fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, September 19, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    En jy onthou hoe jy en al jou maters en hulle metgeselle kliphard saam met die lied gesing het: “I’ve got chills, they’re multiplying.”

    Die toetswedstryd tussen Wallis en Suid Afrika het by mense groot verwagtinge opgewek; by my nie net die wedstryd self nie, maar ook die uitsien na die sing van die Walliese volkslied, aangrypend mooi net soos hulle: “This land of my fathers is dear to me / and of poets and singers / and people of stature / her brave warriors, fine patriots / shed their blood for freedom.” Maar daar raak hierdie volkslied toe Saterdag effe verduister deur Nkosi sikelel’ iAfrika, juis omdat die kamera drie keer infokus op ‘n Suid-Afrikaanse vrou in die skare wat onbeskaamd huil. Eers blink haar oë, dan loop die trane, en met die laaste skoot is sy oorval deur ‘n onbeheerde hartseer. Mens weet instinktief: dit is hoe ‘n diep, diep verlang lyk, ‘n melankolie wat nie in woorde omgesit kan word nie, ‘n ingebore Heimatserlangen, soos die
    Duitsers dit noem. Miskien het ons volkslied in daardie oomblikke al die seer en heimwee en verlange en besef van finaliteit en afskeid van die bekende wat saamgebondel is in haar, losgeknoop. Miskien het sy in die woorde “Uit die blou van onse hemel / uit die diepte van ons see” iewers die karoo se stilte gehoor, of die cumulus stratus-wolke van die Hoëveld kort voor ‘n donderstorm gesien, of dalk die sonsondergang by Balule in die Krugerwildtuin. Miskien was sy vir ‘n paar vlietende oomblikke weer ‘n standerd drie-dogtertjie van die Noord-Kaap in ‘n netbalspan, of matriekmeisie in die Biologieklas saam met haar maats besig om eksperimente te doen. Of dalk het sy ‘n sêrrie op universiteit onthou, waar meisies “lank na middernag dromend luister na die lied van elke troebadoer” soos Koos Doep skryf. En die FAK- lied “Liewe maan” wat so dikwels geserenade was, is vir haar nie meer diè een wat oor Afrika skyn nie, maar ‘n bleek, vreemde Europese een, meestal verduister deur die aanhoudende mis en reën van die Britse eilande. Nkosi sikelel’ iAfrika trek juis toè al die proppe van haar gemoed uit, terwyl miljoene mense toekyk.
    Musiek het die manier om opgekropte emosies te laat uitbondel. Vaagweg hoor jy ‘n lied speel, oor die radio, in ‘n winkelsentrum, waar ook al. En in daardie paar oomblikke word jy dadelik in tyd en plek verplaas na ‘n ander lewe. So hoor ek eendag Heino sing: “Hart wie Kameldornholz ist unser Land”. Eensklaps is ek ‘n reisiger deur ruimte en tyd, na baie jare terug. Iewers in die bos, ‘n klomp moedelose, gefrustreerde, verlangende soldate. Water is skaars, en dis ontsaglik warm. Laataand is almal in ‘n modderdam in, maar die gemoedere kan met ‘n mes gesny word. Een man begin toe diè woorde sing. Een-vir-een val die ander in. Uiteindelik word dit ‘n bulderende stuk ontlading, ‘n “Oshakati, Oshakati, Oshakati Wamboland / dis die mooiste plek op aarde / Oshakati Wamboland.” Op ‘n manier het hierdie liedere hulle waaromvrae beantwoord.Coenie de Villiers se lied Paternoster bring weer ander assosiasies, ander ervarings, ‘n ander lewe. “Die see by Paternoster, is ‘n ander see, meneer.” Inderdaad, Coenie. Anders as Murrayparkdam in Springs, en Eendjiedam in Secunda, voorwaar, meneer. Sondae se vroegoggendryery het weer musiek van sy eie. Die strate stil, vol rommel, met hier en daar iemand wat aanstrompel werk toe, is ‘n uitroepteken van die skreiende teenstelling met die vorige aand se rumoer, gedoef-doef in raserige motors, gelag, selfs bakleiery wat die dekor bepaal het. Dan maak Kris Kristofferson sin: “There is something in a Sunday that makes a body feel alone.” En Händel se Dodemars van Saul ruk jou terug na stadige-pas-mars, agter die kanonwa met die landsvlaggedrapeerde doodskis, die draers en slippedraers met stroewe gesigte langs jou. Musiek trek die stoppe van vergeet uit. As jy John Travolta en Olivia Newton John se Grease hoor, is jy weer die puisierige seun op sy matriekafskeid in die skoolsaal, trots in sy spiksplinternuwe driestukpak, wie se lyf ritteltit en beweeg soos ‘n sprinkaan op ‘n warm plaat. En jy onthou hoe jy en al jou maters en hulle metgeselle kliphard saam met die lied gesing het: “I’ve got chills, they’re multiplying.” Die lewe het voor julle gelê om geleef te word. As jy na hulle foto’s kyk veertig jaar na matriek, besef jy dat sommige van julle harder as ander geleef het. “Wie weet hoe vêr moet my kindjie nog ganetjies,” het Langenhoven in sy kinderliedjie geskryf. Assosiasies, kopkiekies. Drieledige aanmekaarweef van emosies en note en tydsgrepe. Dit is wat musiek aan jou doen. En daardie meisie, dáárdie een wat jou gelos het, waar sy ook al vandag is, kom vlugtig terug na jou toe as Roberta Flack sing: “The first time, ever I saw your face.” Die helder klank van die Kanaries (die SAW se koor en konsertgroep), as hulle in die gebou waar jou kantoor is, oefen en die sielvolle musiek van Bach se Johannespassie oor die paradegrond dawer, hoog bo die bevele van die korporaals uit: “Ruht wohl ihr heiligen Gebeine.”
    Dit is waarlik so: of jou lug helder blou is, en of dit gitswart is, iewers in die heelal rondom jou is daar ‘n kombinasie van note wat jou kan laat oorborrel van vreugde, en jou gemoed kan salf. Word ‘n reisiger in tyd deur jou cd-versameling. Dis die suikertjies van lèèf. – Ds Marius Britz      

     

    So is die lewe