fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, September 19, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Dis Sondagaand, en die kortbroekrubriekskrywer sit agter sy lessenaar en hamer en stut sy ronde kop om iets oor die lewe te skryf vir the Bulletin. Sy oë spring oor die titels van die baie boeke in sy boekrak. Daar is uitstekende rubriekskrywers onder hulle. Chris Barnard. Hanlie Retief. Koos Kombuis. Max du Preez. Dana Snyman met sy meesterlike stories. Wat bly daar oor om te sê oor die lewe, wat nog nie geskryf is nie? Miskien, dink hy, moet hy skryf oor ESKOM, want die waarskuwing het vanoggend gekom dat daar weer landwyd beurtkrag gaan wees, en dat die krag in sy dorp sal afgaan vir twee en ‘n half ure.Baie mense in ouetehuise sonder kragopwekkers wat afhanklik is van mediese apparate, mense in hoë misdaadgebiede wat in vrees leef omdat dit pikdonker gaan wees, vele winkels en restourante sonder kragopwekkers, gaan dit erg voel. Nee, daar is te veel al oor geskryf.
    Of dalk moet hy iets sê oor die R1 miljard wat die Guptaboeties vooruitbetaal is vir steenkool vir Eskom, voordat hulle landuit gevlug het sonder om die steenkool te lewer. Gelukkig kan hulle darem nog ‘n beskeie weeklange huweliksonthaal in Dubai hou vir hulle kinders, teen die skamele bedrag van 100 miljoen Rand. So, daar is niks nuut in diè storie nie. Dalk, dink hy, kan hy ietsie skryf oor die politiek. Van waardige en statige rooioorpak-leiers wat polisiemanne klap omdat hulle na bewering Die Opperbevelvoerder wil vermoor. Oor dansende, vinger-in-die-lug-swaaiende potsierlike diktatortjies wat dreig en blaas en slegsê. Wat met groot klarigheid verklaar dat volksmoord tans nie op die boeke is nie, maar ‘n toekomsopsie bly.
    Van politici wat in ure lange toesprake kiesers die son, maan en sterre beloof, terwyl hulle verswyg dat baie van hulle volgelinge alle moontlike fondse om so Utopia te bereik, in miljarde rande se tweehonderdrand-note in Louis Vuitton-handsakke en Checkersplastieksakke weggedra het. Ook dat geskenke gekoop met staatsgeld, beesvleispakke van 200 kg, hordes skaapvleispakke, dose vol hoender, dose vol blou-etiket whisky, bier en ander mengeldrankies, nuwe motors vir magtige staatsamptenare se kinders, veiligheidstelsels vir hulle huise en oorsese vakansies vir hulle en hul gesinne, sowat 30 % mense in hierdie land werkloos gelos het. Vêr verwyder van die hemel op aarde wat hulle belowe word voor die verkiesing.Nee, daar is ook te veel al hieroor geskryf.
    Of miskien, bedink hy sy storie, moet hy skryf oor boere. Juis vanoggend was daar weer ‘n plaasmoord in Lutzville gewees. Soos vele ander bykans elke dag waaroor nie eers meer berig word nie. En die knellende droogte in baie dele van die land, wat kommersiële boere breek, en hulle getalle minder en minder laat word. Boere wat soos Laurika Rauch se Mannetjies Roux-lied pleit: “O stuur ons tog net so ‘n bietjie reën!” Boere wat elke dag gedreig word dat hulle plase, wat beweer word gesteel is, met wetgewing afgevat gaan word. Hulle wonder wat gaan word van die bankverband op hulle grond waarvan nog miljoene rande uitstaande is, hulle koöperasieskuld, en die baie plaaswerkers en hulle gesinne wat van hulle afhanklik is.
    Of op ‘n positiewer noot, sal hy skryf oor die droogtehulp van R220 miljoen wat aan KwaZulu-Natal toegeken is. Maar nee, hy kan nie, want ongelukkig het dit verdwyn en niemand weet waarheen nie. Nee, daar is ook te veel al hieroor geskryf. Sou dit gepas wees om iets te sê oor die ontstellende getal mense wat op paaie sterf in ongelukke, oral in die land?
    Die N1 tussen Kranskop en Musina, en die uitgestrekte karoo tussen Laingsburg en Beaufort-Wes, die pad tussen Embalenhle en Graceland, of die N12 tussen Springs en Bethal? Sou hy dalk iets kon skryf oor die taxi’s, waarvan sommige met tot 30 mense oorlaai is? Of wat moedswillig aan die verkeerde kant van die pad ry en eenvoudig net toeter blaas sodat almal voor hulle moet padgee? Of sou hy dalk iets kon skryf oor treine wat in mekaar vasry oor menslike foute, of aan die brand gesteek word ten koste van miljoene rande, omdat pendelaars ongelukkig is oor iets? Nee, daar is ook te veel al hieroor geskryf.
    Sou hy dalk iets kon skryf oor skole? Oor onderwysers wat pligsgetrou net hulle werk wil doen met entoesiasme en toewyding, maar dan op sosiale media, in nuusberigte gekruisig en verneder word omdat hulle onskuldig ‘n foto op WhatsApp plaas om bekommerde ouers te wys dat hulle kindertjies gelukkig is op die eerste dag in die skool. Of onderwysers wie se geduld met sommige ongedissiplineerde, arrogante belhamels tot die uiterste beproef word, en dan in ‘n oomblik van swakheid hulle humeur verloor? Of sou hy dalk skryf oor studente wat laggend en dansend universiteitsgeboue en biblioteke aan die brand steek omdat hulle gratis wil studeer, gratis wil reis en eet, en wil deurkom, ongeag hulle punte? Nee, daar is ook te veel al hieroor geskryf.
    Miskien kan hy iets skryf oor die pompjoggie wat mense vriendelik met die hand groet, homself voorstel, en dan uitstekende diens met ‘n glimlag lewer, bande, olie en watervlakke nagaan, en vensters was. En groet met: “Veilig ry!” Of oor die motorwag wat sien hoe ‘n vrou haar beursie vol note verloor in ‘n parkeerarea, en agterna hardloop om dit vir haar te gee. Of oor die Xhosa-sprekende vrou by ‘n takkantoor van Binnelandse Sake wat ná sluitingstyd vier ure vrywillig oortyd werk, sonder vergoeding, omdat daar nog dertig mense in die ry is.
    Hy besluit om maar nie hieroor te skryf nie, want niemand stel daarin belang nie.

    So is die lewe