fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, September 26, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    In hierdie landjie van ons is daar net drie goed waaroor die inwoners nie saamstem nie: die verlede, die hede en die toekoms.

    In hierdie landjie van ons is daar net drie goed waaroor die inwoners nie saamstem nie: die verlede, die hede en die toekoms. Maar verder is daar hordes dinge wat ons saambind as ’n reënboog. Soos ons passie vir eet by belangrike geleenthede. Ons eet lekker uit by plekke soos die Apachèrestourant (waar ons ook lekker baklei) en die Oseaan se Mandjie. Ons braai maklik vir enige rede. Van hoenderpote tot beeshaas. En sonder enige rede. Ons eet net so lekker by spesiale geleenthede. Ons eet as ons verjaar, as ons trou, as ons doodgaan. Ons eet. Sommige begrafnisondernemers sluit selfs dinge soos pap en potjiekos in as deel van die diens wat hulle lewer tydens teraardebestellings. En kerke se susters hang uit op begrafnisse met frikkadeletjies, eiertoebroodjies, hoenderboudjies en melktertjies. Ons eet ons dan uit ons hartseer uit. Dis deel van ons Suid Afrikaanse kultuur. Ons is dol oor eet. As jy op Facebook kyk, sien jy hoeveel mense foto’s van hulle kos plaas. Soos die prentjie van die kelner wat vir die restouranteienaar sê: “ Ek is bekommerd dat daardie mense in die hoek nie hulle kos geniet nie. Hulle het dit al tien minute terug gekry, en nog nie dit afgeneem nie!”
    Soos met begrafnisse, is dit opvallend hoeveel aktiwiteite in kerke draai rondom eet. Basaarpannekoek, basaarkerrie-en-rys. En dan die vleistafel. In een van die gemeentes waar ek was, het die jaarlikse vleistafel ontwikkel tot ‘n hoogs gespesialiseerde industrie, met selfs hulle eie gestileerde etikette. ‘n Klein groepie lidmate het een jaar byna 74 skape, 16 beeste, 30 wildsbokke opgesny, verwerk, en verpak. Maar ook pinksterdienste, gemeentevierings, en selfs nagmaal word ‘n geleentheid waar ons groot gaan met kos. As ons kollektiewe gewete bietjie pla, gooi ons so Christelike sousie oor die ete, en noem dit ‘n “Bybelse ete.” Dan dra die mans japonne en handdoeke om hulle koppe, die vrouens gedrapeerde lakens om hulle lywe, en die kindertjies lyk soos skaapwagters. En ons eet. Daar is baie ervaringe wat ek so langs die pad beleef het met so kerklike etery. Soos die wyksbyeenkomstes in ‘n spesifieke gemeente, waar ons gelees het, gebid het, en dan geëet het. En ek as Oos-Randse dorpsjapie kry toe ‘n ingeskepte bord kos met ‘n heel gebakte skaapkop wat met dowwe, hartseer oë vir my lê en kyk, en vele ander gretige oë wat my met afwagting dophou om te sien met presies hoeveel entoesiasme ek hierdie spesiale bederfie gaan aanpak. Die sèèr in daardie skaapoë sal my vir ewig sleg laat slaap.
    Pas aangekom in ‘n nuwe gemeente, hou ons pinkster. En ons eet na die diens in die kerksaal waar ‘n wyk elke aand kans kry om kos te maak. Die eerste aand, my gunsteling: kerrie en rys. En synde ‘n passievolle en voorbeeldige leraar te wees, eet ek drie borde vol. Maar die ongeluk tref my toe die leierouderling my eenkant toe roep, en vriendelik inlig dat een van die steunpilare in die gemeente, oom Jan, daardie aand verjaar, en dit gaaf sal wees as ek net ‘n draaitjie op die plaas gaan gooi. Persoonlike aandag en al daardie dinge. Knuppeldik gevreet aan die kerrie en rys, en vol winde, durf ek toe dieselfde aand die pad aan na oom Jan se plaas toe. Waar ‘n ontsagwekkende toneel my begroet. Skape op die spit, meer biefstukke as wat ek kan tel, jaartse en jaartse plaaswors, meer hoenders as wat die Kolonel nog ooit gaargemaak het, alles om die verjaarsdagfeesvieringe dieptegang te gee. Daarmee saam groentes, pap, aartappels, ad-infinitum. Ek skraap my moed bymekaar, en bedank beleef en ingetoë die uitnodiging om saam te eet, om voor-die-hand-liggende redes. Maar ek sal saam kom sit aan tafel, dankie. Sommer daar langs oom Jan word die nuwe predikant sitgemaak. Iemand doen die tafelgebed. Lang, innige gebed waarin die Vader gedank word vir al die seëninge, en die mooi voorbeeld wat oom Jan is. Maar, toe die bidder sê amen, het daar sowaar ‘n groot bord kos onder gebed voor my beland. Ek meen tot vandag toe dit was oom Jan se handewerk, maar ek is nie seker nie. Ek begin toe maar so stukkie vir stukkie die massiewe bord kos af te werk, happie vir happie. Soos mens ‘n olifant eet. Met pastorale bewoëndheid en ‘n blymoedige gees. En ek was net so mooi halfpad, met ‘n belt wat styf span van die oordaad, toe die oom sê: “Man, lyk my jy het nie genoeg kos nie!” En voila! Daar skep hy summier vir my ‘n volgende lading op my bord, tweekeer meer as die eerste rondte. Ek vermoed vandag dat my spastiese dikderm nie geneties van oorsprong is nie, maar wel ‘n beroepsbesering opgedoen in die uitvoer van my ampspligte.
    Miskien moet ons as kerke, van alle genootskappe, hierdie eet-ding ons gemene deler maak. Ons plesier, maar ook ons verpligting teenoor die hongeres, die verstotes, die bevreesdes, die hooploses. Moet ons as kerkgemeenskappe bymekaarkom, en ons hoenderpote en ons boerewors op dieselfde kole braai. Saam praat oor ons kinders en ons vrese en ons land en ons toekoms. Saam bid, niè net om die hande te seën wat die voedsel voorberei het nie, maar ook vir ons leiers, die besluite wat geneem moet word. En die straatmense nooi om saam te kom eet, hulle by die robotte en asblikke gaan haal. Miskien moet die kerk, om PG du Plessis aan te haal, die Fees van die Ongenooides word.           Ds Marius Britz

    So is die lewe