fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Monday, September 28, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Dit is jou erfporsie aan jouself. Dit sou ‘n reuse verlies wees om die gordyne op gister toe te trek.

    Coenie de Villiers sing in sy lied Eensaamheid: “ons het rakke vol cd’s, / ons doof die ligte, luister Bach / ons drink whiskey in die donker, / hoor hoe iemand langsaan lag”. Die donker is gewoonlik een van die plekke waar jou gedagtes loskom in jou alleentyd, waar jou onthou oopspring soos ‘n wipmes. Al is jou lyf ingeperk, gee die donker aan jou gedagtes en herrineringe vleuels. Vervloë plekke, tye, musiek het nie mure nie. Dit penetreer donker, dit reis vêr weg. Gister se mense kom weer na jou toe. Sondagaand mymer ek weer daaroor in my donker laatnagalleenwees: daar is soveel plekke wat oorgeadverteer is: die Eiffeltoring, Antarktika, Egipte, Rusland. Toe kom die nostalgiese stem van Jacques Brel oor my platespeler in die hoek van my studeerkamer. “Wanneer de regen daalt op straten, pleinen, perken / op dak en torenspits van hemelhoge kerken, / die in dit vlakke land de enige bergen zijn / wanneer onder de wolken mensen dwergen zijn, / Wanneer de dagen gaan in domme regelmaat / En bolle oostenwind het land nog vlakker slaat, / dan wacht mijn land … Mijn vlakke land…” En eensklaps is ek terug in België, waar ek ‘n klomp jare terug beland het. “Welcome in Belgium, where it rains 270 days of the year,” sê die bordjie in Brussels. Dis die land van Victor Orta, die vader van Art Nouveau, die land waar Napoleon sy Waterloo raakgeloop het, die land van 720 verskillende biere, elkeen met sy eie vorm glas, mossels en fritjes, tomaat cravette, Stef Bos, Tintin en Mannekin Pis. Ek onthou die dag toe ons daar geland het, hoe ek aan die verkeerde kant van die pad die bussie moes bestuur met agt dames van die Plooysburg-gemeente in, op pad na Brugge waar ons ‘n evangelisasieuitreik gaan doen het. (Gelukkig sonder verlies van lewe).
    Laatmiddag, nadat almal ingenes was op die boot waarin ons gebly het op die kanaal, het ek gaan stap in die eeue oue stad Brugge, al met die kobbelsteenpaaie langs. Ek het my verwonder aan die huise met hulle gordynlose vensters op straat. Jy kon by elke huis inkyk en voyeuristies sien hoe die inwoners televisie kyk, of aan tafel sit en eet, of bloot sit en gesels. En meer verstommend: dit was die gedenkfees van die grootse digter Joost van den Vondel. In elke venster op straat is een van sy gedigte opgeplak, die man wat vier kinders aan die dood afgestaan het, wat ‘n somber skadu oor baie van sy gedigte gewerp het. “Ghy ruste van uw trouwe plichten, /Na ‘et rusten van dien ouden stock, / Geknot door ‘s bloetraets bittren wrock: / Nu stut en styft ghy noch myn dichten.” En dit tref my: ons skamele 347 jaar (op daardie stadium) van gedokumenteerde geskiedenis aan die suidpunt van Afrika is ‘n stoffie op ‘n skaal teen hierdie millenia-oue beskawing. Oral op die plein met sy kobbelstene sit tannietjies met kappies en hekel die fynste Belgiese kantlappies. Ek ontdek ‘n oervakuum in my onderbewuste, tot dusvêr onvermoed. ‘n Soeke na my voorvaderspore, lank voor 1652 reeds getrap. Dit skreeu om ontdek te word. Toe sien ek dit: Het Liewe Fraauw-katedraal, nouliks sigbaar in die mis wat neersif in die grou lug. Nonne loop so skeef-skeef teen die wind vanaf die klooster na die katedraal, en ek gaan soek skuilplek binne sy mure. Na oomblikke word die heilige stilte in die katedraal onderbreek deur die suiwerste sopraanstemme wat Mozart se Agnus Dei sing. Die oorweldigende argitektuur, die suiwer sopraanstemme iewers, onsigbaar, hoog bo my, breek iets in my oop. Op daardie oomblik kon ek net sowel in die hemel gewees het. Ek het fragmente begin verstaan van die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Toe ek uiteindelik die katedraal verlaat, steeds oorweldig, gaan ek in ‘n middeleeuse kroeg in, uitgekap uit rots, so half onder die straatvlak. Ek is die enigste gas daar. Die kroegman, ‘n gulhartige man met ‘n reuse snor, sien ek is ‘n vreemdeling. “Ik ben van Zuid Afrika”, verduidelik ek. Hy plak ‘n Blonde-Leffe bier voor my neer, “Op mij”, verklaar hy luidrugtig. En hy begin vir my Jacques Brel speel, duidelik trots daarop dat Brel ook in Brugge gewoon het. “Ne me quitte pas! Hoor!” beveel hy. “Ik ken dit”, sê ek in krom Vlaams. “In mijn leuke taaltje is daar een man met de naam Fanus Rautenbach wat het in Afrikaans getransponeerd had.” Ek sê die woorde, wat ek uit my kop ken, in Afrikaans vir hom op: “ Kom luister na my: / in elkedagtaal / vertel ek vir jou ‘n liefdesverhaal: twee mense leer / twee harte versmelt / een liefde ontvlam ‘n tweede keer….want weggaan is dood… / moenie weggaan nie.” Hy huil onbeskaamd, vee die trane met die rugkant van sy hand af. “Ach, ach,” sê hy.
    “Ag,” dink ek toe hier in die donker, met Jacques Brel op die agtergrond. Dis waarheen my hart my vat vanaf ‘n stil weskus, laat op ‘n Sondagaand. Ek besef: geen plek, omstandighede of mens kan jou gees gevange hou nie. Al is jy alleen, en omring deur donker, kan jy jou ou reise weer herleef, terug na daardie plekke en tye gaan waar jy gelukkig was, waar jy kon lèèf. Dit is jou erfporsie aan jouself. Dit sou ‘n reuse verlies wees om die gordyne op gister toe te trek. – Ds Marius Britz

    So is die lewe