Liewe Moeders van die Balkie Kinders…

Ek bid dat die Here my sal help om fokus te hou in hierdie samelewing van druk en jaag en wen.

0
417

O ek ken hierdie storie. Dis ʼn Afrikaanse skool ding dink ek… As daai redenaars temas die internet tref in November dan begin dit… die malle gejaag van die jaar wat voorlê. En laas jaar en die jaar voor hom was net so mal maar ons doen dit weer en weer.
Dis toetse, take, kunswedstryd (dit val toe oor die lang naweek) redenaars en span redenaars kompetisies in hul hordes (met volgende rondtes en rondtes en rondtes) revue oefen, revue kompetisies (oooo dis so mooi en lekker) revue bokse decorate (dis ʼn ding!) en natuurlik bo op dit die huiswerk en die Zuma boeke…(die Zuma boeke is eintlik die cherry op die koek waar alles uitrafel – dis die departement se werksboeke vir die wat nie weet nie) en sokker oefeninge, sokker wedstryde op Saterdae oggende vroeg, gimnastiek, klavier lesse, kitaar lesse, tennis lesse, drama lesse, ekstra Wiskunde klasse en toe die landloop briefie kom toe skeur ek hom op en maak of hy nie gekom het nie.
ʼn Wyse man sê vir my: “Die grootste geskenk wat ouers vir hul kinders kan gee, is tyd om te speel. Kinders moet speel anders word hulle kinderagtige volwassenes”.
En dit tref my so hard!!! Want my kinders het so min tyd vir speel of ontspan…
Ek dink hieroor en besef… ek weet van ouers wat droom daarvan dat hul kinders net hul eie tande kan borsel of om net te leer lees en ons jaag na… wat? Wat presies weet ek nie eintlik nie? Is dit balkies op ʼn baadjie? Top 10 want hulle het die potensiaal? Is dit die lekker van almal wat gaan weet jou kind is goed met iets? Is dit vir hulle selfvertroue? Is dit want dit gaan hulle toekoms brighter maak? “Gesonde kompetisie” is wat baie mammas dit doop… Ek weet self nie??
Maar my hart is dankbaar. So, so dankbaar. Vir kinders wat presteer en wil hard probeer en oefen en deurdruk en deelneem, maar my hart is ook gewaarsku deur die Heilige Gees…. “Onthou wat vir My belangrik is”. Die trofees en balkies bly agter saam met die huise en karre.
Ek bid dat die Here my sal help om fokus te hou in hierdie samelewing van druk en jaag en wen. Dat Hy my sal help om ʼn balans te hou. Ja, help en motiveer my kinders om te presteer en celebrate die balkies en wenner en prestasies saam met hulle maar maak bitter, dood seker om hulle te leer dat dit nie is waaroor alles gaan nie en dat ons trots en liefde vir hulle nie deur prestasies gemeet en bepaal word nie.
Dat die Here gee nie balkies nie maar Hy celebrate liefde, blydskap, vrede, geduld, goedhartigheid, goedheid, getrouheid, sagtheid en self beheersing…. Hy hou van omgee en uitkyk vir die nood om ons. Hy hou van eet saam as ʼn gesin en tyd maak vir mekaar en vir bid en vir saam lees en saam wees…
Maar ek moet hardloop… vandag is ATKV span redenaars.
Hou kop my mede moeders. Kom ons hou kop en kom ons hou ons oë op die Here. – Tania Greyling Meyer

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here