Boks vir ‘n boervrou ‘n reuse sukses

Suid Afrika het begin regop sit en kennis geneem van die ongelooflike moeilike omstandigehede wat die boere in die droogte geteisterde gebiede moes deurmaak.

0
730

‘n Boks vir ‘n Boervrou! Die projek wat sommige mense vol liefde en meegevoel gelaat het. Dit is nie ‘n gewone projek nie. Dit vergelyk nie met projekte soos die vloede in Mozambiek of die verwoestende brande in Knysna nie. Nee, glad nie. Boks vir ‘n Boervrou is ‘n projek waar mense aan mede Suid Afrikaners gewys het: “Ons voel saam met julle.”
Die land is oorval met fotos en videos van die knellende droogte in die Karoo en aangrensende gedeeltes. Daar was videos van skape wat net gelê het en wag op die dood. Daar was videos van gedroogte beendere in die veld, videos van vee wat te swak is om te eet. Fotos van die ongelooflike droogte wat die barre droë veld uitbeeld het die rondte gedoen.
Suid Afrika het begin regop sit en kennis geneem van die ongelooflike moeilike omstandigehede wat die boere in die droogte geteisterde gebiede moes deurmaak.
Groot sterk boere wat in trane inmekaar stort omdat hulle nie meer die diere kan help nie.
Een of twee boere het totaal geknak en ‘n einde aan alles gemaak. Hulle los gebroke families agter.
Maar deur dit alles is daar sterk Boervroue wat deur alles nog staande bly. Die kinders moet nog steeds skool toe, aktiwiteite moet bygewoon word en huiswerk moet gedoen word. Dan moet daar omgesien word na die swak vee.
Haar man ondersteun as hy gebroke op sy kneë om hulp vra.
‘n Paar mense het dit raakgesien en besluit om vir die boervroue te sê: “Hier is ‘n klein ietsie om net te sê ons dink aan jou.” ‘n Klein bederfie om iets van vrouwees terug te gee.
Secunda se mense het saamgestaan en bokse aangery. Dit het gegons oor wat om in te sit. Wat van ‘n handeroompie of eerder waterlose sjampoe of selfs net ‘n lekker leesdingetjie. Sodat die een wat dit ontvang dalk net eenkant kan gaan sit en so bietjie tyd aan haarself kan spandeer. Al is dit net vir ‘n kort rukkie weer vrouwees met die wete dat ander dink aan haar.
Die Bulletin het ongeveer 470 bokse aangery Ermelo toe en dit daar afgegee. Roos en Rosslee het goedgunstelik ‘n 8 ton trok beskikbaar gemaak wat die bokse vervoer het. Dit het ongeveer 30 minute geneem om die bokse op te laai met ‘n span mense! Dit is voorwaar ‘n grootste poging. Baie dankie aan elkeen wat deelgeneem het aan hierdie projek.
Sonder elkeen se bydrae, hoe klein en hoe groot, sou dit nie moontlik gewees het nie!

  • Encee van Huyssteen

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here