So is die lewe

Daar is baie waarheid in hierdie stelling.

0
256
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Dylan Thomas, die bekende digter, skryf op sy sterfbed hierdie onvergeetlike woorde: “And you, my father, there on the sad height, / curse, bless me now with your fierce tears, I pray / Do not go gentle into that good night. / Rage, rage against the dying of the light..” So ervaar hy die uiterste van menslike situasies, daardie oomblik van afskeid van lewe neem waaroor nÓg jy, nÓg jou familie of mediese personeel beheer het. Okke Jager skryf “de dood is een huisgenoot, maar ook een inbreker.” Daar is baie waarheid in hierdie stelling. Oor meer as dertig jaar het ek gesien hoe terminaal siek mense, wat lank versorg is en baie siek is, se heengaan nogtans ‘n groot skok is, dikwels net so groot skok soos oor die persoon wat op ’n Maandagoggend blakend gesond opstaan, en dan iewers in ‘n noodlottige ongeluk sterf.
Die meeste mense het al sulke skokke beleef in hulle gesinne, vriendekring of werksomgewing. ‘n Gemeente en gemeenskap word geskok wanneer dit gebeur. Die grens van menslike ervarings word beproef: seer, opstand, skok, verslaendheid en hartseer word intens beleef. Mens wonder of daar enige manier is om die skerpheid van die gebeure bietjie sagter te maak. Die hele proses van begrafnis hou is wel sinvol in die troosproses, alhoewel minder en minder mense deesdae begrawe word, en verassings meestal plaasvind, as gevolg die veiligheidkwessies en swak instandhouding van baie begraafplase onder andere. Begrafnisse is opsigself gebeure waar geliefdes dikwels poog om sin te maak, om weer ‘n greep te kry op realiteit, en om die pad vorentoe aan te durf. Een van die begrafnisse wat in my geheue vaskleef, het ek gelei in Humansdorp in die Oos-Kaap. ‘n Lid van die kommandement waar ek kapelaan was, is ter ruste gelê op ‘n reënerige Saterdag. By die huisdiens was die viervertrekhuis stampvol huilende mense, en ek het vasgedruk teen die oop kis gestaan. Van daar af het die stoet te voet beweeg na die begraafplaas, terwyl die stortreën van voor af in vlae oor ons gespoel het. Die rooigrond om die graf was pure modder, en ons moes keer om nie te gly nie. Te midde van rou snikke het die oorledene se verloofde in die graf gespring. Was dit troosvol? Ek meen nie so nie.
Ek het die afgelope week gekyk na huldeblyke van twee oud-lidmate uit twee van die gemeentes waar ek predikant was, wat oorlede is. Beide van hulle was gerespekteerde, gelowige mense wat die lewens van ‘n klomp ander aangeraak het deur hulle persoonlike lewe, asook die loopbane wat hulle beoefen het. Die Powerpointaanbieding wat tydens een begrafnisdiens gespeel is, wys die siklus van lewe, soos die Ou Testament dit beskryf. ‘n Swart en wit foto van ‘n baba, ‘n jong seun met ‘n skoolkleurbaadjie aan wat later ‘n groot man word en poseer met ‘n militêre uniform, wat trou en kinders kry, en met kleinkinders speel. ‘n Lewe, afgerond. Die huldeblyk is gevul met eerbied, heimwee, selfs humor. Dit word ‘n sluitstuk van ‘n lewe, ‘n afrondingsmoment waarin dankie gesê word, onthou word, en bietjie gehuil word. Dit het my eensklaps weer laat nadink oor die sinvolheid van konvensionele begrafnisse. Op kweekskool is daar dikwels aan ons gesê dat jy nie vir die oorledene preek nie, maar vir die diegene wat agterbly. Ek het dit aanvanklik net so gedoen. Maar, is dit waar? Is al die mense in die kerk werklik ‘n onbereikte sendingveld wat eenmalig met die volle swaartekrag van die evangelie gegooi moet word, voordat hulle almal in die plek van vlamme beland? Is dit werklikwaar nodig dat troos vervang moet word met grafiese beskrywings van wat die gevolge van sonde kan wees? En die ander kant van die munt is ook: kan jy iemand in die hemel inpreek? ‘n Persoon wat ‘n onverskillige, ongelowige lewe gelei het? Wat nooit bekend was vir ‘n toegewyde lewe nie?
‘n Nuwe gedagte het hieroor begin groei in my denke. Ek, en jy, is die skrywers van ons eie begrafnispreke. Ons bepaal self die tema van ons roudiens deur ons optrede teenoor elke mens met wie ons te doen kry: ons gesinslede, ons familie en vriende, ons kollegas, die vrou by SPAR agter die kasregister, die pompjoggie by die vulstasie. Ons impak op hulle bepaal hoe ons onthou gaan word. Ons lewens wys vir hulle hoe Jesus en die ewige lewe lyk. En dit strek wyer as ‘n duisend begrafnispreke. As ons interaksie met mense het, doen dit met die uitgangspunt: wat gaan jy van my sê as ek nie meer daar is nie? Hoe gaan jy my onthou?
Ek speel nou met die idee: as my laaste klok lui, moet daar geen diens wees nie. Geen preek nie. Geen bombardement van tekste oor die hemel of hel nie. Ek hoef nie die kerk ingedra te word in my houtpak deur ses somber draers nie. Daar hoef nie ‘n groot foto van my te wees toe ek dertig jaar oud was nie. Die ondernemer moet sy werk doen, en ongesiens afhandel. Ek weet waar ek vandaan kom, en ek weet waarheen ek gaan, soos Mathinus von Biberack geskryf het. Maar my reisgenote deur die lewe, my vriende oor dekades, kennisse, mense wat ek aangeraak het, waar ook al, hulle moet mekaar kontak en afspreek om bymekaar te kom. Hulle almal weet van lewe en dood, van hemel en hel. Hulle kan dan my oú, snuifgetrapte grappe weer vertel, en daaroor lag asof dit die eerste keer is dat hulle dit hoor. Hulle kan oor ‘n glasie wyn of koppie koffie luister na Gert Vlok Nel en Coenie de Villiers en Kris Kristofferson en Leonard Cohen en Pink Floyd. Hulle mag bietjie huil, ook. En dan vir mekaar sê. “La gayyim. Op sy lewe. Hamba kahle, ons vriend.” En ons sal so voortleef in hulle harte, geheue en dade.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here