fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, September 19, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die lewe

    Ek het gepraat, maar ek kon nie ‘n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”

    Die eerste plaashek, diè een teen die pad, kon maar baie verder gewees het, dink ek, toe ek in die warm karoo ry op die slegte grondpad. Ek sou nie omgee om net te ry en te ry en te ry nie, tot doèr anderkant die horison waar die lewensvrae dalk anders lyk, en die antwoorde dalk baie makliker was. Maar die relatiewe vêr afstand van die pastorie en laerskool op die dorp af tot by die bordjie “Biesiesvlei” het verbygevlieg. Ek klim sleepvoet uit die bakkie om die plaashek oop te maak, met trae bewegings. Hittegolwe draal voor my soos surrealistiese, verwronge silhouette van sigeunermeisies wat suggestiewe bewegings dans op onhoorbare musiek. Vroegoggend al sweet ek, maar dis nie net van die ondraaglike hitte nie. Gelukkig, weet ek, as tipe van ‘n troos, is daar sowat vyf of ses hekke van die binnekampe wat oop en toe gemaak moet word voordat ons by die opstal kom. Daarmee sou ek ‘n bietjie tyd kon koop, sou ek die duisende malende woorde in my kop kon filtreer, kon beitel en hamer totdat ek hopelik min of meer iets uitgewurg kon kry. Iets oor die sin van die lewe. Iets oor die dood. Iets oor die wil van God.
    Vroegoggend, toe dit nog donkernag was, het die polisie laat weet dat daar ‘n grusame ongeluk was. ‘n Pragtige, talentvolle jong man uit ons gemeente het in die nag ‘n pap wiel gekry, en het half op die teervlak van die grootpad deur die karoo gesukkel om die wiel te vervang. Die bus wat van agteraf aangery gekom het, het hom nie daar sien sit in die stikdonkerte langs die motor nie, en die gevolge was te verskriklik om te beskryf. Oudste en enigste seun, pas gegradueer, en familiegrond wat reeds geslagte lê en wag vir hom om te kom boer. Menslik gesproke was daar geen logika in die hele situasie nie. Soos ek die een kamphek na die ander toemaak op pad na die opstal, het ek gewèèt: nie een van die boeke op my rakke, of èèn pastorale model, of èèn deeglik ge-eksegetiseerde preek, kon my ooit voorberei hiervoor nie. Langs my, in die bakkie, het sy sussie onseker gesit en wonder wat aangaan. Die hoofmeisie by die dorpskool. Ek het haar by die koshuis opgelaai, en gesê sy moet saamry plaas toe, ek wil iets vir hulle vertel. Tussendeur my Getsemanè-worsteling het die pragtige, slim kind, my deurentyd grootoog aangekyk en wonder wat aangaan. Toe ons uiteindelik by die opstal stop, het die realiteit van die hele situasie my getref. Opregte, sout-van die-aarde mense wat volkome uit die hand van God en die natuur leef, náby aan die Here, die ouderling wat gereeld preekdienste waarneem as die dominee met verlof is, en dit baie beter as die dominee doen, omdat hy uit die Skrif en by die Universiteit van die Lewe gestudeer het. Plaasmense wat daardie môre vroegoggend opgestaan het om ontbyt te eet, die skaap en bees te versorg, die krippe en waterpype te inspekteer, en al die roetinetake van ‘n gewone werksdag af te handel, is eensklaps gekonfronteer met die Onnoembare, die Ondenkbare. Die plaasbakkie staan gereed, reeds gelaai met tange en draad om moontlike lekkasies in die waternetwerk te herstel, met kafbale. Eenkant staan die trekkers in die stoor, tussen die gewone plaasdinge: soutlek, hekke, bale draad, dieseltenk, onderdele. Kentekens van ‘n gewone dag, gewone take. Totaal onvoorbereid op hierdie ingrype in ‘n normale lewe.
    Die ouers staan verwese op die stoep as ek uitklim. Hulle het reeds gehoor. Genadiglik. Hulle oë is verward, hulle lyftaal skreeu uit: “Sê asseblief vir ons dis nie waar nie, dis die verkeerde seun, die verkeerde naam, die verkeerde adres….” Mens sou kon sê: Die verkeerde lewe. Maar een kyk, net èèn kyk na my gesig, bevestig die verskriklike waarheid. Ek kry dit nie reg om die woorde “more” en “jammer” te sê nie. Ons staan woordeloos mekaar en vashou in die tuin. Sussie vra net: “wat is dit?” En sy kry die antwoord abrupt: “Ouboet. Laasnag. Ongeluk.” Vir lank staan ons mekaar en omhels. Woordeloos. Die karoo dawer om ons soos uitroeptekens van stilte. Ons koppe teen mekaar.
    Later sit ons stom op die bank in die sitkamer, styf teen mekaar. Mense van oral af stroom in, soos dit op die platteland gaan, met bakke toebroodjies en sop en skaapboud en tert en blomme en kaartjies. Tee en koffie word iewers gemaak en vir almal aangedra. Spesiale mense, bure, gemeentelede. Maar op daardie oomblik vir die ouers en susters slegs bewegende, fluisterende figure. En dan kom die vraag waarvoor ek so bang was: “Hoekom? Waarom ons seun? Hoekom doen die Here dit aan ons?”
    Die mikroskyf in my brein skandeer duisende moontlike antwoorde, voel-voel aan die een, los dan, en oorweeg ‘n ander. Uiteindelik kon ek slegs prewel. “Ek weet nie.” Uiteindelik lees ons uit Job 39:38: “Ek het gepraat, maar ek kon nie ‘n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”
    In die hoek van die sitkamer is ‘n groot staanhorlosie. Seun het dit in matriek gemaak, vertel sy pa met trane. Hy slaan elke kwartier ‘n deuntjie wat uitbrei, met ‘n volledige wysie vol op die uur. Sy ouers kyk trots en hartseer na die horlosie. En dan, onverwags, uit sy plek en tyd uit, soos die dood, slaan die uurwerk om 16:53 net een slag. “Dong!!!” Totaal ongehoord. Dit het nog nooit gebeur nie. En daar sak skielik ‘n groot stuk vrede toe. Asof seun wil sê: “Hier waar ek nou is, is daar geen storms of droogtes nie. Dis lekker hier.” – Ds Marius Britz

    So is die lewe