fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, September 24, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?”

    “Beroep?” vra die vrou by die staatshospitaal se toelatingstoonbank my. “Werkloos”, sê ek. “Mediese fonds?” vra sy my. “Nee, geen,” antwoord ek. “Ek kan dit nie bekostig nie.” Maar sy stel nie belang in my treurmare oor my mediese fonds nie. En momenteel tref dit my met dieselfde impak as die atoombomme wat op Hirosjima en Nagasaki geval het. Ek is deel van hierdie skare, hierdie rye mense wat van vroegdag al wag om iewers mediese hulp te kry. Hierdie werklose, mediesefondslose skare. Toe ek hier ingestap het halfsewe vanoggend, was die paradigma van ‘n vergane lewe nog in my kop. Die duurste mediese pakket, voorkeurbehandeling, die nuutste mediese tegnologie. Nou sit ek tussen die hoesende, hygende, kopomlaag skare van hoopvolles. Party in rystoele. Andere met kieries. Sommige sonder tande. Ou mense. Jong mense. Ma’s met babas. En ek hoes en ek hyg saam ter wille van die spangees. Ek oorweeg om ook my te kop te laat hang. Maar die dame langs my laat nie op haar wag nie. “Nou waavoo is djulle hiesa?,” vra sy. En sy kyk na my en die dame aan die ander kant van my. “Nei, ek is mos wie pregnant, ek kom net virrie checkup,” antwoord sy. Nou kyk altwee na my. “En ek het maagpyn,” stel ek my saak eufemisties. Terwyl ons wag dat ons name uitgeroep word om ons hospitaalleêrs te kry, begin ons ons stories met mekaar deel. Waar ons woon, wie ons ouers en grootouers was, watter skole ons bygewoon het, hoeveel kinders ons het, waar mens die grootste specials op snoek kry op die weskus. Nadat ons ons leêrs gekry het so twee uur later, skuif ons na die volgende lokaal toe, waar ons bloeddruk geneem gaan word. En ons gesprek vorder na ‘n volgende vlak. Nou praat ons oor geboortes en ginekologiese probleme. Ek het uiteraard nie empiriese ervaring van geboorte skenk nie, maar ek was darem ‘n toeskouer by my eie kinders se geboortes, en ek bewys myself terstond as ‘n empatiese luisteraar. Ek “oe” en “aaa” en skud my kop op die regte plekke. Ons noem mekaar nou op die naam. Na nog ‘n uur en ‘n half verloop het, skuif ons na die derde lokaal toe. Die een waar ons wag dat die dokter ons roep. Daar is, as ek vinnig tel, so bykans vyftig pasiënte wat wag vir die twee dokters aan diens. Maar ons gesels almal een stryk deur. Ons wys vir mekaar snaakse prentjies op ons selfone. Ons hou nie meer die spreekkamers angstig dop om te sien wanneer ons beurt kom nie. Ons het ons lot volkome aanvaar. En ek, wat van nature ‘n haastige, ongeduldige geaardheid het, verander in hierdie vreedsame, gelate wagter op die dokter. En my twee weerskantige medereisigers op die kronkelpad na mediese behandeling gesels aanmekaar. Ek is nie meer, soos in lokaal een, “meneer” nie. Ook nie soos in lokaal twee, “Marius,” nie. Ek is nou “my lovie” en “skattie”. En Precious in die ry voor my, en Alfonsius in die ry agter my, noem my sommer ook Skattie. En ons ontdek skielik dat ons baie in gemeen het. Ons is almal bekommerd oor ons kinders. Daar is al iets van ons almal gesteel. Ons kla almal oor hoe dúúr hoendervleis geword het, en ons deel ons insig oor die “No Name” produkte van verskillende kettingwinkels. Ons lag vir mekaar se grappe, en ons kry almal trane in die oë as Opportunity Lekalekale, wat van Zimbabwe af kom, tranerig vertel hoe sy na haar kinders verlang. Zee-Animè, wat langs my sit, pluk vinnig ‘n sakdoek en ‘n pepperment uit haar handsak om vir Opportunity te troos. Ek is skielik deel van een groot, hegte familie. Ons almal se bloed is rooi. Ons almal soek pille vir pyn. Ons almal is bang vir die naald as ons bloed getrek word. Ons almal wil maar net leef sonder intriges. Ons deel so baie. Ons wil net gelukkig wees. As ek na vyf uur van my wagbeurt wil-wil mismoedig raak, hou die twee engele weerskante van my my arms in die lug soos Aäron en Hur die arms van Moses. Ek dreig om te loop voordat ek die dokter gesien het. “Nei lovie, hy is somme nou by jou!”, verseker hulle my. Precious voeg daad by die woord en breek die helfte van haar toebroodjie, wat sy vroegdag al gemaak het in haar plakkershut, af, en stop dit in my hand. “Eat this, it will make you strong,” beveel sy my. Heerlike bruin brood met Shoprite-konfyt. In die weermag sou ek gesê het dis wa-ghries. Nou is dit ‘n tasbare stukkie deernis, ‘n sakrament van ware omgee diep uit die hart van iemand wat self nie veel meer as dit het om die hele dag te eet nie. Ek sluk die brood verby die knop in my keel.
    Toe ons een-een ingeroep word spreekkamer toe, groet ons mekaar soos oú vriende. Ons stuur groete vir mekaar se eggenotes, verloofdes, ouers, kinders en kleinkinders. Ons spreek die seën oor mekaar uit, en ons belowe dat ons vir mekaar sal bid. Juis toe het ek gedink aan Bartimeus, die blinde man, wat gehoor het dat Jesus in die skare by hom verbygaan. Jesus het hom gevra: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” “Dat ek kan sien,” het Bartimeus geantwoord. En hy kon sien. En ek, ek het geleer om te sien in die staatshospitaal. – Ds Marius Britz

    So is die lewe