Voortgesette vooruitgang by Laerskool Secunda

Verskeie projekte is aangepak sodat die infrastruktuur en geboue tot voordeel van ons wenners en ouers opgegradeer kon word.

0
1356

Tydens die afgelope halfjaar se skoolvakansie het die personeel en leerders van Laerskool Secunda ʼn welkome ruskans gehad. Waar daar normaalweg ʼn rustigheid op die perseel gedurende die vakansie heers, was dit nie hierdie jaar die geval nie. Verskeie projekte is aangepak sodat die infrastruktuur en geboue tot voordeel van ons wenners en ouers opgegradeer kon word. Laerskool Secunda streef om op ʼn konstante basis te investeer in die infrastruktuur om sodoende al die huidige en toekomstige wenners die maksimum geleentheid te bied om in ʼn veilige, professionele milieu hul volle potensiaal te bereik. Projekte wat plaasgevind het sluit in:
Kleedkamers – Hierdie integrale deel van die geboue word almal opgegradeer, kompleet met nuwe teëls, nuwe sanitêreware, granietwasbakke ens. Daar is begin met die eerste twee kleedkamers wat sal dien as die prototipe vir die oorblywende 12 kleedkamers.
Krieketnette – Al vier ou krieketnette is opgegrawe en die betonblaaie, matte, nette en struktuurpale is vervang. Hierdie nuwe krieketnette is voorwaar eersteklas en op ʼn baie hoë standaard.
Parkering voor skool (langs kerk) – Daar is netjiese plaveisel gelê by die op- en afritte van die parkering, randstene is geinstalleer en gruis is gegooi op die fisiese area waar ouers in die oggend en middag parkeer.
Graad R speelgrond – Die Graad R – kleuters by Laerskool Secunda het ʼn interaktiewe speelterrein waar hulle na hartelus kan baljaar tydens buitespel. Hierdie terrein is beplan met die departementele kurikkulum in gedagte om klasonderrig ook na buite te versterk deurdat die kleuters speel – speel nie net motories gestimuleer word nie, maar ook kognitief en sensories. Die uitleg en oprigting van die apparaat, is moontlik gemaak deur ouers, personeel en getroue borge, vir wie kinders se groei en ontwikkeling saak maak.
Daar is ʼn groot grasoppervlakte waarop heerlik gelê, gerol en bal geskop kan word. Die sandput is onderdak, sodat daar ook op baie warm dae gegrou en gebou kan word. Sensoriese ontwikkeling word uitgelok en ontwikkel en vermeerder deur die sensoriese musiekmuur en watertafels. Die feëtjietuin en kombuisie ontlok ʼn ongegrensde fantasie – wêreld. Die klimtoue, swaaie, balanseerbalke, klim – en – klouterapparaat en glyplanke bied voldoende uitdagings vir enige 5 tot 6 – jarige. Dit is voorwaar ʼn speelarea eie in sy soort in Secunda en waar geen besige kleuter ooit verveeld kan wees nie!
Laerskool Secunda is ʼn skool met Christelike waardes, kwaliteit onderrig en passievolle personeel wat daarna streef om die toekoms van môre optimaal te ontwikkel en toe te rus. Ons leer die nodige wennereienskappe vir leerlinge aan wat van hulle suksesvolle individue sal maak. Ons nooi alle wenners en hul ouers hartlik uit na ons Kaptein Kampioen Opedag wat plaasvind op die volgende dae:
Gr RRR, RR en R: Dinsdag, 16 Julie 2019 (09:00 – 11:00)
Gr 1: Woensdag, 17 Julie 2019 (09:00 – 11:00)
Vir enige navrae stuur asseblief ʼn e-pos na skakel@secundalaer.co.za of skakel 017 634 7612.

ELKE KIND IS Ñ WENNER. #WENNER

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here