Nadine Kemp het begin koeke bak en verkoop ná sy ’n beroerte-aanval in 2006 gehad het en nie meer die werk kon doen wat sy voorheen gedoen het nie.

Nadine Kemp (36) het wonderbaarlik herstel ná ’n beroerte, selfs al het medici gesê sy sou dit nie maak nie.
Sy was in 2004 in ’n motorongeluk en het aanvanklik gedink sy het net ’n paar skrape en blou kolle opgedoen.
Dokters het egter bevestig die beroerte wat sy twee jaar later in 2006 gekry het, was weens ’n bloedklont wat gevorm het ná die ongeluk.
Sy en haar ma, Theresa Kemp, glo die Here se hand was oor haar selfs in die hospitaal ná sy op dieselfde dag waarop sy die beroerte gekry het, weer huis toe gestuur is.
“Sy het die volgende middag na werk in ’n koma verval en ons het die ambulans geskakel wat binne vyf minute daar was en haar hospitaal toe geneem het,” het Theresa gesê.
“Nadine was dood in ons woonstel vóór die ambulans opgedaag het.
“Sy het geen polsslag gehad nie.”
“Die Here het my laat lewe,” het Nadine gesê.
Die beste dokters was oor Nadine en sy het al haar medikasie en behandeling gratis ontvang by Steve Biko Hospitaal omdat dit beroerte-bewusmakingsmaand was.
Daar was pamflette met inligting oor beroertes en dit het haar ma baie gehelp om haar kennis op te skerp in die tyd wat sy dit nodig gehad het.
Nadine moes ná die beroerte weer van voor af leer eet, loop en praat.
Omdat dit beroerte-bewusmakingsmaand was, het sy spraakterapie en arbeidsterapie ook gratis gekry.
“Nadine is ’n absolute wonderwerk,” het Theresa gesê.
“Dokters het ook agterna gesê sy sou nooit kon kinders kry nie, maar sy het vier jaar na die beroerte-aanval ’n dogtertjie gekry.”
Weens die beroerte kon Nadine nie meer die werk doen wat sy voorheen gedoen het nie en sy het van voor af leer hekel, maar dié keer met haar linker hand.
Sy hekel van bedsokkies tot kopbande en ander itmes wat sy verkoop.
Sy bak ook koeke en kolwyntjies vir ’n lewe.
Besoek haar Facebook-blad, Sugar Smiles, vir meer inligting.
Nadine het as kind by haar ouma geleer hoe om te hekel, maar met haar regter hand.
Sy moes ook weer die dae van die week, maande en baie ander dinge van voor af leer.
Haar ma het haar baie gehelp en drie maande afgeneem by die werk terwyl haar ouma haar weer leer tel het en haar geskool het.
“Ek het die wêreld se respek en dankbaarheid vir my ma,” het Nadine gesê.