fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, October 1, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Maak hierdie jaar kersfees die fees van betekenis, om vir mekaar God se liefde te wys.

    Deesdae sien jy dit oral: mense wat in restaurante, op partytjies, gradeplegtighede, skoolkonserte, waar ookal, hulle selfone uitpluk en hordes foto’s neem. Selfs kruideniersware word in die winkel afgeneem en dan huistoe gewatsapp om by mammie te hoor of dit die regte seeppoeier is. Alhoewel selfone die nuutste tegnologie is, is dit ‘n baie ou gebruik om vir mense te vertel van jou familie en vriende. Selfs die ou Jode het dit gedoen. Daarom wys Matteus heel aan die begin van sy evangelie die babatjie Jesus se familiealbum vir sy lesers. Daar is gewilde, algemene gesigte wat ons dwarsdeur die Bybel raakloop in die bloedfamilie van Jesus. Kyk, hier is Abraham, Dawid, Hiskia, sterk, forse voorvaders op wie mens trots sal kan wees, sê Matteus. Maar daar is ook ‘n paar kiekies van Jesus se voorgeslagte wat mens nie oor sou wou praat nie, veral nie voor die kinders nie. Goddelose konings wat verdrae gesluit het met die vyandige nasies en afgode aanbid het. En dan, die ondenkbare: foto’s van vrouens!. Dit was ongehoord, ‘n vrou is eenvoudig nie genoem nie. Maar Matteus wys hulle foto’s in Jesus se album. Tamar wat haar skoonpa verlei het, Ragab die prostituut, Rut, die Moabitiese vrou, Batseba, die vrou van Uria, wat nie eers op haar naam genoem word nie, en Maria, die ongetroude meisie wat swanger geword het. Skandevrouens in die lesers se oë!
    En dit is duidelik: Jesus se lewenshouding was totaal anders as die van gewone mense. Hy het ‘n gewone Joodse naam gehad, Hy het hom met gewone mense vereenselwig, soos tollenaars en prostitute. Hy het homself met gewone dinge besig gehou, soos om in die skrynwerkerswinkel ‘n ambag te loop. Maar hy was anders as alle mense. Soos ‘n koning het hy oor die vlaktes van Palestina geloop en wondere gedoen. Met deernis het hy na sy naaste gekyk. Hy het een met die wêreld geword, sodat die wêreld een met hom kan word. Jesus het gekom vir mense soos Ammon en Ragab en Tamar, die verleidster. Jesus het gekom ter wille van mense soos jy en ek.
    Kersfees is die fees van gewone mense, mense met hulle vrese, maar ook mense met hulle vreugdes. ‘n Fees gevul met vrede wat alle verstand te bowe gaan. Daardie vrede loop op die voetpaadjies van jou alledaagse lewe, dit bring vir jou ‘n rustigheid. Jesus het vele mense aangeraak in sy 33 jaar met liefde, met wonderwerke, met deernis. Die een vir wie daar nêrens plek was in Betlehem toe hy gebore is nie. En vandag, tweeduisend jaar later, staan ons in die stippeltjie tyd wat God ons gegun het om te leef, en ons kyk deur Matteus se foto’s. Die kersverhaal het alles wat nodig is om ‘n groot verhaal te vertel: politieke intriges, konflik, afwagting, verraad, die drama van ‘n geboorte, vrees, en verbasing. Die een saak van die kersverhaal wat werklik by jou bly, is hoe eenvoudig dit werklik is. Die kersverhaal se grootste element is die betekenisloosheid rondom Christus se geboorte.
    Sommige mense mag protesteer teen die woord betekenisloosheid. Maar kyk hoe word oënskynlike betekenislose mense en plekke in die kersverhaal verander. Die groot wêreldstede was Rome en Sirië. Dit was die New York en Londen van daardie tyd. Wêreldheersers het daar gewoon, en politieke swaargewigte het daar saamgetrek. Niemand het veel omgegee vir Palestina nie, ‘n klein onbeduidende landjie met min inwoners wat weggesteek is iewers in die midde-ooste. En Jesus word hier gebore in die klein stadjie Betlehem wat slegs maar bekend was omdat dit ook die stad van die groot koning Dawid genoem is. In ‘n krip. Nie in ‘n hospitaal nie, ook nie in die kamer van ‘n bekende vroedvrou van daardie tyd nie, maar in ‘n voerbak in ‘n stal. God se ingrype het betekenislose plekke op die kaart geplaas.
    Maar nie net betekenislose plekke het verander nie. Gesiglose, eenvoudige mense het bekend geraak regdeur die wêreld vir 2000 jaar alreeds toe God ingegryp het. Die belangrike mense van die tyd toe Christus gebore is, was Keiser Augustus en Sirenius. Hulle het opdragte gegee en wette gemaak. Maar God kies ander rolspelers vir die geboorte van sy Seun. Daar was ‘n arm, eenvoudige Joodse paartjie met die naam van Josef en Maria. Hulle was nie eers getroud nie. Onbekende en niksbeduidende mense. En mense soos Ragab en Tamar en Batseba. Hulle name is deur God verewig vir 2000 jaar alreeds. Naamlose skaapwagters in die oop veld. Klein, betekenislose mensies het skielik saak gemaak die dag toe God ingegryp het. Ek en jy ook. Kom ons deel in hierdie feestyd kwistig God se gawes aan mekaar uit. Maak Hom vir wie daar nie plek in die gastehuise was nie, tuis in ons lewe. Kom ons vier Jesus se koms met gasvryheid, en gooi ons hart se deure vir mekaar oop en vul die mense naby aan ons se lewe met betekenis. Sê: Hier by my is daar skuiling teen die winde van die lewe. Kom staan hier by my, dat ek bietjie van jou seer op my kan laai, dat ek bietjie van my vreugde op jou kan laai, jou kan vul met liefde, jou bestaan betekenis kan gee. Maak hierdie jaar kersfees die fees van betekenis, om vir mekaar God se liefde te wys. Mag jou kersfees geseënd wees. En mag jy almal met wie jy in aanraking kom, se kersfees geseënd maak. – Ds Marius Britz

    So is die lewe