fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Wednesday, September 23, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    “Halleluja, dis Maandag! Kom ons gaan werk toe!”

    ‘n Groot vriend vertel met humor hoe hulle as kinders ‘n huisreël gehad het: in die aande seweuur moes almal aan tafel wees, die kos opgeskep en die radio aan. Dan sê die omroeper: “Dis nou seweuur op Radio Suid Afrika, en hier volg die nuus gelees deur Blomerus Niewoudt.” In daardie paar sekondes voordat die hoofberig gelees word, het sy pa dan vinnig ‘n Nederlandse tafelgebed gebid, wat alreeds uit sý kinderdae kom: “Zegen Heer wat wij eten, laat wij nimmer Uw vergeten. Amen.” En dan volg die nuus, en almal moes in stilte eet en luister. So leer mens maar vele maniertjies aan soos wat jy ouer word. Baie van hulle kom alreeds vanuit jou kinderjare saam. Soos, onder andere, om nuus te luister op die nasionale uitsaaikorporasie se senders. Luister ek toe na die laatnagnuus op RSG, en daarna Jacqui January se program “Werksoek.” En wat veronderstel was om ‘n laataandrustigheid vir my te wees, verander toe in ‘n roerende, selfs ontstellende luisteraarservaring. Want ‘n klomp mense bel in, en hulle is in verskillende stadiums van moedeloosheid en desperaatheid. Agterna oordink ek die oproepe waarin mense hulle soeke na werk bekend maak, en ek besef dat dr. Elizabeth Kübler-Ross se fases van die rouproses duidelik onderskei kan word in die stemtoon van die verskillende inbellers. Daar was diè wat nog in die ontkenningsfase is: om werkloos te wees, is nie só erg nie. Miskien is daar iewers ‘n pensioentjie, of kontantbedraggie wat uitbetaal is, of polissie wat betaal het. Maar dit blyk nou dat dit nie genoeg is nie. “Jacqui, as mense iemand sou soek wat goed is met administrasie, kan hulle my kontak. Ek het dertig jaar ervaring van kantoorwerk, fakture en boekhouding.” Niks dringends nie, maar tog word die moontlikheid ondersoek om ‘n ekstra inkomste te verdien. Die bron van finansies word vinnig leeggetap. En dan, die moedeloses in die depressiefase, diè wat vinnig begin hoop verloor. “Jacqui, ek is dringend op soek na enige werk. Ek kan ou mense versorg, en kook en wasgoed was. Ek soek inslaapwerk enige plek in die land, ek is bereid om onmiddelik te verhuis. Ek is 68 jaar oud, maar nog baie gesond.” My hart bloei vir die dame. Eintlik behoort sy self versorg te word. Maar woon waarskynlik in iemand se buitekamer waar sy in ongerief en honger haar dae deurbring. Al haar SASSA-geld gaan vir huur. Of die gedempte stem, die ma wat êrens vanuit ‘n wegkruiphoekie in die huis, of dalk die tuin bel. “Jacqui, ek soek werk vir my seun, enige plek. Hy is baie goed met sy hande. Hy kan weld en boilermaking doen, en hy is ‘n mechanic ook, hy kan pype en dreins regmaak. Hy kan verf ook. Asseblief, enigiets!” Die ma wat elke dag kyk na haar seun in wie se oë die lig van vreugde dowwer en dowwer skyn. Hoe sy skouers meer en meer hang, en hy stiller en stiller raak. Jy kry ook onwaarskynlike inbellers in hierdie kategorie: “Jacqui, ek is ‘n 58-jarige opgeleide, geregistreerde ingenieur met ‘n meestersgraad in meganiese ingenieurswese. Ek het gespesialiseer in die ontwerp van strukture. Ek is bereid om enigiets te doen!” En dan drie oproepers op een aand, in een program, wat duidelik dit verloor het. Hulle aggressie en woede word op die arme omroepster uitgehaal. Die gesprek begin normaal. “Jacqui, ek is ‘n drywer. Ek het langafstandlorries gedryf. En dan, onverwags, totaal uit die bloute, skel hy die programaanbieder met die vieslikste woorde. “Jou f&@# so-en-so.” Asof hulle omstandighede haar skuld is. Sy hanteer dit met groot waardigheid en professionaliteit, en sny die inbeller onmiddelik af. Dan ook die kansvatters wat werk aanbied. “Almal wat soek na werk, kan my bel. Veral kinders wat spesiale skoolonderrig gekry het. Ek het sweiswerk en so vir hulle. Ek sal hulle help.” Mens wonder onwillekeurig: Watse soort werk is “en so?” En hoeveel is die betaling? Is dit nie dalk maar ‘n moderne vorm van slawerny nie? Dan is daar die onderhandelaars in die rouproses: “Jacqui, ek werk baie hard, en het oral waar ek gewerk het, sukses behaal. Ek kan elke boer se produksie verbeter met my boerderymetodes.” En die inbellers in die aanvaardingsfase, met gelatenheid van diegene wat al aanvaar het dat daar niks is nie, dat hulle maar so sal sukkel tot hulle doodgaan. Nogtans vat hulle maar wèèr ‘n kans, al was daar al vele vrugtelose oproepe op soek na werk. “Ag Jacqui, ek soek nog steeds werk as panelbeater en spraypainter.” Omdat hy al so baie sy storie op die lug vertel het, doen hy dit nie weer nie. “Mense kan my maar bel.” En dan rammel hy sy nommer af. In die manier waarop hy dit doen, hoor jy dat hy geen verwagting het nie.
    En ek verstaan in die middernagtelike ure. As afgetredene wat self al deur al hierdie fases gegaan het, hoor ek die harte van elkeen van hierdie inbellers. Ek kan nog, ek wil nog. En die ergste, al kan en wil ek nie, ek móet nog. En ek besluit terstond: Nooit, maar nooit, gaan ek weer die “like” knoppie op facebook druk van al die plasings van honde wat bene in die lug lê, of deur-die-slaap mense wat kerm: “Dis Maandag, ek moet al weer gaan werk” nie. Ek wens al daardie aand se inbellers kon sê: “Halleluja, dis Maandag! Kom ons gaan werk toe!”- Ds Marius Britz

    So is die lewe