So is die lewe

0
236
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Oor die luidsprekers van die Pizza-Hut in Brooklyn, Pretoria, het Scott Mackenzie se San Francisco gespeel. “If you’re going to San Francisco/be sure to wear some flowers in your hair/…/you’re gonna meet some gentle people there.” Twee mans het in die hoek by ‘n tafeltjie gesit, druk in gesprek. Hulle was toevallig op dieselfde dag in hulle ou studentestad, en het uitgesien om saam te kuier. Daar was ‘n vertroudheid van ‘n jarelange vriendskap in hulle lyftaal. Twee mans wat baie ervarings gedeel het oor lewe, oor dood. Wat baie kere tydens hulle studiejare laatnag gefilosofeer het en diep gesprekke gevoer het. Die lang, blonde man, Cobus, se aandag was daardie dag nie regtig by die onthou-jy-nog’s en die gesprekke oor die nuutste teologiese publikasies nie. Hy het lusteloos aan die pizza gekou, en meteens die bord weggestoot. Sy tafelgenoot het dit vreemd gevind, want hy was ‘n Ysterman-van-die Jaar-deelnemer, en ‘n veteraan Comrades-atleet. Hy het altyd ‘n gesonde eetlus gehad. Op hulle vele wildtuinvakansies saam met hulle vrouens en vriende was die blonde man diè een wat maklik drie of vier buffelpasteie met sous verorber het op een slag. Die vele aande wat hulle en hul vriende potjiekos gemaak het, of gebraai het, was die blonde man sonder uitsondering ‘n tweede, selfs derde keer by die vuur om nog te skep. Met sy gedissipineerde daaglikse oefenprogram was sy lyf altyd lenig en gespierd.
Eintlik was daar nie veel dinge tussen hulle wat ongesê was nie. Hulle het mekaar se lief en leed geken, baie oomblikke van vreugde en seer gedeel deur die jare. Hulle kon altwee Coenie de Villiers se lirieke uit hulle koppe opsê, was altwee fanaties oor Koos Doep. Hulle het Opperman en Ingrid Jonker se verse gedeel. Sy gunsteling was Toemaar die donker man. Hy het Bybeltekse uit Jesaja woordeliks aangehaal met ‘n brandende passie. Tekste oor lyding en belofte van bevryding. Hulle het oor dieselfde dinge gelag, driftig geraak oor dieselfde flaters in die politiek en sport. Die blonde man se insig in die teologie was indrukwekkend. Sy prediking op die man af, en lewensveranderend. Die gemeente waar hy predikant was, het met groot lof van hom gepraat.
Hy het geluister na die musiek oor die luidsprekers van die Pizza Hut, sy vinger in die lug gesteek, en gesê: “Hoor daar. Ons moet blomme in ons hare dra, my vriend.” Na ‘n paar oomblikke stilte, het die blonde man gesê: “Ek moet met jou praat oor iets. Iets wat groter as ek geword het. ‘n Draak wat ek nie meer kan baklei nie.” Sy oë het vogtig en troebel geword. “Jy is die enigste mens met wie ek dit kan deel.” Hy het stil by die restourant se venster uitgekyk, asof die druk verkeer in Beatrixstraat die regte woorde sou bring. Sy tafelgenoot het skelm na sy horlosie geloer. Daar was ‘n belangrike afspraak nog vir daardie middag geskeduleer, en hy sou moes gou maak om betyds te wees. “Ek sê jou wat,” het hy gesê, “ek bel jou later, dan praat ons deeglik daaroor. Ek moet ongelukkig nou gaan, anders is ek laat vir my afspraak.” Tafelgenoot se besige program het egter veroorsaak dat daardie oproep nooit gemaak is nie.
Dit is waaraan Tafelgenoot dink toe hy die Volksblad so ‘n tyd daarna oopslaan. Een-vir-een slaan die geweldige golwe van onthou en hartseer en skuldgevoelens deur hom as hy die berig lees:
VS-leraar by grafte dood gekry
BOTHAVILLE. – ’n Geliefde predikant, wat met sy drafskoene aan ’n bekende gesig in dié dorp was, is Saterdagmiddag op sy knieë langs sy motor in die dorp se begraafplaas gekry.
Die gemeenskap is geskok oor die skielike dood van ds. Cobus (47). Ds. Cobus en sy vrou het ’n paar jaar gelede die Bothaville.com-gemeente op die dorp op die been gebring. Hy het destyds opgewonde aan Volksblad vertel hoe dié kerk die ou Hotel gekoop het en in ’n kerk omskep het. By die ingang na die kerk is die woorde: Hierdie is nie ’n museum vir heiliges nie, maar ’n hospitaal vir sondiges.
Ds. Cobus se vrou sê sy het Saterdag ’n SMS-boodskap van haar man gekry. “Hy het gesê daar is ’n brief vir my op sy lessenaar in die kerk. Ek is soontoe en toe ek die brief kry, het ek besef iets is fout. Ek het dadelik na hom begin soek en die Heilige Gees het vir my gesê hy is in die begraafplaas.” Met haar aankoms daar, was die polisie reeds op die toneel. Hy het sy lewe klaarblyklik met ’n .22-geweer geneem.
Sy sê almal wat haar man geken het, het geweet hoe lief hy vir hardloop was. “Sonskyn, sneeu of reën, jy sou hom op die pad kry. Soms was die marathons sonder probleme en dan het hy dit lag-lag voltooi, maar ander kere was die pad net te lank en het hy siek geword soos ná die laaste Comrades.”
Sy hou vas aan Hebreërs 12:1 wat oor die wedloop van die lewe gaan. Sy sê Cobus het met die laaste wedloop van die lewe gekies om liewers huis toe te gaan. “Vir hom is die marathon nou verby en daar is plek vir hom in die Vader se huis. Dankie aan elkeen wat die wedloop vir Cobus makliker gemaak het en vir dié wat hom in die goeie en slegte tye aangemoedig het.”
Sy sê die gemeente gaan voort soos altyd. ’n Nuwe predikant sal binnekort by hulle aansluit. Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

  • Volksblad – (Effens aangepas)
    Die wedloop van die lewe was te lank vir hom, het Tafelgenoot geweet. Be sure to wear flowers in your hair, o Gentle One, het hy gedink. Jammer, my ou vriend. Vir my stilte. Sien jou in San Francisco, eendag.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here