fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, September 24, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    “Jy kan nie almal se lewens verander nie!”

    Met redelike sekerheid kan ek verklaar: daar is nie een domineegrappie wat ek nie ken nie. Nog voordat iemand een begin vertel, weet ek alreeds wat dit gaan wees. Soos oor die plaaspredikant wie se spaarwiel die eerste aand in die stad tydens huisbesoek gesteel word, omdat hy sy kattebak oopgelos het vir ‘n skaapboud en sak aartappels. Sekerlik is daar baie redes waarom predikante en pastore so deurloop onder grappe. Die wêreldvreemde dinge wat baie van ons sê en doen, trek grappe aan soos ‘n magneet. Dikwels word jy opsetlik beproef deur mense wat domineegrappies vertel om te kyk wat jou reaksie gaan wees. Is hierdie ‘n “lekker“ dominee of pastoor? Dan sal hy hierdie grap geniet… dan hie-hie baie predikante maar saam, al is dit presies die 7362e keer wat hy die grap hoor. Maar daar is ook ‘n ander kant, ‘n verskuilde aspek van pastorielewe wat dikwels aan bitter min van die lidmate van ‘n gemeente bekend is. ‘n Mens kan dit vergelyk met hoe dit moet wees om in ‘n visbak te bly. Totaal sigbaar van alle kante af. Of, soos die rolprent The Truman Show van Jim Carrey uit 1998 oor Truman Burbank wat nie weet dat sy lewe deel is van ‘n massiewe TV-stel waar elke beweging deur onsigbare kameras dopgehou word nie. Die predikant, sy vrou en sy kinders word anders beoordeel as gewone mense. Ry hy ‘n nuwe motor, word hy te veel betaal. Ry hy met ‘n wrak, weet hy nie om met sy geld te werk nie. Sy vrou se haarstyl en klere, sy kinders se gedrag en skolastiese vordering is skynbaar oop agendas. Ensovoorts. Ek het die afgelope tyd na die ander kant van pastorielewe begin kyk. Eerstens omdat ek nie meer in ‘n pastorie woon nie, en tweedens omdat ek die geleentheid gehad het om lank met Dana Snyman te kuier oor die lewe van ‘n predikant, wat uiteindelik neerslag gevind het in sy boek “In die blou kamer”, en die rolprent “Die wel en weë van ds. Tienie Benade” wat tans in teaters wys. Toe ek Saterdag die rolprent sien, was dit ‘n skrikwekkende ervaring. Soos om jou eie lewe en loopbaan deur ‘n sleutelgat af te loer. Baie dinge wat gebeur het met my as predikant, en baie van my kollegas, en ons naakte emosies, word in die verhaal blootgelê. Vele karakters in die rolprent was werklike mense in gemeentes. En die snaakse staaltjies in die storielyn was deur eerstehandse ervaring opgedoen.Die verhaal is egter universeel die storie van die Kerk, regoor ons land en elders. Lidmate wat meer en meer postmodern dink, en waarhede wat al hoe meer relatief raak. Kerkgenootskappe, dogma en belydenisskrifte raak uitgedien, en emosionele ervarings van eredienste raak meer en meer die pleister wat mense trek. Ek het onlangs te doen gehad met skoolkinders wat net weet dat Abraham, Dawid, Paulus en Jesus “goeie ouens” was. Geen idee wie hulle is en waar jy van hulle kan lees nie. Want tradisionele kerkgang en Sondagskole het grotendeels gekrimp, selfs opgehou bestaan. Sondag se koerant het juis ‘n prominente artikel daaroor gehad. Daarom het die kerk ook ‘n bemarkbare item geword. Om te kan oorleef, moet dit deur die nuutste tegnologie, en moderne klankapparate toegerus word. Nie wat die prediker sê nie, maar hoe hy dit sê, is belangrik. Hoe hy lyk, sy taalgebruik op die kansel moet “cool” en “amazing” wees. Daarmee saam kan jy bykans enige vraag oor teologie gaan Google, en 50000 trefslae kry oor ‘n spektrum so wyd as die heelal. En jy kan kies watter Prof. Google-dogma jou begrips- en geloofsraamwerk die beste pas. Jy kan dit bedryf as godsdiens in jou eie kerk, sonder ‘n sewejaarlange opleiding in teologie. Daarvoor is geen prediker nodig nie.
    Dis maar net een van die aspekte wat ds. Tienie Benade so ironiese figuur maak. Hy is baie goed opgelei om in ‘n wêreld te gaan werk wat nie meer bestaan nie. Hy doen al die regte dinge met oorgawe, maar dit werk nie meer nie. Net om te sien hoe die lidmate minder en minder word, en al hoe meer mense na die “Noordkerk van dr. Dirkie gaan”, omdat hy wat Tienie is, so outyds is. In die proses word hy vereensaam, moedeloos, vervreem van sy vrou en kinders, en word hy deur moeilike gemeentelidmate tot die uiterste beproef. Hy is, volgens die model van Alice Mann oor gemeentestrukture, aangestel as kapelaan van die “clan”, en hy moet voltyds, sewe dae per week, enige gril en gier en krisis en behoefte hanteer, hulle elkeen persoonlik ter wille wees, ten koste van homself en sy gesin. Daarom is sy antwoord op iemand se stelling: “Jy kan nie almal se lewens verander nie!”, die hartseer waarheid: “Het ek dan enige iemand se lewe verander?” Ds. Tienie voel homself geisoleerd en in die steek gelaat deur die Kerk.
    Dit het ek oor dertig jaar te veel ervaar. Vier van my finalejaars proponentsklas-kollegas het in die bediening selfmoord gepleeg, waaronder my boesemvriend. Terloops, sy verhaal en my pad met hom is ook deel van die film oor ds. Tienie, net effe versteek.
    Die antwoord, meen ek, is voor die hand-liggend. Die kerk is nie die predikant alleen nie. Die kerk is ook jy, met jou woorde, dade, opinies, gesindhede, deernis, houding en verhoudings, oral waar jy gaan. Dan sal hulle wat buite is, weer binnetoe kom. Ook die armes en stukkendes. WWJD? – Ds Marius Britz

    So is die lewe