net buite die stad begin die plakkerskampe opeenstapel. Mistroostige makukus óp mekaar gebou uit flentersink. Sommige is op sulke steil hellings gebou, dat dit ‘n wonder is dat enige mens daar geslaap kan kry. Rye en rye plastiekopslaantoilette is teen die pad gebou. Hy kyk daarna, en ril by die gedagte dat ‘n dronkbestuurder beheer oor sy voertuig kan verloor, en deur daardie peleton toilette ploeg. Met mense daarin. Moedelose, flenter, uitgewasde klere hang oor die heining teen die snelweg. Oral staan mense beteuterd rond, wagtend op ‘n wonderwerk om te gebeur. Net anderkant die berg is die speelplekke van rykes, daar waar sommige mense twee miljoen rand betaal vir ‘n enkelmotorhuis in Clifton, waar hulle hul afslaandak Porsches en Lamborghinis kan parkeer, een van die duurste woonbuurte in die wêreld.
    Die naambordjies by die afritte op die N2 flits verby, en maak hom senuagtig. Lavender Hill, Mitchells Plain, Lentegeur. Die killing fields van Suid Afrika waar naweke tot sestig mense vermoor word in bendegeweld. Die plekke wat Kaapstad die reputasie as die derde gevaarlikste stad in die wêreld besorg het. Selfs die staproetes teen die manjefieke berg het deel geword van die killing fields. Die Kaapse vlakte wag angstig dat die weermag moet help om orde te bring. Hy dink aan die baie nagte, lank terug, toe hy as dienspligtige in Katlehong agter op ‘n Buffel gery het met ‘n R4. Die nagte toe hulle ook oral langs die roetes lyke opgetel het wat ge-necklace is. Niks het verander nie, dink hy. Die naggeluide van Lisa se klavier teen Tafelberg se hange is bloot vervang met die gekletter van AK-47 skote. Die waarskuwingsbordjies teen die pad verlig sy diep twyfel of hy die regte keuse gemaak het, so effens: “Be alert! High crime zone!’” Die selfoonadvertensie op die brug oor die snelweg vang sy oog: “Stay connected with your world.” Miskien, net miskien, is dit nie so erg om weg te gaan nie, dink hy. Die Uber laai hom voor die lughaweterminaal af, en hy stap na die inweegtoonbank. “Single, or return, sir?” vra die dame by die toonbank. “Enkel,” mompel hy. “Ek kom nie weer terug nie.”

    So is die lewe