fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, September 19, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Lees jou gedrukte koerant, en bly ingelig. Sela.

    “Steve Hofmeyr dood in motorongeluk!” ‘n Facebook-nuusblad basuin dit uit: “Dit is bevestig, dit het laasnag gebeur”. Groot konsternasie! Die volk ween, histeriese meisies huil met rou snikke oor hulle held, ons eietydse Abraham. (“Vader van vele…”). En dieselfde oggend is daar nog ‘n aardskuddende berig van ‘n ander nuusblad op facebook: “Angus Buchan is ‘n New Age profeet.” Met foto’s waar hy, Stetson op die kop, die satansaluut wys. En weereens gons dit van reaksies, positief en negatief. Twee dae later is daar ‘n foto van die NG kerk-leiers saam met die EFF-bestuur. “NG kerk borg plaasmoorde! Dis waarvoor jou bydraes en tiendes gebruik word!” Hierdie sensasionele berig word gevolg deur honderde boosaardige emoticons, en kommentare wat grens aan die godslasterlike. Maar, uiteindelik, by nadere ondersoek, was dit alles net ‘n klomp bog wat deur goedgelowige mense vir soetkoek opgevreet word. Want ons lewe in die era van kitsnuus. Alle vars nuus is nou, onmiddellik, op jou selfoon beskikbaar. Hofuitsprake, soos die Rhode-skuldigbevinding, die bedanking van onse blink minister van Binnehandse Sake wat op sy eie spies geval het, en vele meer, soos die vuisgevegte tussen parlementslede tydens ’n sitting (dit was nie eers op Supersport se bokskanaal nie!).Hierdie kitsnuus kan maklik deur mense gemanipuleer word, om enige rede, politiek, sensasie of wat ookal, om fopnuus te word. Leuens, verdigsels en verdraaiing van feite word deur sosiale media-verslaafdes opgeslurp en met groot fanfare en ondeurdagte kommentaar daarby ge-share, ge-twitter en ge-whatsapp. En die volk is ontsteld, hulle huil, hulle skinder, hulle kla, hulle word woedend. Oor al die fopnuus waarmee ons elke dag gebombardeer word. Donald Trump is een van diegene wat alle berigte oor sy gebrek aan finesse en goeie maniere afmaak as fopnuus. Baie van ons politieke leiers doen dieselfde. As jy nie daarvan hou nie, noem dit fopnuus. Die een vraag wat jy jouself moet vra, is: “Wat is die bron van hierdie inligting?” Mens herken deesdae al die fopnuusbronne. Nog voordat jy die sensasionele opskrifte lees, weet jy by voorbaat dit is nonsens as jy sien deur wie dit geplaas is. Dit laat jou sommer verlang na die dae van SAPA-AP (South African Press Association, en Assosiated Press). Die nuusbron wat alle inligting geverifieer het voordat dit aan koerante deurgestuur is. En jy kon met meer vertroue lees wat in die Transvaler staan. (Hy het by baie mense se politieke oortuigings gepas.) Of die Rand Daily Mail, wat weer ander mense se politieke oortuigings gestaaf het. In daardie koerante is nie sommer gelieg nie, die volle stel feite is net onderbeklemtoon of geignoreer. Altwee hierdie gesaghebbende koerante is intussen oorlede. Volgens statistieke is daar minder as ‘n halfmiljoen lesers van egte gedrukte koerante oor. In die digitale era word facebook en Netwerk24 en Maroela Media op die rekenaar of slimfoon of tablet gelees om op hoogte van nuusgebeure te bly. Hierdie media werk nie vir my nie. Ek, en baie van my geslag, het grootgeword met ‘n koerant wat elke dag by die voordeur afgelewer is. Dit bly steeds my grootste vreugde; om vroegoggend deur die slaap voordeur toe te strompel in my afgeleefde pajamas, en my Burger te gaan haal. Toevallig dat ‘n paar jong blonde buurvroue juis daardie oomblik kies om by ons huis verby te ry? “Kyk daar vir oompie in sy nagkabaai!” En in reaksie op die bewonderende blikke van hulle kant af, laat my pasaangeëer al die elektriese garagdeure in die buurt gelyktydig oopgaan. Dan is dit oggendkoffie en die sorgvuldige deurlees van elke enkele berig in die koerant. Dan kan die dag maar kóm! My grootste hartseer was toe ons in die Karoo beland het, waar daar geen koerantaflewerings was nie.Ek, synde ‘n koerantverslaafde vandat ek kan onthou, het dit swaar gevat. My vrou kon nie verstaan waarom ek aan die begin van ons Karoojare elke Sondagmiddag gejeuk het om te gaan kyk hoe lyk Douglas, of Kimberley, of Modderrivier-Ritchie nie. Kilometers se grondpad.Om, terwyl ons dan nou kyk hoe diè plekke lyk, kan ek.. net sowel… maar.. ‘n Rapport koop. Ons is nou hier. Of hoe? In my koerantlesery kom my obsessief-kompulsiewe streek na vore. Niemand mag aan my koerant vat voordat ek hom nie gelees het nie. Want dan is hy gekontamineer. So was dit vandat ek begin lees het. Die Vaderland, wat elke dag afgelewer is, die Springs Advertiser en die Kerkbode was sakrale dokumente vir die klein Britzie. Reeds in graad een het ek woorde geklank in die koerant, en dan my ma gevra wat dit beteken. “Mamma, wat beteken s-e-k-u-r-i-t-e-i-t?” “Dit beteken veiligheid, my kind.” “Mamma, wat beteken a-p-a-r-t-h-e-i-d?” “Dit is Doktor Verwoerd se slim plan, my kind.” “Mamma, wat beteken s-e-k-s?” “Dit is ‘n baie lelike en gevaarlike ding, my kind! Moet nooit weer dit lees nie!” En as dominee Sondae so heftig en vurig gepreek het tèèn die Sondagkoerant met sy kaal meisies op die agterblad, het ek ‘n punt daarvan gemaak om diè sonde te pleeg, want ek wou ook sien hoe ‘n kaal meisie lyk.Al het dit gepaard gegaan met ‘n geweldige gewetenswroeging en vrees vir my ewige bestemming. Dit sal ‘n kwade dag wees as gedrukte koerante verdwyn. Oor ‘n breë spektrum word lesers opgevoed en ingelig. Oor politiek, nuus, sport, kuns, geskiedenis, noem maar op. Gemeenskapskoerante soos the Bulletin hou hulle vinger direk op die pols van sake. Lees jou gedrukte koerant, en bly ingelig. Sela.- Ds Marius Britz

    So is die lewe